Dit kom nadat Rene Smit, ‘n vrywilliger van die ANC in die Wes-Kaap, ‘n foto van Adolf Hitler op haar Facebook-blad gelaai het met die onderskrif: “Yes, man you were right. I could have killed all the Jews, but I left some of them to tell you why I was killing them.” Die foto is later verwyder.
“Die boodskap wat deur die inskrywing oorgedra word, is dat Jode se natuur so intrinsiek boos is dat dit die moord op ses miljoen Jode deur die Nazi’s geregverdig het,” het Mary Kluk, voorsitter van die SAJBD, in ‘n verklaring gesê.
“Vryheid van uitdrukking is ‘n belangrike demokratiese waarde, maar dit kan nie toegelaat word om die vorm van haatlike retoriek in te neem teen ander op grond van ras, godsdiens, etnisiteit of enige ander gronde nie.”
Die MRK het bevestig dat daar ‘n klag ingedien is. “Die kommissie het die inskrywing op Twitter gesien en mense het die kommissie gevra om op te tree.”
Die ANC in die Wes-Kaap het hom van Smit en haar Facebook-inskrywing gedistansieer. “Rene Smit is nie ‘n werknemer, beampte of bestuurder van die ANC soos wat deur die DA beweer word nie,” het Cobus Grobler, woordvoerder, gesê.
“Sy is nie eers ‘n lid van die ANC nie maar ‘n ondersteuner wat vrywilliglik baie humanitêre werk doen. Die inskrywing is glad nie verteenwoordigend van die ANC se standpunt oor die konflik in Palestina en Israel nie.”
Lees ook:
Woede oor ANC-vrywilliger se uitlating