Klagtes ingedien om mynaansoek by wildtuin te stuit

Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Laeveld, Lambert de Klerk, AfriForum se hoof van omgewingsake, en Cindy Beson, hoof van die Marlothpark-belastingbetalersvereniging.

Die burgerregteorganisasie AfriForum het Woensdag sy veldtog teen die beoogde steenkoolmyn naby die Nasionale Krugerwildtuin verskerp ná nog beweerde vergrype deur Singo Consulting (Edms.) Bpk.

AfriForum het vandag ’n strafregtelike klagte by die Komatipoort-polisiestasie ingedien nadat dit aan die lig gekom het dat Singo Consulting na bewering bedrog in die vorm van plagiaat in hul omgewingsimpakstudie gepleeg het. Dít volg nadat dit onder die organisasie se aandag gebring is dat die maatskappy se verslag woord vir woord met omgewingsimpakstudies van ander omgewingskonsultante ooreenstem.

AfriForum het die omgewingsimpakstudie eers ontvang nadat die organisasie se regspan ’n skrywe aan Singo Consulting en Manzolwandle Investments (Edms.) Bpk. gestuur het – dit ondanks die feit dat die organisasie as ’n belanghebbende geregistreer is. Die burgerregteorganisasie het ook vandag kommentaar op die omgewingsimpakstudie – wat onvolledig is – ingedien.

AfriForum se regspan gaan ook klagtes by die betrokke rade indien waar Singo Consulting geregistreer en waarby dit geakkrediteer is, aangesien dié maatskappy oneties optree en strafregtelike oortredings gepleeg het.

Lambert de Klerk, hoof van omgewingsake by AfriForum, sê dit het onder die organisasie se aandag gekom dat dié maatskappye na bewering bedrog gepleeg het. “Ek glo ’n indringende ondersoek sal nog meer ongerymdhede aan die lig bring. Ons is tot op hede nie werklik ingelig oor die gebeure nie en die prosesse wat gevolg word, is gebrekkig. AfriForum het om uitstel gevra om hul kommentaar in te dien, maar dié versoek het op dowe ore geval.”

Volgens De Klerk het die organisasie ook ondersoek ingestel om te sien waar die twee partye se geregistreerde kantore geleë is. Die een geregistreerde adres wat in die verslag aangedui word, is egter ’n oop stuk veld. “Die vraag wat gevra moet word – ongeag die ongerymdhede wat daar reeds is – is hoe só ’n mynmaatskappy om ’n mynlisensie kan aansoek doen as jy nie eens hul kantoor kan besoek nie.”

Manzolwandle Investments wil die steenkoolmyn oor ’n gebied van 18 000 hektaar digby die Krugerwildtuin begin. Dit hou enorme nadelige en vernietigende gevolge vir die onmiddellike omgewing, die Krokodilrivier en ander waterbronne, natuurreservate, wildlewe, die padnetwerk in Mpumalanga en landbouaktiwiteite in. Mpumalanga as toeristebestemming kan ook ekonomies in duie stort as daar met onwettige mynbedrywighede voortgegaan word, meen De Klerk.

De Klerk het ook in ’n vorige verklaring gewys op ’n onlangse uitspraak van die appèlhof teen die departemente van omgewingsake en minerale hulpbronne se goedkeuring dat Atha-Africa Ventures (Edms.) Bpk. met ’n steenkoolmyn in die Mabola-gebied in Mpumalanga voortgaan. Die departemente het dié aansoek stil-stil goedgekeur, terwyl die gebied ’n geproklameerde bewaringsgebied is. Die hof het bevind dat die ministers nie deursigtig was nie en die besluit oorhaastig geneem het.

Dit blyk dat daar al meer sulke vergrype in die land voorkom en AfriForum sal nie toekyk hoe onwettige mynboubedrywighede die land verwoes nie, sê De Klerk.

Die organisasie het intussen sy #BewaarOnsNatuur-veldtog van stapel gestuur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Kerneels ·

“Bad things happen when good people do nothing”
Dankie Afriforum

Thinus ·

Wat gaan van al die werkende huishulpe word en tuinskeppers wat tans n lewe maak in gastehuise en vakansieplekke by Marloth as daar ‘n myn is, wie in die lewe sal tussen n klomp trokke en steenkool wil gaan diere kyk ooit weer. Moet ons nie liewer ‘n skoner, groen omgewing skep as mog meer stof en roet nie? Dankie vir Maroela se skerp oë en nie swyg nie beleid!

Ronell ·

Dankie , dankie dankie dankie dankie AGRIFORUM !!!!!!!!!!!

Dries ·

Mag die myn nooit daar begin nie en ons natuur lewe paradysse belange voorop gestel word.

De Villiers ·

Steenkoolmyne, onder andere, dra grootliks by tot die besoedeling van die lug in die mees lugbesoedelde area ter wêreld, naamlik in die Witbank-omgewing. Dis grootliks omdat die regering nie na alternatiewe, volhoubare maniere soek nie. Vra enige hoëvelder, en hy sal jou vertel dat sy sinusse sommer weer opgaan sodra hy in die laeveld kom.
Dan dra myne verder negatief by tot waterbesoedeling en verhoogde swaarmotor-verkeer wat lei tot vernietiging van paaie, ń verhoging in die padongeluksyfer en omgewingsgeraas. Daar is oorgenoeg bewyse van die gevolge wat stakings by myne inhou, soos die gemeenskap se veiligheid, vandaliseer van eiendom en paaie, brandstigting en totale anargie. Daarom, beveg hierdie saak enduit, Afriforum. Dankie dat julle dit op die hart dra. Jul het my ondersteuning.

Bossie ·

Dankie Cindy. Jy baklei baie hard vir reg en geregtigheid vir Marloth Park. Dankie dat jy jou hart en siel gee vir die omgewing en al Marloth, en omgewing, se inwoners en werknemers. Sonder jou en jou regspan, en ander, sou Marloth Park, die Kruger Nasionale Park en omgewing, ten gronde gegaan het. Dankie aan ALMAL wat hierdie poging ondersteun. Dankie Afriforum, dankie Carte Blanche. Sonder jul ondersteuning sou die stryd baie moeilik gewees het. Ons waardeer almal betrokke werklik opreg.

Ruiklont ·

Weereens wel gedaan Afriforum, ons is dankbaar en trots op jul steun gelewer aan Suid Afrika en die gemeenskap

Koos ·

Dit gaan net oor self verryking van hoë ANC lede en niks van die mense onder hulle nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.