Klein rooi spinnekoppie dalk nuwe spesie

(Foto: Andrew Baxter.)

Net toe ʼn mens dink jy het nou alles gesien, lewer 2020 die ontdekking van moontlik ‘n hele nuwe spinnekopspesie in die Tafelberg Nasionale Park in Kaapstad op.

Die bloedrooi spinnekoppie, wat aanvanklik die Rooi Knopie gedoop is, het die wêreld se spinnekopkenners sedert die begin van Julie behoorlik aan die gons oor die kwessie of dit ʼn hele nuwe spesie is terwyl dit ʼn lang klassifikasieproses ondergaan.

Dr. Andrew Baxter, ʼn ekoloog van Kaapstad wat hom bykans daagliks iewers op Tafelberg bevind, het die eerste spinnekop van dié soort op ʼn hoogte van 500 m tot 800 m op die westelike hellings van Tafelberg onder klam fynbos opgemerk.

“Ek kon nog self net twee verslae van soortgelyke spinnekoppe vind, een in Knysna en die ander een in KwaZulu-Natal. Maar dit is die ding van spinnekoppe, ʼn mens moet hulle behoorlik onder ʼn mikroskoop bestudeer om die verskille raak te sien, jy kan nie bloot na ou selfoonfoto’s van vyf jaar gelede kyk nie,” het Baxter aan Maroela Media gesê.

Hy het by die Spinnekopklub van Suid-Afrika gaan kers opsteek oor die rooi spinnekop omdat hy dit nie dadelik self kon identifiseer nie. Die klublede het vinnig gesê hulle is nie seker watter spesie dit is nie, maar glo wel dit kan ʼn nuwe vorm van Theridiidae wees wat aan dieselfde geslag van Cyatholipidae-familie behoort.

Die klub het Baxter gevra om ʼn lewende mannetjie en wyfie te vind wat kenners van nader kan bestudeer om sekerheid te kry.

(Foto: Andrew Baxter.)

Baxter meen egter aragnofobe hoef nie snags wakker te lê oor die spinnekop nie, dit is slegs 1 cm groot. En is dit giftig? “Dit is die eerste vraag wat almal altyd vra, en ek moet eerlik sê, ek weet ongelukkig glad nie. Ek sal wel enige vrywilligers verwelkom wat bereid is om vir my uit te vind,” spot hy.

Op ʼn veel ernstiger noot sê hy dat ʼn knopiespinnekop in elke geval nie so giftig is soos wat die meeste mense dink nie. “Sowat 98% van alle spinnekopbyte word in die eerste plek verkeerd geïdentifiseer.”

Intussen het die kenners van die Spinnekopklub besluit om die spinnekoppie die aarbei-theridiid, of aarbeiknopie te doop maar maan dat dit waarskynlik nie dieselfde spesie as ʼn knopiespinnekop is nie.

Baxter meen hierdie ontdekking saam met die nuwe soort biesieplant wat ook in die Tokai-woud gevind is, dui net op die asemrowende biodiversiteit van die fynbosplantestreek.

“Ons ontdek nog gereeld nuwe plante en insekte hier, en daar kan nog talle spesies in dié streek wees wat nog nie beskryf is nie.”

Hy reken mense het dalk ʼn morbiede fassinasie met, of selfs vrees vir spinnekoppe, maar die spesie is net so belangrik vir ʼn enige gesonde ekologiese stelsel as bye omdat hulle ook help met bestuiwing en plaagbeheer.

Baxter het gesê dat indien daar vasgestel word dat hierdie wel ʼn nuwe soort spinnekopspesie sou wees, die benaming van die spinnekop aan die Wêreldnatuurfonds (WWF) Suid-Afrika geskenk sal word. Die benoeming van die spinnekop kan dan opgeveil word en die opbrengste daarvan kan gebruik word om natuurbewaring te bevorder.

“Ek het die WWF al voorheen met geldinsamelingsprojekte gehelp en ʼn paar jaar gelede die naamregte van ʼn nuwe fynbosplant in Londen opgeveil wat die WWF gehelp het om ʼn belangrike stuk private eiendom te koop wat nou deel vorm van die Tafelberg Nasionale Park se bewaringslandgoed.

“Hopelik kan hierdie klein rooi karakters dieselfde bewaringsuitslag oplewer,” het Baxter gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

katerinadiekat ·

Oulike rooi spinnekoppie. Maar heel moontlik giftig.

Snowball ·

Pragtig! Dit lyk behoorlik of hy in rooi naellak geval het.

Sylvia ·

Lyk vir my amper soos ‘n rooi-mier wat volop in Suidwes is, het ‘n naam wat mens nie hier kan noem nie, sal seker gedoop word “Rooi Covid” ….

Annette ·

Dis ‘n pragtige spinnekoppie – solank hy ver van my af is ????

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.