Kleinskaalse vissers mag dalk nuwe spesies vang

Argieffoto: Pixabay

Deur Liezl Human, GroundUp

Kleinskaalse vissers in die Wes-Kaap gaan moontlik binnekort toegelaat word om nuwe spesies te vang.

Die departement van bosbou, visserye en die omgewing is tans besig om beleid vir die kleinskaalse vissersektor in die Wes-Kaap te finaliseer en verwelkom glo enige voorstelle om die verskeidenheid van toegelate spesies te vergroot.

Spesies wat tans aan kleinskaalse visvangkoöperasies toegewys is, sluit in die stadium inkvis, Weskus-kreef, seewier, handlyn-stokvis, lynvis, oesters en witmossel in.

Abongile Ngqongwa, adjunkdirekteur van kleinskaalse visserybestuur, het Dinsdag aan die parlement gesê kleinskaalse visvangkoöperasies moet volhoubaar wees.

Volgens Ngqongwa het die meeste hulpbronne afgeneem. Die departement se doelwit is nou om te verseker dat die vissers ondersteun word en kleinskaalse visvangkoöperasies in die Wes-Kaap “operasioneel” is.

Daar word beplan dat sommige spesies met die kommersiële sektor gedeel word. “Dit sal [egter] ’n regverdige proses moet wees wat vorentoe beweeg,” het Ngqongwa gesê.

Altesaam 62 kleinskaalse visvangkoöperasies in die Wes-Kaap is tot dusver by die Kommissie vir Maatskappye en Intellektuele Eiendom geregistreer.

Sogenaamde 15‑jaar-visvangregte is ook in November uiteindelik aan sowat 3 850 kleinskaalse vissers in die Wes-Kaap toegeken.

Die finalisering van hierdie regte is vir etlike jare vertraag nadat die 2016-’19‑regtetoekenning tersyde gestel is en die proses van vooraf begin is. Regte is reeds aan vissers en koöperasies in die Noord- en Oos-Kaap en KwaZulu-Natal toegeken.

Sue Middleton, adjunk-direkteur-generaal van visseryebestuur, het op haar beurt aan die parlement gesê die departement is besig om ’n driejaarprogram van mentors op te stel om koöperasies met sake- en finansiële bestuur te ondersteun.

DA-LP Hannah Shameema Winkler het gevra wat die departement geleer het uit sy gebrekkige proses om visvangregte toe te ken.

Maroela Media het onlangs berig tientalle maatskappye sleep die minister van bosbou, visserye en omgewingsake hof toe nadat dié maatskappye se aansoek om kommersiële visvangregte afgekeur is.

Middleton het in antwoord gesê die proses “werp nie ’n gunstige lig op die departement dat ons voortdurend hierdie massiewe uitdagings moet verduur wanneer dit kom by die toekenning van visvangregte nie”.

EFF-LP Nazier Paulsen het in die parlement gesê dit is belangrik dat mentors die koöperasies bystaan omdat die bestuur van die koöperasies “kompleks” sal wees.

Hierdie berig is oorspronklik op GroundUp geplaas en word met vergunning gebruik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Samuel ·

Dit is hoogtyd dat kleinskaalse vissers ook regverdig behandel word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.