Kleuter uur ná motorkaping gered

(Foto: Gordon’s Bay Security/Facebook)

ʼn Kleuter is die afgelope naweek blitsvinnig van ʼn vermeende ontvoeringsvoorval gered nadat alle beskikbare wetstoepassingsowerhede inderhaas na die gekaapte motor, waarmee boosdoeners met die kind weggery het, gesoek het.

Die veiligheidsmaatskappy Gordon’s Bay Security (GBSEC) het Vrydagmiddag om 15:20 ʼn oproep ontvang dat ʼn Avanza buite ʼn skool in Grabouw in die Wes-Kaap gekaap is – boonop met ʼn kleuter nog op die agtersitplek.

Die Gordonsbaai- en Grabouw-polisie het alle beskikbare eenhede gewaarsku om op die uitkyk te wees vir dié motor.

“Alle hel het losgebars,” het Heyns de Waal, bedryfshoof van GBSEC, in ʼn Facebook-plasing wat die gebeure op dié dag uiteensit, gesê.

“Elke beskikbare en selfs onbeskikbare polisie-, sekuriteit-, verkeerspolisie- en metropolisievoertuig, buurtwag en plaaswag is geaktiveer om te help om die motor op te spoor.”

Die motor het in die rigting van Hermanus beweeg en GBSEC was genoop om hul soektog tydelik te staak, aangesien die motor nie meer in hul omgewing beweeg het nie

“Al wat ons kon doen was om ʼn stille gebed vir die kind op te sê, aan sy ouers te dink en aan ons kollegas te dink wat die soektog uitvoer,” sê De Waal.

Om 15:45 het daar egter ʼn dringende oproep deurgekom wat sê dat die gekaapte motor met ʼn opsporingstoestel toegerus is en dat die motor in die rigting van Kleinmond beweeg, moontlik op pad na Bettiesbaai of Gordonsbaai.

“ʼn Netwerk van georganiseerde chaos het losgebars en ʼn waarskuwing vanuit Overberg het bevestig wat ons sopas gehoor het,” sê hy.

Noodreaksieplanne is binne sekondes geaktiveer en die polisie in Gordonsbaai se blitspatrollie, sy honde-eenheid, asook die metropolisie en verskeie opsporingsvoertuie is ontbied om op strategiese punte op die R44 te wag.

Die reddingspoging

(Foto: Gordon’s Bay Security/Facebook)

ʼn GBSEC-opsporingsvoertuig, wat reeds op die R44 was, het die gekaapte voertuig se bewegings na al die owerhede herlei, terwyl planne beraam is om die voertuig buite die dorp te onderskep en by ʼn voorafbepaalde plek voor te keer, om ʼn moontlike motorongeluk te verhoed.

“Die kind se veiligheid was in ons almal se gedagtes regdeur die beplanningsfase.”

ʼn Ongemerkte GBSEC-opsporingsvoertuig is uitgestuur om agter die Avanza in te val, sy bewegings deur te gee en hom van agter te blokkeer wanneer die tyd sou kom om die motorbestuurder aan te keer.

Om 16:10 het die bestuurder van die ongemerkte voertuig sy oë op die gekaapte motor gehad en hy het in posisie geval.

Terwyl die Avanza se bewegings deurgegee is, het owerhede ʼn padblokkade opgestel en elke lid ingelig oor sy rol. “Almal het geweet wie doen wat en wie gryp die kind, ongeag wat om hom aangaan.”

Om die laaste draai op die R44 het die Avanza tot stilstand gekom en beamptes het ingespring om die deur van die motor oop te forseer. Die verdagte het op die grond neergeval en lede van die GBSEC het die kind gegryp en na veiligheid gehardloop.

Die toneel is deur polisielede en lede van GBSEC beveilig, terwyl die kind na die Gordonsbaai-polisiestasie geneem is.

“ʼn Slagofferondersteuningskamer is vir die kind voorberei, met vars doeke en skoon klere wat wag. Die tweejarige seuntjie is deeglik deur paramedici ondersoek, waarna die oproep gemaak is dat die kind ongedeerd gevind is,” sê De Waal.

Polisielede van Overberg en die honde-eenheid het op die polisiestasie toegesak om te bevestig dat die kind veilig en ongedeerd is.

“Soos ʼn Switserse horlosie het ons veiligheids- en polisiedienste saamgewerk soos hul opgelei is om te doen – van die kleinste rat tot die grootste hand.”

ʼn 27-jarige man is in hegtenis geneem vir die kaping en gepoogde ontvoering van die kind.

“Ek wil dankie sê aan elke lid, eenheid, organisasie en beheerkamer vir hul hand in die red van hierdie kind,” sê De Waal.

(Foto: Gordon’s Bay Security/Facebook)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

24 Kommentare

Di ·

Dankie aan elkeen wat deel was hiervan, julle het ‘n uitstekend taak verrig. DIS hoe daar eintlik in ons land opgetree moet word! Hier in Gauteng is GEEN belangstelling nie – CRIME Seevier hier en kriminele het oorgeneem

Swerwer ·

Wonderlik! Duisend dankies aan elkeen wat betrokke was om die kind op te spoor. Dankie aan ons Hemelse Vader vir mense wat nog omgee en dat kindjie lief vieilig en ongedeerd is.

JohanR ·

Wonder of die gemors die kind soos die hond sommer net soe uit die kar sou gegooi het?Nee wat is tyd dat die doodstraf terug kom. Dit is die enigste straf wat miskien misdaad in SA sal min of meer kan stopsit!

miche ·

Ek was lank laas só trots en so bly. En verlig ( dat dinge uitgewerk het).

Hettie ·

Ek is baie trots die die betrokkenis se optrede. Wel gedaan.

miche ·

Dankie, de Waal !
Ek ken jou nie maar
uit die berig blyk dit duidelik dat jy omgee vir almal betrokke, ook jou kollegas.
En die feit dat jy jou kollegas bedank en die eer vir hul gee, vertel baie van ‘n persoon se karakter. Jy maak ons trots!

Tokkel ·

Dankie Vader dat u hierdie kind bewaar het en dankie aan elkeen wat gehelp het. As ons saamstaan in SA maak ons ‘n beter land wat kan werk.

Doors ·

Uitstekende werk!! Wel gedaan, julle kan werklik trots op julleself wees!!!

Linda ·

In die Helderberg Kom is GBSec bekend vir sy uitmutende diens wat hy aan al sy kliënte bied. Welgedaan!!

Yolande ·

Dankie aan almall wat gehelp het ,dis mos nou hoe dit moet werk. Mooi so manne en dames!!

Tanya ·

Fantasties! Dis hoe ek Polisie diens ken! Maar ongelukkig is daar mos ten minstens 1-5 of meer lede in elke Polisie Stasie wat of sy vinger in die geld pie het of een of ander rasse probleem voorgooi….. so wat beteken dit? Diens is uit die venster, die polisie gee nie om nie wat daar is gedurig ‘n probleem! So wat ek eintlik wil sê is dit lekker om ‘n brokkie goeie nuus te lees omtrent die polisie.

absoluut ·

En die privaat sekuriteitsmaatskappye wat die polisie ore aansit as dit by hulle eie werk kom,
glo dit is van die ouer nog goeie lede(polisie) wat eerder aansluit by die privaat maatskappye

JM ·

Bravo! Dit wys wat gedoen kan word as mense saamstaan. Dankie Here!

Hoop hierdie ontvoerder word swaar gestraf!!

Yvonne ·

Sjo….. dit klink mos vir my hoe dit moet wees…dankbaar…wel gedaan!!!!

Surfer ·

Dankie Wes-kaap Polisie en sekuriteit. In die Oos-kaap was dit “tickets” vir die kind.

Miena ·

RESPEK en WONDERLIK. is dadelik die enigste woorde wat by my kon opkom.

Carol ·

Dankie aan die manne wat soos EEN opgetree het en n kind se lewe gered is. Wys net as die KOP of die top van besigheid WEET wat om te doen filter dit reg deur en tot op voersool vlak en tree elkeen REG op. TROTS op julle EENHEID.

Santjie van Soendal ·

Dié optrede van almal wat die kind veilig opgespoor het, is prysenswaardig….n verhaal van hoop…goeie nuus te midde van die slegte. Die Here se Hand was oor die kind. Hy het hom bewaar…en almal wat gehelp het, instrumente in Sy Hand.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.