Kleuter verskeur toe hond uit erf ontsnap

Foto ter illustrasie. (Foto: Pixabay)

ʼn 3-jarige dogtertjie van die Oos-Kaap is deur ʼn pitbull verskeur terwyl sy saam met haar maatjies in die straat gespeel het.

Die hond het Sondagmiddag deur ʼn gebreekte hek uit sy eienaars se erf ontsnap en die meisie aangeval.

“Na bewering het Simamkele Kovu (3) omstreeks 16:20 in Msengana-straat naby haar huis gespeel het, toe die hond op haar afgestorm het. Die hond is verskeie kere deur ʼn inwoner met ʼn skerp voorwerp gesteek in ʼn poging om die meisie uit die hond se kake te bevry,” het Priscilla Naidu, woordvoerder van polisie in die Oos-Kaap, gesê. “Die meisie het verskeie bytwonde aan haar gesig en nek opgedoen en op die toneel aan haar wonde beswyk.”

Volgens die polisie se inligting behoort die hond aan ʼn tiener wat in dieselfde straat woon, maar tans weg is op vakansie.

Die polisie ondersoek die saak en het inwoners gemaan om seker te maak hul honde word behoorlik toegemaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.