Kliprand-gemeenskap nou ‘Covid-vry’

Dit blyk dat die klein plattelandse gemeenskap van Kliprand in Namakwaland weer op die been is nadat dié gemeenskap onlangs in ’n Covid-19-krisis gedompel was. (Foto: Facebook / Pedro Aden Oktober)

Dit blyk dat die klein plattelandse gemeenskap van Kliprand in Namakwaland weer op die been is nadat dié gemeenskap onlangs in ’n Covid-19-krisis gedompel was.

Maroela Media het onlangs berig dat die hele dorp onder kwarantyn was nadat 22 van sy 250 inwoners positief vir die koronavirus getoets en drie vermoedelik weens Covid-19-verwante komplikasies gesterf het.

Boonop was die Kaap-Agri-tak, die plaaslike sopkombuis én die enigste winkel op die dorp om dié rede gesluit en moes die gemeenskap op kos- en medisyneskenkings uit omliggende gemeenskappe staatmaak.

Die naaste dorp is sowat 80 km weg en openbare vervoer was gedurende hierdie tydperk uiters beperk aangesien daar geen taxi’s tussen die dorpe gery het nie. Om by afgeleë Kliprand uit te kom moet daar ook ’n stuk grondpad van sowat 60 km aangedurf word.

Ds. Pedro Oktober van die VGK Vredendal, wat nou by dié gemeenskap betrokke is, sê daar is geen nuwe koronavirusinfeksie of ‑sterftes aangemeld sedert die dorp se kwarantyntydperk verlede Saterdag tot ’n einde gekom het nie.

Volgens Oktober is ander bedrywighede ook sedertdien hervat. Dít is ook deur Arrie Cloete, skoolhoof van die Primêre Skool Nuwefontein op die dorp, bevestig.

“Die gemoed van die mense is opgelig, vol dankbaarheid en vreugde.”

Oktober sê daar is ook verlede Saterdagaand ’n gebedsbyeenkoms met kerse op die dorp gehou.

Daar is verlede Saterdagaand ’n gebedsbyeenkoms met kerse op die dorp gehou. (Foto: Verskaf / Pedro Oktober)

“Dit was gevolg deur lofgesange en gebede om aan God die eer te gee vir genesing en herstel.

“Die gemeenskap is terdeë daarvan bewus dat daar nog steeds versigtig gehandel moet word, in die lig van die Delta-variant wat nou in ons land amok maak. Daar sal streng by alle gewysigde vlak 4-inperkingsmaatreëls gehou moet word.”

Volgens Oktober lê daar steeds ’n emosionele pad vir die gemeenskap voor vanweë die trauma wat hulle beleef het om nie die begrafnis van hulle geliefdes te kon bywoon nie.

“Ek glo egter hulle waardering vir mekaar het verdiep en dat verhoudings en bande onder die lede van gemeenskap versterk is.”

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Diana ·

Uitstekende besluit gewees van die hele gemeenskap. Weereens ‘n voorbeeld wat vermag kan word as alger saamstaan. Ons Suid Afrikaners is maar spesiaal.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.