Kollig op bewaring van Heldeakker geplaas

Dirk Hanekom oud-leerling van CVO Skool Pretoria bring ook sy kant. (Foto: Verskaf)

Die Heldeakker Samewerkingsinisiatief het al meer as tien instansies verenig met een doel: om die Heldeakker in Pretoria te bewaar en tot sy vorige glorie te herstel.

Die Heldeakker is ʼn gedeelte van die ou Pretoria-kerkhof, wat in die destydse Kerkstraat-Wes in Pretoria geleë is. Die begraafplaas is in 1867 geopen en talle openbare figure en bekende Suid-Afrikaners, soos Andries Pretorius, Paul Kruger en Hendrik Verwoerd, is daar begrawe.

Dié samewerkingsinisiatief het Saterdag met groot trots afgeskop met ʼn skoonmaakaksie en opedag vir die publiek.

Instansies, waaronder die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK), die Erfenisstigting (ES), die Voortrekkermonument (VTM), die AfriForum Noord-van-die-Berg-tak, Solidariteit Helpende Hand, die Kruger-genootskap, die Rapportryers, die Genootskap vir die Handhawing van Afrikaans (GHA), die CVO Skool Pretoria en die Laerskool Pierneef, asook Quentin Meyer, opsigter van die Heldeakker en voorsitter van die FAK se Noord-van-die-berg-kultuurnetwerk, het Saterdag byeengekom vir die eerste gesamentlike skoonmaaksessie van vele.

Laerskool Pierneef het moeite gedoen om Pierneef se graf blink te poets. (Foto: Verskaf)

“Met vandag se veiligheidskwessies in Suid-Afrika, is dit te verstane hoekom ons erfenisbakens agter slot en grendel toegesluit word – dit is al hoe dit nog veilig gehou kan word,” sê Barry Müller, kultuurkoördineerder van die FAK in die noordelike provinsies.

“Dit neem weg van die doel van daardie erfenisbaken en versteek ons geskiedenis. ʼn Dag soos vandag is eintlik só belangrik, want nie net gee dit aan almal die geleentheid om herinner te word aan hierdie belangrike geskiedkundige figure nie, maar dit skep ook die geleentheid vir die jeug om hul identiteit te ontdek en van hul geskiedenis te leer.”

Talle ondersteuners het Saterdag die Heldeakker binnegestroom. “Wat ʼn vreugde om soveel ondersteuners by die eerste byeenkoms te kon verwelkom, nie net volwassenes nie, maar kinders ook.”

Norman Halder van die Genootskap vir die Handhawing van Afrikaans. (Foto: Verskaf)

Müller verduidelik die Heldeakker Samewerkingsinisiatief sal elke eerste Saterdag van die maand die Heldeakker oopstel vir die publiek. Só kan die publiek die historiese terrein besoek, maar ook self betrokke raak met erfenisbewaring.

Tydens hierdie publieke besoekersdae sal die instellings ook by die Heldeakker betrokke wees met die skoonmaak en opknapping van die terrein. Die volgende opedag en skoonmaakaksie vind op Saterdag 7 Oktober vanjaar plaas.

  • Blinkgepoetste grafte, gesnyde gras en skoon paadjies – die toekoms is blink. Jy kan ook ʼn verskil maak in Suid-Afrika. Raak betrokke by die FAK se kultuurnetwerke deur met Barry Müller in kontak te kom by [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Andries Pretorius en Paul Kruger was Boere, en trotse burgers van die ZAR. G’n Suid Afrikaners nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.