Komitee bekend wat oor OB se lot besluit

Die Openbare Beskermer, adv. Busisiwe Mkhwebane. (Foto: Twitter)

Die speaker van die Nasionale Vergadering (NV), Thandi Modise, het Woensdagaand die name ontvang van parlementslede wat sal ondersoek instel of daar gronde is om die openbare beskermer (OB), adv. Busisiwe Mkhwebane, uit haar amp te verwyder.

Luidens ’n verklaring uitgereik deur die parlement verteenwoordig die 26 lede wat as komitee aangestel is die 14 politieke partye in die NV.

Altesaam 11 lede sal stemgeregtigde lede van die komitee wees en nóg 15 sal nie-stemgeregtigde lede wees.

Partye het tot 31 Maart tyd gehad om name vir die komitee voor te lê.

Die ANC sal verteenwoordig word deur Doris Dlakude, Qubudile Dyantyi, Tina Joemat-Pettersson, Mondli Gungubele, Judu Hermans en Bekizwe Nkosi.

Julius Malema sal die EFF verteenwoordig as stemgeregtigde.

Annelie Lotriet en Leon Schreiber sal as DA-lede die komitee verteenwoordig. Cornelius Mulder sal die VF Plus as stemgeregtigde verteenwoordig.

Die NV het tydens sy sitting op 16 Maart ten gunste van die aanstel van die komitee gestem, nadat hy die verslag van ʼn onafhanklike paneel van kundiges aanvaar het wat aanbeveel dat só ʼn komitee aangestel word.

Die komitee moet voorts ondersoek instel of daar genoeg inligting is wat daarop dui dat Mkhwebane onbevoeg is vir haar pos en sodoende uit haar amp verwyder moet word.

Nadat die ondersoek afgehandel is, moet daar ’n verslag by die NV ingedien word. Dié verslag moet bevindinge, voorstelle en redes vir bevindinge voorlê.

Die komitee sal tydens sy eerste vergadering sy voorsitter kies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Hennie ·

Dinge vorder so stadig, die OB gaan aftree in haar pos. #USELESSANC

Pieter J ·

Ek dink Julius Malema gaan sy uiterste bes probeer om hierdie komitee te ontwrig sodat die OB beskerm kan word.

Grassie ·

Wat is die nut van ‘n komitee waar die meerderheid lede nie stemreg het nie? hulle sukkel nou al ongeveer 3 jaar om van ‘n onbevoegde ampteneer ontslae te raak. Dit is komitee op komitee en het ook in die parlement gedraai. Daar sal seker later weer ‘n komitee aangestel word om die huidige komitee se verslag te evalueer. Daarna begin die hofgedinge en appelle. Intussen trek die onbevoegde amptenaar ‘n vet salaris en ander voordele van die soustrein. Trieste belastingbetalers, trieste!

Mariana ·

Julius Malema op komitee?????? Is hulle dan nou stapelgek, hy kan nie soos normale mens redeneer nie, hy gaan weer amok maak en sy vriendin beskerm. Nee wat dit gaan weer tydmors wees en geen besluit gaan kom nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.