Komitee wil Eskom met sy probleme help

Argieffoto: GCIS

Die parlement se staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor) sal ʼn gedetailleerde verslag oor sy oorsigbesoek aan Eskom se Medupi- en Kusile-kragstasie opstel en by die parlement indien.

Die komitee het Dinsdag die Medupi-kragstasie in Lephalale (Ellisras) besoek en Woensdag die Medpui-kragstasie in eMalahleni (Witbank) waar daar met die bestuur en werknemers in gesprek getree is.

Skoor het daarna Donderdagoggend met Eskom se raad en bestuur vergader oor kwessies wat tydens die oorsigbesoek opgeduik het.

Mkhuleko Hlengwa, voorsitter van Skoor, het gesê die komitee het hierdie besoeke onderneem om begrip te kry vir die probleme wat gelei het tot die landwye kragonderbrekings vroeër vanjaar.

Die komitee wou ook meer inligting kry oor die koste by hierdie kragstasies wat aansienlik toegeneem het.

“Albei uitdagings het bygedra tot die swak prestasie van Eskom die afgelope paar jaar en het ʼn negatiewe impak op die land gehad.”

Volgens Hlengwa het Skoor hom daartoe verbind om Eskom noukeurig te monitor terwyl die kragvoorsiener poog om sy probleme en korrupsie uit te wis.

“In ooreenstemming met Skoor se mandaat sal die komitee ook Eskom se finansiële state behoorlik onder die loep neem wanneer dit aan die parlement voorgelê word.”

Skoor sal voortgaan om kontak met Eskom te behou ten einde oplossings vir die kragvoorsiener se probleme te probeer kry.

Eskom het in 2017/18 ʼn verlies van R2,3 miljard gely, onreëlmatige besteding van R19,6 miljard is aangeteken en die kragvoorsiener se skuld beloop R380 miljard.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

Frm ·

Dankie tog nou kan ons ontspan. Skoor gaan nou skoorsoek totdat die probleem opgelos is.

Cherokee ·

…en die duur karre verander na Kia’s sowel as kragpunte in Soweto en ander woonbuurtes van kragmeters voorsien en dit monitor. ‘Swak prestasie van Eskom die afgelope paar jaar’ laat dit klink asof hulle beter gedoen het vorige jare.

Arie ·

Niks wat aan die staat behoort werk nie maar hulle wil in beheer van alles wees, met vertraagde mense in beheer. Is Zimbabwe nou ‘n voorbeeld om te volg?? As mens na ons regering kyk is dit want ons volg hulle voetspore soos zombies

Gert van Wierdapark ·

Met die bestuur en werknemers (nogal) gesels by fluppen duur Medupi ens!! Ek wil nou nie skoor soek nie, maar die blitsbesoek gaan nie verseker dat die terminale Eskom nou skielik weer “lewendig” gaan word en uit die “intensiewe” staats/belastingbetalers se sorg-eenheid op sy eie kan uitstap nie!!! Skoor moet begin by die oorsprong van die probleme by Eskom en al die kaders voor stok en Grendel kry!! Finish en Klaar!!

Koosie ·

KUSILE is in witbank nie Medupi nie … helooo …. maak reg die artikel.

Michael P ·

Die probleem? die komitee is ook n probleem ook onbevoeg so wat wil hulle op los?

Hanna Hoekom ·

Skoor is mos juis mooi getransformeer, dan nie? Klink vir my na net nog n geldmors episode. Almal wat matriek met meer as 30% geslaag het, sal hierdie probleem kan oplos.

Vaalseun ·

Privatisering of opbreek van Eskom in verskillende bedrywe is geen oplossing nie.
Politici dink Eskom is ‘n finansiële probleem want Eskom verkoop elektrisiteit.
Dit is ‘n denkfout.
Eskom vervaardig elektrisiteit (generasie). Solank hy dit effektief en ekonomies kan doen, sal hy elektrisiteit hê om te verkoop. En dit is primêr afhanklik van die kwaliteit van ingenieurswese tydens konstruksie en bedryf.
So, die ingenieurswese moet primêr en deurentyd reg gedoen word, tydens konstruksie en tydens bedryf, anders is daar uiteindelik niks om te verkoop nie.

Eskom sal weer eendag suksesvol wees, maar eers indien dit soos vroeër deur ervare ingenieurs bestuur en bedryf word.

Rekenmeesters en politici speel ‘n ondersteunende rol. Politici dink korttermyn, want wat vanaand of môre op TV of in die nuus oor hulle gesê word, is vir hulle primêr. En hulle wil vir niks aanspreeklik gehou word nie.
Ingenieurs moet langtermyn en volhoubaar dink, want hulle word aanspreeklik gehou vir produksieverliese en bedryfsongelukke. Volhoubare langtermyn beplanning is onaantreklik vir politici, want die suksesse wys heel waarskynlik eers ná die volgende verkiesing, en dit doen niks aan vandag se gewildheidspeilings nie.

Wêreldbank lenings, soos die vir Medupi en Kusile, word aan politici verkoop. So, politici moet pa staan vir die gevolge. Die publiek en die kiesers ly onder die gevolge – hulle belastinggeld verdamp in hoë rente-terugbetalings aan die Wêreldbank, terwyl die vervaardiging/generasie (kragstasies) en verspreiding (transmissie) van elektrisiteit se toerusting foutief ontwerp, bedryf en nie in stand gehou word nie.
Skoor moet vra vir die ingeneurs.

John ·

… onder die loep, ja…. ‘n Komitee van uiterste kundigheid. Van bo die loep: Wat was die verslag van die buitelandse kundiges wat die kragstasies besoek het… teen groot kostes? Lè die bedraggie en verslaggie ook nou knus onder die loep se kooi gebère? Al ons komitees, kommissies en kommuniste gaan hierdie hoogs aangeskrewe landjie, no 8 in die Vat-7-groepie, sy staanplekkie op die map kos.

Hanna Hoekom ·

Skoor is mos juis mooi getransformeer, dan nie? Klink vir my na net nog n geldmors episode. Almal wat matriek met meer as 30% geslaag het, sal hierdie probleem kan oplos.

Suzette Geringer ·

Daar gaan dan seker nog ‘n komitee aangestel word om die komitee te monitor en nog ‘n komitee om die komitee te monitor om seker te maak hulle het komitee 1 gemonitor…..
so vrot als voort.

Gert van Wierdapark ·

Vaalseun jy verdien ‘n Groot Bell’s, en al die Kommie-tees, geniet jul teetjies!!

Hennie ·

Dis soos om ‘n dooie perd te piets met ‘n lat… Useless!

Maljan ·

Die enigste manier qat Eskom uit str…straat sal kom is wanneer elke elektrisiteit gebruiker betaal vir wat hulle gebruik of jy nou R10 koop in Khayelitsha of R10 000 koop in Clifton. Al die kommissies kom die gebruikers wat betaal net meer geld. Ewehandigheid is al wat gaan help. As jy kan betaal kan jy bruik.

Peet ·

100% Vaalseun. Goeie ingenieurs van primêre belang. Probleem is dat huidige ingenieurs nie te vinde is vir die registrasie by Ecsa – wat ‘n voorvereisde was vir ouer garde.
Tensy die sg . kommitee weet wat hulle tedoen staan – nog ‘n mors van skaars geld.

Bertus ·

As Eskom ophou om bonusse uit te betaal en begin konsentreer op die regte probleem sal dinge beter gaan. Hoe kan jy prestasiebonus kry as daar geen prestasie is nie!!??

Michael P ·

Dit is so maklik gee Eskom net terug vir die boere en 2 jaar en dit is weer n winsgewende. besigheid

leser ·

mm, help dit nie as ek ‘n beskrywing probeer regstel nie, kusile kragstasie is by witbank, para. 2.
wat moet ‘n mens doen om ‘n regstelling te wys ??????????????????????????????

Mags ·

Daar is ‘n paar jaar gelede spesifieke voorraad aan Medupi verskaf teen (destydse) waarde van ongeveer R60 miljoen. Die items moes gebruik word, anders verval dit, maar sou baie jare diens gee indien dit gebruik was soos dit moes. Dit is by die 4 jaar later, en hulle het dit nooit opgekoppel nie, dus is dit nou waardeloos en moet vervang word. Dite items word alles ingevoer, en soos die waarde van die rand geval het, gaan dit nou byna dubbel kos om aan te koop. Dus iets wat teen ‘n reeds opgeblaaste prys van R60 miljoen aangekoop was, gaan ons nou by die R150 miljoen (of selfs meer) kos. Daar is vele sulke gevalle. En dan natuurlik mense soos Dames en Molefe wat by ander Eskom takke “weggejaag” is omdat hulle drooggemaak het, maar deur die regte kanale bo uitgekom het, hulself verryk het, en vele ongemagtigde transaksies met o.a. die Guptas gesluit het, is deel van die groot finansiële verknorsing. Maar die grootste van alles, is die feit dat hulle weier om die plakkerskampe, en plekke soos Soweto aan te vat met betalings, aangesien elektrisiteit elke mens se “human Right” is, al is 60% van die inwoners daar onwettige immigrante, en indien iemand doodgeskok word, word Eskom verantwoordelik gehou, al is dit a.g.v. “illigal connections”.. Nee wat daar is nie hoop nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.