Kommer ná soveelste historiese gebou puinhoop word

Die historiese smidswinkel wat ineengestort het (Foto: Verskaf)

Groot kommer heers nadat die derde historiese gebou binne drie maande in Potchefstroom in duie gestort het weens nalatigheid en die gebrek aan instandhouding.

Die geskiedkundige smidswinkel wat deel van die President Pretorius-museumkompleks is, het ʼn week gelede ineengestort. Die gebou is in 1842 opgerig en was een van die eerste geboue in die Potchefstroom-omgewing.

Die burgerregteorganisasie AfriForum eis dat die JB Marks-plaaslike munisipaliteit dringend optree om die gebou te restoureer en die oorblywende mure teen stormskade te beskerm.

“Dit lê ons na aan die hart en ons is bereid om die smidswinkel in vennootskap met die munisipaliteit te red. As ons egter nie sien dat daar erns daarmee gemaak word nie, is ons bereid om stappe te doen om die bewaring daarvan af te dwing,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier-streek.

’n Bars in ’n balk waarop die dak van die smidswinkel rus, is reeds in September opgemerk en onder die munisipaliteit se aandag gebring, maar niks is oënskynlik aan die probleem gedoen nie.

“Die gebou is nou onherstelbaar beskadig,” sê Pretorius.

Lede van AfriForum wou verlede maand al opknappingswerk aan die museumterrein doen, maar het geen terugvoer oor die aanbod ontvang nie.

Die VF Plus en DA het ook hul misnoeë uitgespreek oor die struktuur wat nou al twee dekades lank verwaarloos word.

Dit is een van die oudste geboue in Potchefstroom (Foto: Verskaf)

“Die VF Plus het reeds telkemale in die verlede beroepe op die JB Marks-munisipaliteit gedoen om die rykdom van erfenisgoedere van alle kultuurgemeenskappe in JB Marks na waarde te skat, behoorlik te benut en effektief vir die nageslag te bewaar,” sê Matthys van Tonder, VF Plus-raadslid van die JB Marks-munisipaliteit.

Die gebou is ten spyte van die twee symure wat nog staan, nie in ’n goeie toestand nie.

Die mure van die smidswinkel is tot vensterbankhoogte van klip gebou en die res is van rou stene gebou. Die klipwerk is herwinbaar, maar nie die stene nie. Ná herbouing sal daar dus slegs sowat 40% van die oorspronklike struktuur oorbly.

“Die stabilisering van die oorblywende mure en deskundige restourasiewerk moet dringend onderneem word, anders sal selfs meer van die oorspronklike gebou verlore gaan,” meen Pretorius.

Intussen versoek die DA ʼn oudit van alle Noordwes-erfenisterreine. Die party sê hy sal by al die erfenisterreine in die provinsie toesig hou om hul toestand en die begrotings wat vir instandhouding en bewaring toegeken is, te kontroleer.

Die ineenstorting van die smidswinkel volg nadat die 102 jaar oue Potchefstroomse treinstasie verlede maand in ’n brand verwoes is.

Heinricha Hodgson, DA-wykslid van die JB Marks-munisipaliteit, sê die jarelange verwaarlosing en gebrek aan instandhouding het die gevaar van brand en ineenstorting verhoog.

Die Potchefstroomse Landboukollege, spesifiek die Selbourne Hall en Administrasiegebou (Foto: Verskaf)

In Julie is die Generaalshuis in Witrand, wat gebou is om die offisiere in bevel van die Britse garnisoen wat ná die Anglo-Boereoorlog in Potchefstroom gestasioneer was, te akkommodeer, ná jare se verwaarlosing ook in ʼn brand verwoes.

Nadat dié Edwardiaanse gebou ontruim is, is die erfenisterrein ondanks verskeie voorstelle om die perseel deur ondernemings te herbenut, vervalle gelaat en verwaarloos.

“Die brand kon voorkom word aangesien verskeie versoeke gerig is om die gebied te beveilig en die toegegroeide veld rondom die eiendom skoon te maak, maar die munisipaliteit het nie op die versoeke reageer nie. Dit is ʼn groot verlies vir Potchefstroom se erfenis,” sê Hodgson.

Verder gaan die erfenisterrein van die Potchefstroomse Landboukollege, spesifiek die Selbourne Hall en Administrasiegebou, ook agteruit. In 1912 is die Afrikander Cattle Breeders Society in die Selbourne Hall gestig.

“Hierdie erfenisterrein het ʼn deurslaggewende rol in landbounavorsing en -opleiding gespeel. In 2003 het wyle minister Edna Molewa die kollege as die grootste navorsings- en opleidingsentrum vir landbou op die vasteland beskryf. Die erfenisterrein het ook die slagoffer geword van die verwydering van antieke toebehore.”

Om alles te kroon is Cyril Hendry, die direkteur verantwoordelik vir kultuur en bewaring by die munisipaliteit, verlede week deur die Valke in hegtenis geneem vir bedrog.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

JohanR ·

Is LootFreely Huis in Johannesburg nie ook ‘n historiese gebou nou? Binne in die huis kan jy baie ouhede en fossiele vind!

Persheks Adri ·

Briljant gestel Johan daar’s beslis baie ou goed!

Blikke ·

Gaan kyk maar hoe lyk die weermag basis in Potch daar ook geen instandhouding nie…..lyk my “dis hoe ons rol” Verlore stryd….geldjies beter in die sak as om onderhoud te doen.

Pietertjie ·

Dis maar weereens ‘n bewys dat diegene aan die stuur van sake nie ‘n noemenswaardige geskiedkundige verlede het nie. Daarom het ander se geskiedenis vir hulle geen betekenis nie.

Sarel ·

Twee jaar al bewus van verwaarlosing. Hoekom het die VFPlus nie opgetre nie.

Anoniem ·

Ek wou kommentaar lewer, maar dit gaan in ‘n hengse storie ontaard.

Ferdi ·

Kultuurorganisasies en gemeenskappe sal self moet inspring en hierdie skatte bewaar. Kyk maar net wat is reggekry met die Voortrekkermonument.

Baardman ·

Daar sit mos DA en VF lede op die raad ook. Waarom wag tot als ineen stort en dan misnoë uitspreek. Het julle absoluut geen seggenskap . Doen iets , of trek julle ook maar net salaris.

Hercules ·

the cANCerous Govt. was given power and the it became corrupt!! SA have patients bleeding to death on hospital floors while nurses have a tea break!! SA have a public roads system which was the best in Africa, now hardly suitable for any vehicle and we have trains constantly set alight….

numerous buildings, schools, universities and municipality offices are burnt. Through YOUR quota system in sport you made us laughing stock worldwide.

the cANCerous Govt. were handed a civil aviation company which was one of the oldest and best! They were handed SABC, SAA, Denel, the Post Office, Eskom, SARS, Transnet, Iscor, all functional and profitable. They bankrupted them, sold them off to unknown overseas people, looted them and ran them ALL straight into the ground. Everything YOU received was destroyed, corrupted, bankrupted and compromised.

the only one YOU tried to set up in 27 years became a failure–such as VBS Bank. And now YOU claim that white arrogance is the reason!!

Pita ·

Die geskiedenis herhaal homself, ten koste van onvervangbare erfenis. In die 1974 het die Hervormde Kerk die historiese Van der Hoff-pastorie aan die munisipaliteit verkoop sodat dit gesloop kon word om ruimte te maak vir ‘n pad. Dit was die oudste pastorie noord van die Vaalrivier. Ds. Dirk van der Hoff, ontwerper van die Vierkleur, het van 1853 af daar gewoon. (Hy was saam met Pres. M.W. Pretorius betrokke by die opstel van die Republiek se grondwet).
Bestaan die huis nog waar die weduwee van Piet Retief op die hoek van Berg- en Rivierstrate gewoon het? En die paar huise wat deur Sir Herbert Baker ontwerp is, en talle ander historiese en kulturele erfenisse in die oudste dorp noord van die Vaal?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.