Kommer oor aanlyn plasings by Gautengse skole neem toe

(Argieffoto)

Die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV) het nou ook ʼn klagte by die Openbare Beskermer (OB) aanhangig gemaak oor die Gautengse onderwysdepartement se omstrede aanlyn plasingstelsel. Die VF Plus het die OB reeds gevra om die stelsel te ondersoek.

Die IRR het sy klagte Woensdag in Johannesburg by die OB se kantoor ingedien. Die klagte oor die aanlyn plasingstelsel is een van drie wat die IRV die OB vra om te ondersoek. (Die ander twee klagtes hou verband met onreëlmatige uitgawes van R1,2 miljard wat die departement aangegaan het, en die bekendstelling van ʼn webwerf wat aanlyn toegang tot lesplanne gee.)

Die IRR sê die tallose probleme met plasings is egter die dringendste en dat die berigte oor ouers wat vervaard probeer om plekke in skole vir hul kinders te kry, niks minder as skandelik is nie.

“Die IRV is bekommerd dat die voortgesette wanbestuur van onderwys in Gauteng – Suid-Afrika se rykste provinsie en die hart van die land se ekonomie – ʼn ernstige uitwerking op die geleenthede van die provinsie se kinders gaan hê.

“Die mense van Gauteng verdien beter as die dikwels ongeërgde houding van [Panyaza] Lesufi [LUR vir onderwys in Gauteng] teenoor diegene wat hom bevraagteken of kommer lug oor wat tans in die provinsie se skole aan die gang is,” het die IRV in ʼn verklaring gesê.

Die IRV sê kinders moet die beste moontlike geleenthede gegun word, maar dat ʼn groot vraagteken hang oor die manier waarop onderwys in Gauteng bestuur word.

Die VF Plus het vroeër al gesê die stelsel is ʼn “ideologies gekonseptualiseerde poging” van Lesufi om sy departement se mislukkings te probeer verdoesel.

Panyaza Lesufi. (Foto: Oupa Mokoena/ANA)

“Die belangrikste aspek van die mislukkings is die departement se onvermoë of beplande onwilligheid om sy begroting aan te wend om skole te bou,” het adv. Anton Alberts, VF Plus-leier in Gauteng, gesê.

Ouers moes in Mei aanlyn aansoek doen om plek in Gautengse skole vir gr. 1’s en gr. 8’s.

Die stelsel was uit die staanspoor egter deurspek met probleme en is uit verskeie oorde gekritiseer.

Die probleme het die naweek boonop in geweld oorgegaan toe woedende ouers Sondag die departement se kantore in Johannesburg bestorm en geëis het dat hul kinders onmiddellik geplaas word. Ouers het ook op sosiale media uitgevaar teen die stelsel.

Lesufi het reeds verskeie kere verskoning gevra vir probleme en het gesê ouers se terugvoer sal gebruik word om die stelsel te verbeter.

Sy departement het Donderdagoggend gesê die getal leerders wat nog geplaas moet word, staan in dié stadium op 29 862. Altesaam 134 680 leerders het reeds plek in graad 1-klasse gekry en 115 629 leerders het reeds plek in graad 8-klasse gekry.

Net-net meer as 10% van leerders se ouers het nog nie SMS-aanbiedinge vir plasings ontvang nie, het die departement gesê.

Die departement het reeds sy spertyd vir die afhandeling van plasings tot 30 November verleng.

Melanie Buys, hoof van ontwikkeling by die Skoleondersteuningsentrum (SOS), het gesê dié instelling, tesame met AfriForum, beoog ook om regstappe namens tientalle ouers wat nog nie plasings-SMS’e gekry het nie, teen die departement te begin.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

LK ·

Aan-lyn plasings by skole!!!!!Ja-nee kyk!!! Die hernuwing van voertuig lisensies gaan ook mos nou aanlyn voor aansoek gedoen word. Kan jy jou voorstel?? Doen solank aansoek NOU vir Des 2020 se lisensies. O wee my!!! Jou kind sal ‘n jaar later moet skool toe gaan.

Johan ·

Ek twyfel sterk of die OB enige belangstelling in die aangeleentheid sal toon…

Tienie ·

Hy kan maar net erken hy het gefaal en dan bedank.

Ja………

K P ·

Waar is rassis lesufi nou net sy kommentaar. Ek het geweet n man wat agter rassistiese stories aanhardloop en nie sy werk doen se departement is in groot moeilikheid

Charlie ·

n Uitstaande gefaalde monument vir
Panayasi Lesufi.
Veels geluk Lesufi, mag ander monumente soortgelyke resultate wys.

Basjan ·

Lesufi luister mooi: “Skoenmaker hou jou by jou lees.” Met ander woorde: los die Afrikaanse skole uit en doen die wek waarvoor jy aangestel is!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.