Kommer oor betogings wat matriekeindeksamen ontwrig

(Foto: Maroela Media)

Die raad vir gehalteversekering in algemene onderwys en opleiding, Umalusi, is bekommerd oor die uitwerking wat verskeie betogings in die land op die verloop van die matriekeindeksamen het.

Umalusi sê in ʼn verklaring dat verskeie leerders die skryf van vraestelle misgeloop het en hul vraestelle op ʼn later stadium sal moet skryf – onder meer omdat hulle nie by eksamenlokale kon uitkom nie.

“In Noordwes moes reëlings vir ongeveer 460 leerders getref word, om hulle vir verlore tyd te vergoed. Dít terwyl meer as 50 leerders in Gauteng weens betogings in gemeenskappe nie hul vraestelle kon skryf nie.

“In Mpumalanga kon ongeveer 1 130 leerders nie toegang tot hul eksamensentrums – waar die wiskunde- en die tweede wiskundegeletterheidvraestel geskryf is – verkry nie.”

Maroela Media het vroeër berig dat betogings in sommige provinsies ʼn bedreiging inhou vir matrikulante, wat vanjaar in 6 800 sentrums landwyd eksamen skryf.

Umalusi loof die departement van basiese onderwys vir die reëlings wat hy getref het om leerders te help wat hul vraestelle weens omstandighede buite hul beheer misgeloop het, en ontmoedig gemeenskappe opnuut om nasionale eksamens as hefboom vir protesaksies te gebruik.

“Terwyl Umalusi die grondwetlike reg van elke burger om te betoog respekteer, moet kandidate [gr. 12’s] ook toegelaat word om hul reg op onderwys uit te oefen deur die eksamens sonder enige vorm van belemmering af te lê.”

Bewerings oor ‘problematiese vrae’ 

Umalusi sê die raad is eweneens bekommerd oor die bewerings van problematiese vrae met die tweede wiskunde vraestel wat deur die departement geadministreer word.

“In hierdie verband is die standaardprosedure vir die hantering van sulke kwessies die nasienriglyne of vergaderings oor die standaardisering van memorandums waartydens problematiese vrae gemodereer word, met inagneming van kandidate se antwoorde.

“Afhangende van die omvang van die probleem kan die punte wat aan die vraag/vrae toegeken is, by die vraestel se totale punt uitgesluit word, of beteken dat alternatiewe antwoorde aanvaar kan word.”

Luidens die verklaring woon eksterne moderators van Umalusi dié vergaderings by en neem die raad verantwoordelikheid om die finale nasienriglyne af te teken ná oorweging van kandidate se antwoorde en beraadslagings.

Die fyner besonderhede van hoe die onderskeie bekommernisse hanteer is, sal aan die einde van die nasienproses vir die oorweging by Umalusi ingedien word.

“Nog ʼn saak waaroor Umalusi bekommerd is, is die Suid-Afrikaanse Omvattende Assesseringsinstituut (Sacai) se voortydige beskikbaarstelling van twee vraestelle aan Umalusi op 11 November.

“Dit is die fisiese wetenskappe- vraestel 2 en die lewenswetenskappe- vraestel 1 wat geskeduleer is om onderskeidelik op 14 November en 18 November geskryf te word. Dit is ʼn vereiste vir assesseringsliggame om vraestelle by Umalusi in te dien ná die skryf van elke vraestel sodat Umalusi sy na-eksamen-gehalteversekeringsprosesse kan uitvoer voor die standaardisering van resultate. In plaas daarvan om vraestel 1 van fisiese wetenskappe, wat op 11 November geskryf is, beskikbaar te stel, het Sacai verkeerdelik vraestel 2 beskikbaar gestel.”

Aangesien die foutiewe beskikbaarstelling van vraestelle die potensiaal het om die geloofwaardigheid van die eksamen in gevaar te stel, het Sacai die vraestelle wat per abuis beskikbaar gestel is, teruggetrek en sal dit met rugsteunvraestelle vervang word.

“Umalusi doen ʼn beroep op al die assesseringsliggame en belanghebbendes om alles moontlik te doen om te verseker dat die integriteit van die 2022- nasionale eksamens nie benadeel word nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Harley Davidson ·

Gelukkig hoef jy net jou naam of nommer reg op die vraestelle te skryf om 30% te kry wat die slaagsyfer in sa is.

Lindi ·

Hoeveel van die “leerlinge” woon die protesoptogte by? Goeie verskoning om nie te skryf nie en WEER wil gaan oorskryf

Elma ·

Wat help bekommernie. Sorteer die spul wat wil dans, breek en brand uit. Bekommernis is lippetaal.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.