Protesaksie, gure weer grootste struikelblok vir matrieks

(Argieffoto)

Protesoptogte en gure weer is tot dusver die grootste uitdagings vir matrikulante om hul eksamenvraestelle te skryf.

Só het Mathanzima Mweli, direkteur-generaal van basiese onderwys, Sondag tydens ’n mediakonferensie oor die vordering van vanjaar se matriekeksamen gesê.

Volgens Mweli verloop die eksamen tot dusver goed, afgesien van die klein uitsonderlike voorvalle waar eksamens ontwrig is.

Daar skryf vanjaar altesaam 921 000 matrikulante in 6 800 sentrums oor die hele land heen matriekeksamen.

Die departement het Saterdag vergader met alle belanghebbendes, soos onderwysersvakbonde en skoolbeheerliggame om te besin oor die eksamenvraestelle wat tot dusver afgelê is.

In al die vergaderings is groot kommer uitgespreek oor die faktore wat na bewering ’n bedreiging vir die administrasie van die eksamens inhou.

Die volgende voorvalle waar protesoptredes eksamens ontwrig het, is uitgelig:

  • Altesaam 53 leerders van Etwatwa in Gauteng kon nie hul eerste ekonomievraestel Dinsdag skryf nie weens geweerskote wat afgevuur is in die gebied waar hulle eksamen geskryf het
  • Met dieselfde vraestel, het die eksamen in 13 sentrums in die Ngaka Modiri Molema-distrik in die Noord-Kaap laat begin weens diensleweringsbetogings. Altesaam 459 kandidate is hierdeur geraak. Die kandidate is vergoed vir die verlore tyd.
  • Met Maandag se Engelse vraestel was daar ook onrus in die Impendle-gebied in die Umgungundlovu-distrik in KwaZulu-Natal. Die polisie is na die eksamensentrum ontbied en die eksamen kon normaalweg voortgaan.
  • Diensleweringsbetogings in Vosloorus in Gauteng het Woensdag ook onrus by die eksamensentrum veroorsaak. Alle kandidate kon egter hul vraestelle op die ou einde aflê.
  • Met die geskiedenisvraestel wat Donderdag geskied het, was daar vertraging in die aflewering en afhaal van vraestelle in drie sentrums in die Noord-Kaap weens stormweer. Dit het daartoe gelei dat leerders eers later kon begin skryf.
  • Leerders in die Khuma- informele nedersetting in Noordwes het Vrydag laat met hul wiskundevraestelle begin weens vloede wat deur swaar reën veroorsaak is. Al die kandidate is deur beamptes van die distrikskantore na die eksamensentrum vervoer.

Mweli het ook enkele gevalle uitgelig waar leerders met kripnotas en selfone in die eksamensentrums betrap is.

Die departement moes ook aangemelde gevalle hanteer waar sommige skole leerders die reg geweier het om die eksamen af te lê omdat hulle swanger is.

“Die nasionale beleid oor die voorkoming en bestuur van leerderswangerskap stel dit uitdruklik dat die uitsluiting van ’n leerder van die skool op grond van swangerskap diskriminerend is,” sê Mweli.

“’n Leerder wat swanger is, sal toegelaat word om die nasionale eksamens af te lê indien haar gesondheidstoestand dit toelaat. Die skoolhoof en personeel moet in samewerking met ouers of voogde alle redelike stappe doen om die leerder se leer-, gesondheids- en ander behoeftes as moeder gedurende die eksamenperiode in ag te neem.”

Volgens Mweli help die nasionale gesamentlike en operasionele intelligensiestruktuur (NatJoints) en provinsiale gesamentlike komitee (ProvJoc) met die hantering van ontwrigtings van vraestelle weens betogings.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) sal help om die departement van bygewerkte weervoorspellings te voorsien.

“Ons vra ook lede van die publiek om die leerders tydens die eksamen te ondersteun, hulle daarvan te weerhou om paaie te versper en skole te bestorm. Die gevolge daarvan om dit nie te doen nie, is verwoestend vir die leerders en die gemeenskappe self aangesien dit die kinders van dieselfde gemeenskappe is wat die gevolge dra.

“In die geval waar leerders nie die eksamen kan skryf nie, beteken dit dat hulle dié vraestelle eers in Mei of Junie volgende jaar kan herskryf. Dit is nie regverdig teenoor die leerders wat reeds baie verduur het weens onder meer die Covid-19-pandemie nie.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Tewis ·

WAAR IS ONS POLISIE EN WEERMAG IS DIT TEVEEL GEVRA OM NA DIE BO GENOEMDE PROBLEMPIES OM TESIEN NIE??

Catherina ·

Hoekom word dit toegelaat? Die president kan gerus vir n slag iets positief doen en alle protesoptogte vir altyd verbied. Of course he won’t…guess why. Needs the votes to keep on running country to ground. We can do nothing .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.