Kommer oor gebruik van glifosaat in Vaalrivier om waterslaai te bekamp

(Foto: Verskaf)

WaterCAN, ʼn voorstander vir waterbesparing en veiligheid, is diep bekommerd oor Rand Water se aankondiging dat glifosaat, ʼn onkruiddoder, op die Vaalrivier gespuit gaan word om die waterslaai- en hiasintprobleem te bekamp. Volgens die organisasie wek dit groot kommer oor die omgewing en openbare gesondheid.

Maroela Media het vroeër berig AfriForum het onlangs saam met verskeie ander organisasies, ondernemings en lede van gemeenskappe gewerk om meer as 1 600 ton waterslaai uit die Vaalrivier te verwyder.

Rand Water het Maandag in ʼn plasing op Facebook sy voorneme om glifosaat in die Vaalrivier te gebruik bevestig.

Dr. Simone Dahms-Verster, dosent by Wits Universiteit se Skool vir Geografie, sê ondanks die versekering dat hierdie aksie in ooreenstemming met die goedgekeurde algemene magtiging van die departement van water en sanitasie en met tegniese leiding van die departement van bosbou, visserye en die omgewing, onderneem word, bly WaterCAN onwrikbaar in sy teenkanting teen hierdie benadering.

“Om glifosaat direk in ʼn varswater-ekosisteem te spuit is ʼn verskriklike slegte idee. Die uitwerking van glifosaat kan reaktiewe suurstofspesies en geenmutasies in verskeie akwatiese spesies veroorsaak. Ek kan nie glo dat dit goedgekeur is en in werking gestel gaan word nie,” sê sy.

WaterCAN glo ʼn veelvlakkige benadering is nodig om die waterslaai- en hiasintbesmetting in die Vaalrivier te pak.

“Een van die kritieke komponente van hierdie benadering is om die rioolbesoedeling wat van Emfuleni – en ander omliggende munisipaliteite – in die rivier vloei, te voorkom. Die nitrate wat in rioolvuil voorkom, dien as ʼn brandstof vir die vinnige groei van waterslaai.

“Deur rioolbesoedeling by die oorsprong te beperk kan ons die toestroming van voedingstowwe versag wat die verspreiding van indringerwaterplante vererger.”

WaterCAN doen ʼn beroep op Rand Water om sy benadering te heroorweeg en alternatiewe metodes te ondersoek om die waterslaai- en hiasintbesmetting te bestuur.

“Geïntegreerde plaagbestuur-strategieë, meganiese verwydering en biologiese beheeropsies bied omgewingsvriendelike alternatiewe wat skade aan ekosisteme verminder en openbare gesondheid bevorder.

“As ʼn organisasie wat toegewy is aan die beskerming en bewaring van waterbronne doen WaterCAN ʼn beroep op belanghebbendes om volhoubare oplossings te prioritiseer wat die integriteit van die Vaalrivier-ekosisteem handhaaf.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Johan ·

WaterCAN moet dalk hulle beursies sit waar hulle monde is en dan Afriforum en die ander organisies wat wel aktief iets aan die probleem doen, finansieel of met produkte, toerusting of arbeid bystaan, nie net professionele beswaardes wees nie.

Josua ·

Aag wil julle nie maar gaan slange vang om julself besig te hou nie, die benadering moes al op Haartbeespoort dam gevolg het dan was die probleem lankal opgelos, plaas julle die riool situasie aanspreek en daaraan iets gedoen het sou die situasie nie so hand uit geruk het nie, dink julle vir een oomblik dat die mense van Afriforum nie weet wat hulle doen nie, ons reen seisoen is van Nov tot einde April en die vaalrivier sal skoon gespoel word net soos Hartbeespoort dam, hoe gouer die indrinnger plante verwoes word hoe beter, die goggatjies doen ook die werk maar nie vinnig genoeg nie. Wits as julle iets goeds wil doen stop riool storting in ons riviere en damme dan sal die plante nie so vinnig versprei nie en hou op snert kwyt raak asb.

tweeling ·

Randwater is seker deur ‘n klomp kaders aanmekaar gesit. Die probleem is eintlik omgewingsake en water en sanitasie s’n, maar sekerlik is daar nie ‘n kader wat sy hande wil vuil maak nie.

Gaitsigubib ·

O, mens noem die goed einlik “Agent Orange”, later is die naam verander na Roundup. As jy nie omgee om gif in mense se are te pomp nie, sal jy seker ook nie omgee om gif in hul water te gooi nie?

Miskruier ·

Gaitsigubib, mense is nog steeds nie wakker nie. As hul voorgaan om die plante meganies te verwyder en kompos te maak, het hul gewen. Die plante maak die water skoon en dan gaan daai riool in die kompos in.

Republikein in die Wes Kaap ·

So met NGV is dit nie ‘n goeie idee nie. Mense wat siek word sal nie gehelp kan word nie.

Martie ·

Die hele land se damme en rivier is vuil en besmet. Miskien moet ons minister van water begin om eers die riviere skoon te maak en dan die damme. Of verwyder eers alle plakkers langs die riviere miskien is ‘n gedeelte van die probleem al opgelos.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.