Kommer oor ‘giftige rook’ ná Durbanse fabriek brand

Brandbestryders het ure lank gespook om die brand in bedwang te bring (Foto: ALS Paramedics, Facebook)

Brandbestryders het Woensdagoggend langer as ses uur gestoei om ’n brand wat in ’n chemiese fabriek in Durban uitgebreek het, in bedwang te bring. Inwoners word nou gemaan om liefs binnenshuis te bly, aangesien die rook wat deur die brand veroorsaak is, giftige stowwe kan bevat.

Garrith Jamieson, woordvoerder van ALS Paramedics, sê die brand het net voor 01:30 in die KZN-harpuisfabriek in Balfourweg in Jacobs, Durban, uitgebreek. Paramedici en die munisipaliteit se brandweerdienste is na die toneel ontbied. Hierdie fabriek vervaardig ’n soort plastiek wat saam met boumateriaal gebruik word.

Die brand is eers omstreeks 07:30 geblus.

“Verskeie brandweerwaens en watertenkwaens is na die toneel ontbied om die brand te bestry,” het Jamieson gesê.

Volgens Msawakhe Mayisela, woordvoerder van die Ethekwini-munisipaliteit, was brandbestryders tot die middag nog op die toneel om die laaste vlamme wat opnuut in die smeulende puin ontstaan het, te blus.

Die brand het Woensdagoggend net voor 01:30 uitgebreek (Foto: ALS Paramedics, Facebook)

Hy sê die oorsaak en omstandighede rakende die brand word nog ondersoek.

Die Ethekwini-munisipaliteit, wat Durban bedien, het intussen ’n waarskuwing aan inwoners in die gebied uitgereik om binnenshuis te bly, ten einde te verhoed dat hulle die giftige rook inasem.

Gebiede wat geraak word, sluit in Wentworth en Merebank, maar weens ’n verandering in windrigtings kan gebiede soos Clairwood, Montclair, Bluff en Mobeni ook geraak word.

“As voorsorgmaatreël word inwoners aangeraai om hul vensters en deure toe te maak en nat handdoeke oor ventilasie- of luggate te plaas totdat die rook heeltemal opklaar,” het Mayisela gesê.

“Inwoners in die betrokke gebiede word ook aangeraai om hulle vir eers te weerhou van buitelugaktiwiteite.”

Mayisela sê brandbestryders sal op die perseel bly om die situasie te monitor en seker te maak die puin vat nie weer vlam nie.

“Lede van die publiek sal van nuwe verwikkelinge ingelig word.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

annie ·

Waarom op deeske aarde is daar soveel fabrieke met giftige grondstowwe in SA? Waarin word dit gebruik? Is daar nie riglyne vir die berging daarvan nie? SA raak ‘n plek wat op ‘n ongeluk wag om te gebeur.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.