Kommer oor Limpopo se ‘gebrekkige’ aanlyn stelsel vir skole

Argieffoto ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) sê ʼn “gebrekkige” aanlyn toelatingstelsel wat deur die departement van onderwys in Limpopo ontwikkel is, kan skole en leerders wesenlik benadeel.

Fedsas het reeds talle klagtes van ouers oor hierdie stelsel ontvang en oorweeg nou regstappe teen dié departement.

Die departement het aanvanklik aangedui dat hy Gauteng se aanlyn stelsel gaan gebruik, maar het intussen sy eie een ontwikkel. Meer as 100 skole vorm nou deel van dié loodsprojek, waarvan 35% Fedsas-lede is.

Volgens dr. Jaco Deacon, Fedsas se waarnemende uitvoerende hoof, kan die departement nie eers daarin slaag om handboeke te lewer of van puttoilette ontslae te raak nie – wat nog te sê  ʼn aanlyn toelatingstelsel.

“Ons het reeds ʼn groot aantal klagtes van ouers ontvang wat sê dat hul besonderhede nie korrek op die aanlyn stelsel gestoor word nie.

“Baie van die ouers wat die stelsel gebruik het, sê hul kinders se name verskyn nie op die betrokke skole se lyste vir aansoeke vir 2022 nie,” sê Deacon.

Deacon sê Fedsas het baie ervaring van aanlyn toelatings vanweë die organisasie se betrokkenheid by soortgelyke prosesse in Gauteng en die Noord-Kaap.

“Ons het ons lede aangemoedig om deel te neem en Fedsas het deurlopend terugvoer aan die provinsiale onderwysdepartement gegee, maar daar is geen ag daarop geslaan nie.”

Fedsas het die departement weens ernstige tekortkominge met die stelsel, twyfel oor die integriteit van die proses, maar bowenal die implikasies wat dit vir die leerders inhou, versoek om die projek te staak. Dié versoek het egter op dowe ore geval.

“Ons het hier te doen met magsbehepte, onbevoegde amptenare wat duidelik nie die beste belange van die leerders eerste stel nie.”

Fedsas het die aangeleentheid ook by die nasionale departement van basiese onderwys aangemeld en versoek dat Angie Motshekga, minister van dié departement, dringend ingryp.

“Hierdie ondeurdagte projek is maar die oortjies van die seekoei.”

Volgens Deacon is die organisasie se regspan tans besig om verskeie opsies op te weeg, en gaan hulle binnekort ʼn advokaat konsulteer oor moontlike regstappe om skole te beskerm.

“Fedsas tree in belang van sy lede en ander openbare skole op en ons sal toesien dat beheerliggame se regte ten opsigte van ʼn skool se toelatingsbeleid beskerm word, en dat die regte beskerm word van ouers en leerders om ʼn skool te kan kies.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Pietertjie ·

Dis maar die beste waartoe die ANC regering in staat is: hulle presteer teen hulle maksimum vermoë. Our people verdien dié regering, want hulle stem daarvoor.

Kokerboom ·

Die kommer gaan al vir 27 jaar aan en sal NOG vir 27 jaar aangaan.Rapporteer iets wat ons NIE reeds weet!!

Johann ·

Kom ons dink gou hardop…..as ek aan bewind bly met massas.ongeskooldes wat my DEKADES lank in n magsposisie hou, hoekom die massas opvoed en skool? As die desperaatheid met n Tshirt en kospakkie en grant in toom gehou kan word, en dit onsdersteun jou magsvergrype en anargie….ja wel soort van logies hoekom opvoeding en opleiding beperk word.

koos10 ·

Dink daaraan, as Gauteng se sisteem gebruik was, was daar minder kans vir een of ander BEE maatskappy en ‘n paar kaders om geld te skep om ‘n nuwe sisteem te ontwikkel. Gauteng se sisteem is ook maar ‘n gemors.

christo ·

Die kaders het seker geskrik vir die Digital Vibes sisteem war hulle seker op die skrik gejaag het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.