Kommer oor ontstaan van ‘polisiestaat’

centurion-grondeis-2019-02-05-ian-cameron

Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapveiligheid. (Foto: Reint Dykema)

Die burgerregteorganisasie AfriForum het sy regspan opdrag gegee om ’n skrywe aan pres. Cyril Ramaphosa te rig waarin hy sy kommer uitspreek oor die totstandkoming van die nasionale veiligheidsraad en die Suid-Afrikaanse nasionale veiligheidsekretariaat. Dit volg nadat dié strukture in die Staatskoerant van 10 Maart deur Ramaphosa gemagtig en gepromulgeer is.

Luidens die berig in die Staatskoerant het die nasionale veiligheidsraad ten doel om nasionale sekuriteit in Suid-Afrika te verseker en te reguleer. Die raad moet voorts ook die werksaamhede van alle sekuriteitsdienste en wetstoepassingsowerhede koördineer en inligtingsverslae bekom. Dié raad bestaan onder meer uit die minister van verdediging, en militêre veterane asook lede van die polisie, justisie en korrektiewe dienste.

In die skrywe aan Ramaphosa versoek AfriForum onder meer duidelikheid rondom die doel van die totstandkoming van dié strukture, die tydperk wat die strukture sal bestaan en op watter wetgewing die president steun om die strukture daar te stel.

Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid, sê AfriForum gaan ook aandring dat die promulgering van dié strukture herroep word.

“Dit lyk asof die regering die Covid-19-pandemie misbruik om ongrondwetlike magstrukture te vestig terwyl die res van die land se aandag op afsonderingregulasies gefokus is. Die regering gebruik dié strukture om die land in ʼn polisiestaat te verander en skep die geleentheid vir verreikende magsvergrype,” sê Cameron.

Cameron sê volgens AfriForum, asook ’n regsmening wat die organisasie ingewin het, is die instelling van dié strukture ongrondwetlik, aangesien die Grondwet duidelik uiteensit oor hoe daar met inligtingsdienste in diens van die staat omgegaan moet word. Dié word juis vir die risiko vir misbruik, uiteengesit.

“Dié strukture skep vir die staat die perfekte geleentheid om toenemend persoonlike inligting van landsburgers in te samel en onder die dekmantel van nasionale veiligheid te gebruik,” sê Marnus Kamfer, regs- en risikobestuurder vir gemeenskapsveiligheid by AfriForum.

“Indien die huidige strukture in al die veiligheidsmagte en afdelings in die staat bestuur word soos wat dit veronderstel is om bestuur te word, sou dit nooit eers nodig gewees het om sulke strukture te oorweeg nie,” meen Cameron.

Cameron sê nadat AfriForum lank met sy regspan vergader het ten tyde van die afsondering, het dié organisasie besluit om hierdie kwessie onder die loep te neem en die skrywe aan die president te rig..

“Indien die president nie gunstig op die skrywe reageer nie, behou AfriForum hom die reg voor om hom tot die Konstitusionele Hof te wend ten einde die grondwetlikheid van die strukture te toets,” sê Cameron.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Termiet ·

Ons is volgende jaar die tyd ‘n volwaardige kommunistiese staat.

Cherokee ·

Ek probeer jou stemtoon ontleed, en is steeds nie seker of dit met trots of afgryse gesê is nie.

Pieter J ·

Dit is duidelik dat die ANC iets beplan en as hulle dit nie op hierdie manier openlik gedoen kry nie sal hulle dit wel in die geheim doen. Ek vermoed in elk geval dat daar allerlei onheilighede in die geheim beplan word en intussen dink die meeste mense nog steeds hulle absolute veiligheid kan deur die grondwet gewaarborg word. Met die ANC aan bewind is die grondwet nie die papier werd waarop dit geskryf is nie. Hulle vertolk dit doodeenvoudig soos dit hulle pas en ons geteansformeerde howe beaam dit.

Jaco ·

As die polisiestaat kan lyk soos die ou Oos-Duitsland, of Pole of Hongarye of ERusland, almal voor 1990, dan sal SA begin regkom. daardie lande was outokraties en jy moes jou mond hou, MAAR hulle was ook almal SONDER goed soos plakkerskampe, vuil swak staatshospitale, ligte of geen strawwe vir misdaad, lae gehalte onderwys waar leerders onderwysers mag aanrand en en en.
Dit verbaas my dat die ANC en die SAKP blykbaar NIKS in daardie lande geleer het nie, want dis waar baie van hulle in ballingskap was.

Jacobus ·

Gevleulde woorde Ian. Met sigarette en klokreël. Wonder of die sirenes van ouds nog werk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.