Kommissie sal ingryp in saak oor huishoudelike geweld

Die vrou beweer in die video dat die polisie haar nie wou help nie (Foto: Skermskoot uit die video)

Die Kommissie vir Geslagsgelykheid stel ondersoek in na ʼn geslagsgebaseerde geweldsvoorval op ʼn vrou van Mamelodi wat na bewering fisies deur haar mansvriend aangerand is.

Die voorval het onder die kommissie se aandag gekom ná ʼn video van die vrou op sosialemediaplatforms gedeel is. In die video verduidelik sy dat sy voor dooiemansdeur te staan gekom het by die Mamelodi-polisiestasie en nie bystand ontvang het toe sy ʼn saak van aanranding by die Silverton-polisiestasie aanhangig wou maak nie.

“Die kommissie bedank almal wat die video onder ons aandag gebring het,” sê Javu Baloyi, woordvoerder van die kommissie. “Dit wys dat die instansie se werk ʼn impak het saam met burgers wat die vlaag van geslagsgebaseerde geweld en geweld deur intieme maats wil uitroei.”

Die kommissie was in kontak met die Silverton-polisie om die feite te bekom oor die saak. “Ons is verseker dat die dossier na die Mamelodi-polisie oorgeplaas sal word waar die vermeende aanranding plaasgevind het. Die kommissie is tevrede met die vinnige reaksie deur die Silverton-polisie wat die vermeende oortreder op 12 Desember 2021 in hegtenis geneem het.”

Baloyi sê dit is deel van die kommissie se mandaat om seker te maak dat staatsinstansies soos die Suid-Afrikaanse Polisiediens en die strafregstelsel die wette van die Republiek van Suid-Afrika afdwing om misdaad en geslagsgebaseerde geweld te bekamp.

Die kommissie sal die saak bly monitor wanneer dit op 15 Desember in die hof voorkom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Di ·

Eerder te laat as nooit! Al wanneer iets gedoen word is as dit in die media verskyn of Agriforum genader word. Useless spul. Eers wou Silverton polisie nie help, nou skielik word hulle bedank vir hulle “vinnige optrede” om die man in hegtenis te neem! Patetiese klomp

Bernard ·

Ramaphosa kan praat tot hy blou is oor “geslagsgeweld” maar as sy onderdane nie dieselfde daaroor dink nie, kan hy dit maar los.

Keelvol ·

My vraag is, hoeveel keer het die vrou sake oopgemaak en dan dit weer terug getrek? Die probleem hier lê by haar.

Sarel ·

Hoekom die spesifieke saak want hoeveel soortgelyke sake is daar. Is dit familie of is fit Politiek

Sarel ·

Wat van die geval wasr die vrou deur fie Polisie aangerand was. Waar staan die sg. Kommissie mer daardie saak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.