Konsekwentheid Jos se wapen

Jos Kotze (Foto: Verskaf)

Vir Jos Kotzé van Helpmekaar Kollege in Johannesburg was die eksamen “’n bietjie aan die moeiliker kant”, maar hy kon steeds lag-lag daarin slaag om nege onderskeidings te behaal. Hy het boonop 100% vir wiskunde behaal, een van sy gunsteling vakke.

Jos het verlede jaar sy skool se boekprys vir inligtingstegnologie, fisiese wetenskappe en rekeningkunde verwerf. Vir al hierdie vakke het hy deur die jaar ʼn gemiddeld van in die 90% behaal.

“Vir my was dit nie werk om in hierdie vakke te presteer nie omdat ek dit so baie geniet het.” Hy sê veral die probleemoplossingsaspek van inligtingstegnologie het hom na dié vak aangetrek. Daarom ook dat hy besluit het om aktuariële en finansiële wiskunde aan die Universiteit van Pretoria te studeer.

Hy het op hoërskool ook aan sport deelgeneem en speel kitaar, maar net as ʼn stokperdjie.

Jos is oortuig die harde werk wat hy dwarsdeur sy skoolloopbaan ingesit het, het nou vrugte afgewerp. “Dis baie belangrik om konsekwent te wees en deurlopend dieselfde hoeveelheid harde werk in te sit.”

Dit is dan ook sy raad aan voornemende matrikulante, om aan te hou hard werk, al presteer jy akademies. “Jy moet aanhou om die kennis wat jy bykry, in te oefen en verfyn.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.