Kontrakteur wat omstrede R15 miljoen-stadion bou, het talle ander kontrakte

‘n Gedeelte van die Theko Kona-buitelugsportfasiliteit wat teen ‘n algehele koste van R15 miljoen gebou is. (Foto: Facebook)

Die kontrakteur wat die omstrede Lesseyton-sportstadion vir die Enoch Mgijima-munisipaliteit teen ʼn koste van R15 miljoen gebou het, het ook multimiljoen rand se kontrakte by verskeie ander plaaslike owerhede.

Die stadion, naby Komani in die Oos-Kaap, is as armoedig en substandaard bestempel en is uit verskeie oorde gekritiseer. Die DA het vroeër gesê die “sogenaamde sportterrein is weinig meer as steierwerk, ʼn droë en harde veld en rugbypale wat platgeval het. Die kleedkamers het ook geen lopende water nie en kan dus nie gebruik word nie”.

Die begroting vir die omstrede projek was glo aanvanklik R22,7 miljoen waarna dit tot R15 miljoen verminder is.

Vicky Knoetze, die DA se woordvoerder oor samewerkende regering en tradisionele sake, sê verskeie kontrakte wat aan Thalami Civils, die kontrakteur verantwoordelik vir die bou van die stadion, toegeken is, wek ook kommer.

Sommige van die projekte wat die DA wil laat hersien, is die Centani-taxistaanplek wat die Mnquma-munisipaliteit in 2017 teen ʼn koste van R6,8 miljoen opgerig het, die Theko Kona-buitelugsportfasiliteit wat dieselfde munisipaliteit in 2015 teen ʼn koste van R4,4 miljoen opgerig het, en die Mpukane-gemeenskapsaal wat R3,6 miljoen gekos het om op te rig.

Ander projekte sluit in die Tsomo-taxistaanplek wat die Intsika Yethu-munisipaliteit in 2019 teen ʼn koste van R4 miljoen opgerig het, die tweede fase van die Sakhisizwe-sportveld wat verlede jaar teen ʼn koste van R5,4 miljoen vir die Sakhisizwe-munisipaliteit gebou is en die toekenning van ʼn tender vir ʼn waterverskaffingsprojek in Cafutweni, Dutywa, wat die Amathole-distriksmunisipaliteit vanjaar toegeken het.

Knoetze sê ongerymdhede in die bedrae betrokke by die projekte is reeds uitgewys. Thalami Civils se maatskappyprofiel plaas die waarde van die verskillende projekte veel hoër as die bedrae wat die betrokke munisipaliteite in hul begrotings aangedui het.

Volgens Thalami Civils het die Centani-taxistaanplek R64 miljoen beloop (R6,8 miljoen volgens die munisipaliteit), die Theko Kona-buitelugsportfasiliteit het R56 miljoen beloop (R4,4 miljoen volgens die munisipaliteit), terwyl die Mpukane-gemeenskapsaal volgens die boukontrakteur R35 miljoen beloop het (R3,6 miljoen volgens die munisipaliteit).

Die Cafutweni-waterskema is ook in omstredenheid gedompel. ʼn Ander kontrakteur dreig met regstappe nadat die kontrak aan Thalami Civils toegeken is ten spyte daarvan dat sy kwotasie R19 miljoen meer as dié van die ander kontrakteur was.

Knoetze sê sy het sommige van die projekte self besoek.

“Uit dit wat ons gesien het, is daar geen waarde vir geld gebied nie en dit lyk of die projekte niks meer was as ʼn manier om plaaslike owerhede se geldkoffers selfs verder leeg te maak nie.”

Die Centani-taxistaanplek bestaan volgens die DA uit ʼn staaldak op pilare, drie 60 m²-strukture en ses kraampies vir smouse. Vier van dié kraampies was tydens die DA se besoek gesluit, daar was geen elektrisiteit op die perseel nie en die heining om die staanplek het omgeslaan.

Die Centane-taxistaanplek het R6,8 miljoen gekos. (Foto: DA)

Daar is geen water by die toilette nie en inwoners gebruik water uit ʼn oop mangat om toilette te spoel.

Die Tsomo-taxistaanplek is klaarblyklik te klein om te gebruik en het ruimte vir net twee taxi’s. Die res van die ruimte is laaisones wat geen plek het vir taxi’s om om te draai nie. Twee jaar nadat die bouprojek afgehandel is, word die taxistaanplek steeds nie gebruik nie.

So lyk die strate om die Centane-taxistaanplek. (Foto: DA)

Die Theko Kona-buitelugsportveld is glo so ver van enige nedersetting dat dit net met GPS-koördinate opgespoor kon word.

“Daar is geen paaie na die fasiliteit nie en jy moet oor grasvelde ry om dit te bereik.

“Daar is twee velde en net een kan as bruikbaar bestempel word. Daar is ʼn vervalle netbalbaan waarvan die oppervlak reeds begin verkrummel, ʼn aantrekkamer met geen water of elektrisiteit nie, en ʼn watertenk wat nie aan enigiets gekoppel is nie.

Die watertenk is opgerig, maar nie aan enigiets gekoppel nie. (Foto: DA)

Basiese dienslewering in die gebiede bly volgens die DA egter agterweë. Talle plekke het geen lopende water nie, rou rioolvuil loop deur slaggatdeurspekte strate, daar is geen krag nie en ook nie enige werksgeleenthede nie.

“Tog beskou die ANC-geleide munisipaliteite hierdie multimiljoen rand se ydelheidsprojekte as belangriker,” sê Knoetze.

Sy sê die amptenare verantwoordelik vir die toekenning van die tenders moet aanspreeklik gehou word omdat dit minstens as ʼn verkwistende uitgawe bestempel kan word.

“Dit kom neer op ooglopende diefstal van staatsgeld wat veronderstel is om die lewe van mense te verbeter.”

Die DA sê hy gaan as deel van sy tenderwaaksaamheidsopdrag in die Oos-Kaap ʼn Paia-aansoek indien om meer inligting oor al die tenders te bekom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

JohanR ·

Hoekom is ons glad nie verbaas nie! Dit is nou een wat die lig gesien het….hoeveel ander is daar nie?

Janee ·

Eish!…Wat kan daar meer as dit gesê word.? So rol ons maar onder die anc…

Pieter ·

Begin maar julle ondersoek deur uit te vind watter verbintenis daar is met die amptenare…..

Sandra ·

Ek is verbaas…eintlik lieg ek, niks wat in hierdie land aangaan wat geld wat verkeerd spandeer word aanbetref, verbaas my meer nie. Wat my wel verbaas is dat die mense wegkom daarmee.

Aai ·

Lees wat se hy.

Welcome to our Company
Thalami Civil Pty Ltd was established by Mr Luthando Jojwana, a dynamic and innovative Previously Disadvantaged Individual who is committed to high standards and promotes professionalism in providing a service to the companies Clients.
The Company specializes in Civil Engineering and General Building Construction and Project Management Services. The company comprises of qualified previously disadvantaged personnel, who have worked under established construction firms and the public sector on major projects for many years and they provide high level of professionalism, quality services. Thalami Civils Pty Ltd is 100% black own business enterprise with a young leadership. Currently the company has employed about 45 permanent employees and from time to time + 500 general labourers are employed by the company.

absoluut ·

Dit is presies die somtotaal in engels vir wat nie net op al daai sites aangaan nie maar wat oral in SA aangaan waaraan die anc-corrupt aan raak

Misky ·

Wie teken die werk af en inspekteur die betrokke plek voor finale betaling gemaak word? Ondersoek almal se bankrekenings en volg die spoor.

Willi ·

Ou Cyril sal maar net sorg dat dit onder die mat ingevee word soos al die ander korrupsie onder die anc. Niemand is nog ooit tronk toe nie.

Belinda ·

Kan ek ook n tender in sit, ek sal gras sny – as daar is

fs ·

Maklik oplosbaar – vind net uit wie se boetie, seun, neef, swear of connection hy is… simple as that –puzzles sal mooi inmekaar pas

Martie Smartie ·

He he he ha ha ha live the African Dream ne mnr Cyyyrrriilll!!!

Sarel ·

Die Opposissie mask droog op groot skaal met ondersoeke en. Optredes. Dit gaan net voort

Owlie ·

Mmmmm wonder wie is familie van wie wat vir wie watse kat uit hierdie deal gee

Yvonne ·

Krap bietjie dieper MP en die vise president se regering skenkings miljoene vir n koopsentrum wat na jare nog nie afgehandel is nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.