Koppe moet rol wat Ekurhuleni-verslag verbloem

Sivuyile Ngodwana, burgemeester van Ekurhuleni (Foto: City of Ekurhuleni/Facebook)

Ekurhuleni se burgemeester Sivuyile Ngodwana, stadsbestuurder dr. Imogen Mashazi en die LUR van finansies Nkululeko Dunga, versteek glo negatiewe bevindings uit ʼn voorlopige verslag deur die ouditeur-generaal.

“Die burgemeester se stilswye en die speaker se misleidende uitlatings laat dit voorkom of hulle deel is van ʼn toesmeerdery,” sê Michael Waters, hoofsweep in die DA Ekurhuleni-koukus.

Die DA bevestig dat die ouditeur-generaal sy voorlopige verslag op 19 November 2023 aan die Ekurhuleni-munisipaliteit oorhandig het en die speaker op 1 Desember 2023 in kennis gestel het van ʼn vertraging met die oudit.

“Die speaker het egter die raad mislei deur te sê dat geen verslag van die OG ontvang is nie. Die burgemeester het ook die raad mislei deur te swyg en raadslede toe te laat om mislei te word.

“Laat ons duidelik wees: die burgemeester se stilswye en die speaker se misleidende uitlatings laat dit voorkom of hulle deel is van ʼn toesmeerdery. Die DA versoek hul onmiddellike bedankings – hulle moet loop voor hulle uitgestoot word, en op só manier die laaste stukkie waardigheid behou wat hulle dalk nog oor het.”

Waters sê die DA het ernstige twyfel oor die munisipaliteit se nakoming met wetgewende vereistes. “Ons wil antwoorde hê oor waar die ouditverslag is, maar die stadsraad bly ontwykend. Dit laat kommer ontstaan of die bevindings moontlik gewysig word.”

Die DA is vasbeslote om seker te maak ʼn onaangetaste ouditverslag word aan die raad voorgehou. “Ons fokus is aanspreeklikheid en om die integriteit van ons munisipaliteit te behou.”

Hy meen die breër prentjie onthul ʼn munisipaliteit in krisis. “Die strate is ʼn gemors, Eskom-rekeninge word nie betaal nie en daar is kommerwekkende bewerings van plundery binne die EFF. Nkululeko Dunga, die EFF-LUR van finansies, is onder die loep vir verkwistende spandering terwyl die munisipaliteit in duie stort. Hierdie kwessies benadruk die dringendheid van verantwoordelike bestuur. Die EFF se plundery is ʼn ernstige benadeling op hul vermoë om te lei en noodsaaklike dienste te lewer. Ekurhuleni verdien beter en die DA sal nie rus totdat die waarheid ontbloot is en aanspreeklikheid herstel is nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

domheks ·

Ha-ha-haaaaaa hoe lekker lag ek nou. Waar eff betrokke is moet jy maar weet … …

Cassie Carstens ·

Die leier van die EFF gee dan so hoog op op vergaderings dat die EFF absoluut teen korrupsie en geldmors is, maar hulle LUR ry saam op die soustrein?? Nou verstaan ek glad nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.