Korrektiewe dienste oorval met vrae oor ‘Facebook-verkragter’

Thabo Bester tydens sy verhoor meer as tien jaar gelede. (Foto: Verskaf)

Maande nadat Thabo Bester, die sogenaamde Facebook-verkragter, glo in die tronk dood is, doen foto’s nou van ʼn man wat wat ʼn sterk ooreenkoms met Bester toon en wat inkopies in Johannesburg doen die rondte.

Die foto’s is twee maande ná Bester se beweerde dood in Mei verlede jaar geneem en wys hoe ʼn man met lang hare en ʼn sonbril inkopies by Woolworths in Sandton City doen.

Die betrokke foto’s is egter nou eers na GroudUp gestuur en twee mense wat Bester ken het aan die nuusblad gesê dat hulle oortuig is dat die man in die foto’s inderdaad die veroordeelde verkragter is.

Foto van ‘n persoon wie mense glo die sogenaamde Facebook-verkragter is. (Foto: GroudUp/Verskaf)

Bester is meer as tien jaar gelede lewenslange tronkstraf opgelê vir die moord op die 26-jarige model Nomfundo Tyhulu. Hy was in daardie stadium reeds in die tronk vir die roof en verkragting van twee modelle in Durban en word steeds verdink van ʼn reeks ander misdade in Kaapstad, Gauteng en Durban.

Bester is destyds met die verhoor die “Facebook-verkragter” genoem oor die wyse waarop hy sosiale media gebruik het om sy slagoffers, onder wie Tyhulu, te lok.

Die foto’s is verlede jaar ná Bester se beweerde dood geneem. (Foto: GroudUp/Verskaf)

Die departement van korrektiewe dienste het in Mei verlede jaar gesê dat Bester se verkoolde liggaam by die Mangaung- korrektiewe sentrum aangetref is. ʼn Bewaarder het in die vroeë oggendure op die liggaam afgekom nadat daar glo ʼn brand in die betrokke aanhoudingsel uitgebreek het.

Omdat daar ʼn verbrande liggaam was, kon dit nie as ʼn natuurlike dood geklassifiseer word nie en was die departement genoop om ʼn ondersoek na die voorval van stapel te stuur.

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) is ook by die ondersoek betrek, sou daar dalk ʼn kriminele element betrokke wees.

Die departement sê egter nou hy kan nie bevestig of ontken dat Bester die persoon in die foto’s is nie, aangesien die ondersoek na sy beweerde dood nog aan die gang is.

“Die departement is oorval met navrae oor die stand van sake en ons het dit reeds duidelik gemaak dat die ondersoek nog aan die gang is en dat daar geen nuwe verwikkelinge is nie,” sê Singabakho Nxumalo, woordvoerder van die departement.

Volgens Nxumalo het die departement nog nie ʼn afskrif van die nadoodse ondersoek onder oë gehad nie.

“Die saak is van openbare belang, daarom druk die departement die ondersoekspan om dit af te handel sodat die bevindinge bekend gemaak kan word,” het Nxumalo gesê.

  • Van die inligting in hierdie berig is oorspronklik op GroundUp geplaas en word met vergunning hier gebruik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.