Kos, hoop vir SA’ners in ‘haglike isolasiekamp’

Foto: Verskaf

Die omstandighede by die Nyala Game Lodge buite Lephalale (Ellisras) waar 17 Suid-Afrikaners in isolasie aangehou word, het aansienlik verbeter nadat Maroela Media Saterdag oor die haglike omstandigede in die kamp berig het.

Lede van die groep het aanvanklik aan Maroela Media gesê hulle is honger en dors en moes een handdoek deel. Van die mans moes sedert hul aankoms saam op ʼn dubbelbed slaap.

Sondag het skoonmakers en ʼn kok egter by die kamp opgedaag, wat nou sorg dat die groep drie etes per dag kry. Daar word ook na die spesiale behoeftes van een van die vroue in die groep omgesien wat ʼn voedselallergie het. Maandag het lede van die groep laat weet hul werkgewers het intussen ook gereël vir ekstra groente, toiletware en versnaperings wat gister reeds by die kamp afgelaai is.

Die groep het die afgelope drie maande konstruksiewerk by ʼn myn in Botswana verrig en moes dié land verlaat toe algehele afsondering daar ingestel is.

Hulle was op pad terug na hul gesinne wat onderskeidelik in Mosselbaai in die Wes-Kaap, Gauteng en Limpopo woon toe hulle by die grens voorgekeer en deur die SAPD na dié kamp begelei is. Nie een van die 17 toon tekens van Covid-19 nie.

Foto: Verskaf

Die mans sê hul gemoedere was baie laag, tot Marcelle Maritz, die VF Plus se leier in Limpopo, Saterdag by die kamp opgedaag en vinnig gesorg het dat hulle die eerste keer in twee dae ʼn behoorlike bord kos kry. Maritz het van Mokopane af gery om hulp te verleen nadat sy van die groep se dilemma gehoor het.

“Marcelle is ʼn yster-vrou; sy het ons weer hoop gegee en nadat sy hier aangekom het, was daar ʼn geskarrel om dinge in plek te kry. Almal het skielik rondgejaag om ons te help en ons kan haar nie genoeg bedank nie,” sê hulle. “AfriForum reël ook tans dat ons warm klere kry.”

“Hierdie mense is belastingbetalers en hulle verdien nie om so sleg behandel te word nie,” sê Maritz. Sy het Saterdag ʼn dringende brief aan die gesondheidsowerheid in Limpopo gerig en die situasie met die LUR vir gesondheid, dr. Poppie Ramathuba, bespreek.

Maritz sê die VF Plus sal die situasie monitor.

Die groep het aan Maroela Media gesê daar is nie veel om te doen nie en hulle hou mekaar maar geselskap. “Wat ons die meeste mis, is ons gesinne, maar hulle ondersteun ons baie en ons kry elke dag boodskappe om ons moed in te praat.”

Intussen het die VF Plus ook ingegryp by ʼn kwarantynsentrum by die Eiland-vakansieoord in Upington in die Noord-Kaap.

“Die VF Plus het laat Sondagaand klagtes rakende die Harry Surty-hospitaal ontvang. Mense wat vanaf Namibië afkomstig is en wat deur die Nakop-grenspos beweeg het, moet hier tuisgaan vir die volgende 14 dae om seker te maak dat hulle nie die koronavirus onder lede het nie,” sê Philip van Staden, VF Plus-woordvoerder van gesondheid.

Van die klagtes was dat daar nie water in die krane is nie en ʼn tekort aan warm water is. Die waterprobleem is volgens bronne in die hospitaal reeds maande lank ʼn probleem.

Die VF Plus se raadslid in Upington, Hendrik Greyling, het ondersoek rakende die klagtes ingestel. “Met die VF Plus se besoek aan die Eiland-vakansieoord vanoggend was dit duidelik dat die oord nog nie gereed is om as kwarantynsentrum te dien nie. Greyling het dadelik die saak met die betrokke munisipale bestuurder bespreek en volgens die persoon is hulle nie ingelig oor hoe om die gerief gereed te kry nie,” sê Van Staden.

Die onderneming is aan die VF Plus gegee dat die situasie aandag sal geniet. Die party monitor tans die situasie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Pieter ·

Ons neem kennis wie help en wie help nie, duidelik is daar verskille tussen ‘our people’ en ons mense. Die rommelstatus regering kan nie eens ‘n rioolplaas bestuur nie, dus moet niks positiefs van hulle verwag nie. Dankie vir hulle wat wel help.

charmaine ·

Pieter, ja so kyk na foto’s en dink dieselfde “our people” hulle moet die stemme gee so hulle word bespuit, getoets, gevoed en geklee en word ons mens in witplakkerskampe ook versorg en voorsiening gemaak?

Genis ·

Dankie VF Plus… weereens n plus julle kant toe.. Dis weereens n skande

Kosie ·

Ranch het genoeg geld gemaak hulle stel nie meer belang nie

Racheltjie Debeer ·

Raai waar gaan niemand na lockdown vakansie hou nie? Mens sou dink die oorde sal die mense goed behandel om toekomstige besigheid te verseker.

Jaco ·

Volgens die foto lyk dit na our people in dié haglike kamp. Nou wonder ek maar net: dit was dan ook our people wat in die luukse gastehuis in kwarantyn was. Waarom dan nou ‘n onderskeid maak tussen our people en our people? Wit mense is dan die tweede klas burgers van SA.

Kobus ·

Mooi en dankie Maroela.As mens na al die TV kanale kyk word daar slegs op Townships gekonsentreer.Geen TV spanne in wit plakkerskampe of waar wit behoeftiges woon nie.Kan Maroela asb navraag by die TV stasies doen en beriggeweing daaroor doen?
Die ANC beheer SA nou soos ‘n eenparty staat.Buiten die VF+ loop die ander partye nou maar net saam sonder enige kritiek.Die ANC gaan hierdie virus tot hulle voordeel gebruik.Waar was die tenkwaens met water ‘n maand terug? Al die ministers hou perskonferensies en kondig luid aan wat hulle doen.Waar was hulle voor die tyd?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.