Kosmandjie: Uie, tamaties en wortels duurder

(Foto: Maroela Media)

Uie, tamaties en wortels is onder die 27 kosprodukte wat die prys van ʼn huishouding se kosmandjie vir ʼn maand in April met gemiddeld R58,38 opgestoot het.

Luidens die jongste Household Affordability Index deur die Pietermaritzburg Economic Justice and Dignity Group (PMBEJD) het verbruikers vandeesmaand R5 336,31 vir ʼn basiese maandelikse kosmandjie betaal.

Dit is 1,1% meer as verlede maand en 6,2% (R312,36) meer as in April verlede jaar.

Hierdie data is van toepassing op 44 basiese kositems van 47 supermarkte en 32 slaghuise in Johannesburg, Kaapstad, Durban, Pietermaritzburg, Mtubatuba en Springbok.

Kositems wat in April met 5% of meer gestyg het, sluit in suikerbone (6%), uie (44%), tamaties (13%), wortels (18%), spinasie (12%) en soetrissies (17%).

Verbruikers moes ook meer opdok vir witsuiker (2%), hoender- en beeslewer (2%), kool (4%), piesangs (4%), appelkooskonfyt (3%), grondboontjiebotter (2%) en bruinbrood (2%).

Kositems wat in April ietwat goedkoper was, sluit in aartappels (-5%), tee (-5%), vis (-5%), appels (-12%) en lemoene (-30%).

Johannesburg dok meer op

Johannesburg se kosmandjie is die swaarste deur prysverhogings geraak en was in April R224,90 duurder as die vorige maand. Dit het ook R591,12 meer gekos as in April verlede jaar. Dit kos verbruikers in Johannesburg op die oomblik maandeliks sowat R5 257 vir ʼn huishoudelike kosmandjie met basiese kositems.

Volgens PMBEJD word verhogings gedryf deur hoër groentepryse en prysstygings van stapelvoedselitems soos mieliemeel, rys, meel, suiker, bone en brood.

Die Durban-kosmandjie (R5 257) het in April vanjaar met R12,88 gestyg en is R376 duurder as verlede jaar.

Die Kaapstad-kosmandjie (R5 186) was in April R28,15 duurder as in Maart en R97 duurder as verlede jaar.

Die Springbok-kosmandjie was in April heelwat goedkoper (-R140,57) nadat die prys in Maart beduidend gestyg het. Dit het verbruikers in dié Noord-Kaapse dorp vandeesmaand R5 722 vir ʼn basiese huishoudelike kosmandjie gekos.

’n Kosmandjie in Pietermaritzburg (R5 060) het verbruikers in April R61,82 minder as verlede maand gekos. Dit is wel R140 meer as die gemiddelde kosmandjie in April 2023.

Die Mtubatuba-kosmandjie (R5 284) was in April R91,76 minder as die vorige maand en R140 meer as die vorige jaar.

Werkersklas kry swaar

Die minimum loon in die land staan tans op R27,58 per uur en R220,64 vir ʼn agt uur lange werksdag.

Met 21 werksdae in April was die maksimum minimum loon vir ʼn algemene werker R4 633,44 – minder as die prys van ʼn gemiddelde kosmandjie.

Dié minimum loon moet boonop werkers se afhanklikes ook onderhou. Die gemiddelde swart Suid-Afrikaner het vier afhanklikes. Sou ʼn werker se minimum loon dus tussen vier mense verdeel word, beteken dit daar is R1 158,36 per persoon. Dit is onder die broodlyn van R1 558 per persoon per maand. Die getal afhanklikes van ander demografiese groepe word nie in die Household Affordability Index aangedui nie.

Luidens die verslag het ʼn basiese voedsame kosmandjie vir ʼn gesin van vier in April R3 763,96 gekos.

Gegrond op die prys van elektrisiteit en vervoer in Pietermaritzburg bestee algemene werkers 55,8% van hul minimum loon aan dié uitgawes.

Eers daarna word kos gekoop.

Dit beteken daar is te min geld oor om genoeg voedsame kos aan afhanklikes te voorsien.

Die verslag dui verder aan dat dit in April R959,38 gekos het om ʼn basiese voedsame dieet vir ʼn kind te verskaf.

Huishoudelike en persoonlike higiëne- items

Die indeks vir huishoudelike en persoonlike higiëne- items dui op ʼn styging van R6,47 vir April en ʼn jaarlikse styging van R78,93. Dit bring die gemiddelde koste van dié basiese items in April op R1 006,91 te staan.

Dit is alles produkte wat nodig is vir basiese higiëne, maar ding ook mee met noodsaaklike voedselitems.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Diepoppie ·

tamaties vir sakkie kos al R43! Waar dit verlede maand R25. Dis n groot sprong.

annie ·

Probeer gerus koffie of toiletpapier koop. Drink net eers jul bloeddrukpille. Die twee sy pryse loop om ‘n vreemde rede vinnig saam hoër. Al moontlikheid is dalk omdat beide noodsaaklikhede is en winkeleienaars dit gruwelik uitbuit.

RS ·

‘n Week terug staan ek in ‘n winkel en wou tamaties koop. R45 vir 4 tamaties.

Papsak ·

Nee o hel kyk ek weet nie wasrheen is ons oppad nie niks kom meer af nie als raak net duurder wat is fout mmm diesel is dan nou goedkoper as petrol nou hoe nou nee mense hel dit rask te erg regtig ??????

Kokerboom ·

Ons pluk die wrange vrugte van die jarelange miskenning en roekelose beleidshantering van die landbousektor deur die ANC regime!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.