Kosmos-dubbelmoord: ‘Ons wil net weet: waarom?’

(Foto: [links] Ruzanne Weideman, [regs] Magdaleen en Paul Prinsloo

Paul Prinsloo (61), die man wat van die dubbelmoord op sy vrou, Magdaleen Prinsloo (58), en stiefdogter, die 31-jarige Ruzanne Weideman, beskuldig word, het volgens Carlien Kleyn (57) en Nici Hanly (50) – Magdaleen se jonger susters – deurlopend kommerwekkende gedrag teenoor hul suster getoon.

Prinsloo het Dinsdag vir die derde keer in die Brits-landdroshof verskyn. Hy het tydens sy vorige hofverskyning op 12 Desember sy aansoek om borgtog laat vaar. Prinsloo het intussen ʼn private prokureur aangewys om hom in die hofsaak te verteenwoordig.

(Foto: Verskaf)

Sy regspan het Dinsdag aan die hof gesê Prinsloo is ʼn kankerpasiënt en is boonop deur ʼn spinnekop gebyt. Die landdros is daarna gevra of Prinsloo tot sy volgende hofverskyning in die hospitaal kan aansterk sodat hy behandeling kan ontvang. Die landdros het ingestem en die saak is tot Maart vir formele aansoek om borgtog uitgestel.

Carlien en Nici sê hulle weet Prinsloo is ʼn sieklike man, maar hulle het nie geweet kanker is by Prinsloo gediagnoseer is nie.

“Ons weet wat op die dag van ons suster en susterskind se moord gebeur het en ons sal seker maak dat geregtigheid geskied.”

Maroela Media het vroeër berig die ma en dogter is op 27 November omstreeks 14:30 by hul huis op Kosmos in Noordwes doodgeskiet. Daar was glo ʼn rusie tussen Paul en Magdaleen, waarna hy glo sy jaggeweer gaan haal en ma en dogter doodgeskiet het. Nooddienspersoneel het die twee op die toneel dood verklaar. Prinsloo is kort ná die voorval by die huis in hegtenis geneem en is sedertdien agter tralies.

Carlien en Nici sê hulle het reeds verskeie reëlings getref om op 18 Maart saam met talle ander mense na die landdroshof op te ruk om Prinsloo se aansoek om borgtog teen te staan.

“Ons wil hê die hele Suid-Afrika moet daar wees. Paul mag nie borgtog kry nie. Twee van die mooiste mense wat ons geken het, is wreed uit ons lewe geruk.

“Ons gaan nie toelaat dat die grumoord op ons liewe suster en susterskind ʼn stille dood sterf nie.”

Ruzanne Weideman en haar ma, Magdalena Prinsloo (Foto: Facebook/Ruzanne Weideman)

Die twee susters sê die voorval gaan egter oor veel meer as die dood van hul suster en susterskind. “Dit gaan ook vir ons oor die geweldige tempo waarteen vroue en kinders in ons land vermoor word.”

Paul en Magdaleen was 14 jaar getroud en het mekaar as studente ontmoet. Hulle was glo dolverlief. Die verhouding het glo skipbreuk gely weens Paul se beweerde ontrouheid. Magdaleen het daarna nuwe liefde gevind en met die man getrou by wie sy twee kinders gehad het. Ruzanne was haar jongste.

Magdaleen en Paul het jare later weer ʼn verhouding begin. Carlien vertel dat haar ouer suster geglo het dat dit storieboekliefde is, maar “min het sy geweet hoe die storieboekliefde in ʼn absolute tragedie sou ontaard”.

Magdaleen en Paul (Foto: Verskaf)

Die twee susters het aan Maroela Media gesê Paul het Magdaleen toenemend van die familie vervreem.

“Nie een van ons het regtig met hom oor die weg gekom nie; daar het al soveel dinge gebeur, ons het ons suster al soveel keer teen hom gewaarsku…

“Ons moes later groot familiebyeenkomste sonder ons ouer sussie geniet, sy het altyd verskonings gehad, maar ons dink Paul het haar van ons weggehou.

“Magdaleen is selfs verbied om op enige vorm van sosiale media te wees.”

In hierdie stadium wil hulle egter nie veel meer sê nie, uit vrees dat hulle dalk die saak teen Paul in die wiele kan ry.

Carlien en Nici sê Ruzanne se sesjarige dogtertjie woon nou by haar pa.

“As iemand wil weet hoe dit met haar gaan? Dit gaan soos wat dit met enige sesjarige sal gaan wat haar ma en ouma op een dag verloor het … soos wat dit met enige sesjarige sal gaan wie se ‘oupa’ van die moord op haar ma en ouma beskuldig word…”

Magdaleen was byna haar hele lewe lank ʼn onderwyseres, ʼn vrou wat geweldig baie “liefde en omgee in haar hart” gehad het. As sy iemand kon help, was sy op haar gelukkigste, vertel die twee susters.

“Sy [Magdaleen] en Ruzanne was ongelooflik na aan mekaar. Ruzanne het in ʼn stadium met die verkeerde vriende betrokke geraak, maar haar ma het nooit opgehou om in haar dogter te glo nie.”

Carlien en Nici sê die susters se ma is twee jaar gelede oorlede.

“En vandag is ons eintlik dankbaar daaroor, want hierdie seer waardeur ons nou moet gaan, is vir haar gespaar – sy sou dit nie oorleef het nie.

“Ons enigste vraag aan Paul is: ‘hoekom?’

“Ons wil net weet waarom? Wat van die sesjarige dogtertjie wat haar ma en ouma op so ʼn wrede manier moes verloor? Wat van Magdaleen se seun wat sy ma en suster op een slag verloor het?

“Wat van ons?”

Magdaleen en haar twee susters, Carlien en Nici (Foto: Verskaf)

Ruzanne en Carlien (Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Casper ·

Èk voel net soos julle voel maar ongelukkig het hy die reg tot mediese sorg maar hy kan in die gevangenis ook mediese sorg ontvang.Hy moet nie nou sy kanker voor hou nie,hy moes daaraan gedink het voor hy die sneller getrek het.Hy moet mediese verslae indien tot die effek.

Bolandse Nooi ·

Carlien en Nici, julle moes lankal onraad vermoed het en IETS gedoen het, al is dit net om ‘n pastoor of maatskaplike werker se hulp in te roep. Ek is met julle waar dit die hartseer, pyn en lyding wat veroorsaak is deur jul swaer veroorsaak is, maar … julle moes iets probeer doen het toe julle agtergekom het hy is abnormaal jaloers of hou jul suster en haar kind van die res van die familie af weg.

Thys ·

Stem saam met almal, maar die freg sy verloop neem. Terloops, ek daag die een uit wat sonder sonde is, gooi die eerste klip

Natasha ·

@bolandse nooi Jy kan nie intree as iemand nie wil he jy moet intree nie. As hul suster nie om hulp gevra het nie kon hulle op hulle koppe staan dit sou nie n verskil maak nie. Al wat mens kan doen is daar wees vir daai geliefde vir waneer hulle dit nodig het. Dis nie so maklik as wat jy dink nie.

Ek dink die susters het genoeg pyn en jou stelling wat ek voel is gemaak uit onkunde, help hulle nie. En nie almal wat jaloers, obsessief ens is, maak dood nie.

Ek was daar met familie, met n suster. Ek praat uit ondervinding.

Sterkte aan die wat agterbly. Ek hoop julle kry antwoorde en berusting.

Francis ·

Praat liewer met persone wat teenwoordig was op daardie hartseerdag.’n Jaggeweer as toevlug helder oordag…!Iets ergs moes dít veroorsaak het!!!

Pieter ·

Die vraag is wat laat ‘n normale man so iets doen. Baie manne bloei stil in pyn, want jy mag mos nie daaroor praat nie. Ons sameleweing het ‘n baie eensydige samelewing geword.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.