Koster: Munisipale bestuurder dalk tronk toe na verlof tot appèl slaag

Die Kgetlengrivier-munisipaliteit. (Argieffoto: Molaole Montsho/ANA)

Die hooggeregshof in Mmabatho, Noordwes, het verlof tot appèl toegestaan teen ’n vorige beslissing dat die munisipale bestuurder van die Kgetlengrivier-munisipaliteit nie skuldig is aan minagting van die hof nie.

Daar is op 19 Mei verlede jaar bevind dat Joseph Mogale nie skuldig is aan minagting van die hof nadat hy klaarblyklik geen poging aangewend het om die water- en rioolwerke in Koster reg te ruk nie en versuim het om aan spesifieke bepalings van ’n hofbevel te voldoen. ’n Volbank regters van die hooggeregshof in Mahikeng sal nou die beslissing heroorweeg.

AfriForum se privaatvervolgingseenheid het namens die aksiegroep Kgetlengrivier Besorgde Inwoners (KBI) stukke opgestel om aansoek te doen om verlof tot appèl en het ook die saak in die hooggeregshof geargumenteer.

Regter AJ Mahlangu het ook in Mei verlede jaar beslis dat die KBI die water- en rioolaanlegte in Koster en Swartruggens aan die munisipaliteit moet teruggee. AfriForum ondersteun ook die KBI in hierdie hofsaak. Sy het besluit om die appèlaansoek op stukke te beoordeel en dit was dus nie nodig vir die partye om te argumenteer nie.

Adv. Gerrie Nel, adv. Phyllis Vorster en Wico Swanepoel van AfriForum se privaatvervolgingseenheid tree namens die KBI op. Die privaatvervolgingseenheid het in Maart verlede jaar hofaksie ingestel om uitvoering te gee aan die hofbevel waarin die hooggeregshof in Mmabatho ’n opgeskorte vonnis van 90 dae tronkstraf aan die munisipale bestuurder opgelê het omdat hy en die munisipaliteit na bewering dieselfde hofbevel geminag het.

“Ons verwelkom die regter se toestaan van verlof tot appèl aangesien ons van mening is dat daar ’n sterk saak teen die munisipale bestuurder is. Ons kan nie toelaat dat munisipale amptenare bloot wegkom met die verontagsaming van hofbevele nie,” het Swanepoel, aanklaer by AfriForum se privaatvervolgingseenheid, gesê.

“Daarom sal ons die KBI ook bystaan met die appèlsaak om te verseker dat geregtigheid en die oppergesag van die reg seëvier. Ons is vol vertroue dat die hof sal bevind dat die respondent hom wel skuldig gemaak het aan minagting van die hof.”

Volgens Johan Kruger, hoof van gemeenskapsontwikkeling by AfriForum, is dié verwikkeling positief, veral omdat dit die gebruik is dat bevele hangende ’n appèlaansoek opgeskort word tot tyd en wyl die appèluitspraak gegee word.

“Dit kan tot gevolg hê dat Pionier en die KBI weer beheer sal kry oor die water- en rioolaanlegte en hierdie dienste na behore sal kan bestuur.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Chris dupreez ·

Hy gaan net die binnekant van grooter kantoor en n hoër pos sien. So beskerm die anc sy ontplooide kaders

ES ·

Hy sal – die banke speel nie speletjies met bedrog nie. Hulle sal hom privaat vervolg as hulle voel dat die staataanklaer nie sy/haar werk doen nie.

domheks ·

Ken te veel is die howe, dit is dan ‘n kader, hoe kan hy nou tronk toe gaan? MMMMMM

Sê maar net ·

Welgedaan Adv. Gerrie Nel, adv. Phyllis Vorster en Wico Swanepoel van AfriForum. Hoop en bid hy word gevonnis.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.