Kovsie wat in tref-en-trap sterf, was ‘inspirasie’

Lithemba Mpambani (23) was ‘n vierdejaarstudent in BA Beeldende Kuns aan die UV (Foto: Siyanda Mpambani, Facebook)

“Sy was ʼn inspirasie vir haar medestudente, gemeenskap en familie.”

Só sê die familie van Lithemba Mpambani (23), wat meer as twee weke gelede by die Universiteit van die Vrystaat (UV) deur ʼn motor doodgery is.

Die polisie is steeds op die spoor van die motoris wat ná die ongeluk weggery het sonder om stil te hou.

Maroela Media het vroeër berig die ongeluk het op 24 April omstreeks 22:00 by die universiteit se hoofhek plaasgevind. Lithemba, ʼn vierdejaarstudent in BA Beeldende Kuns aan die UV, was op pad om die kampus te verlaat.

Brig. Motantsi Makhele, polisiewoordvoerder, het bevestig dat ʼn swart sedan Lithemba raakgery het. Die bestuurder van die voertuig kon egter steeds nie opgespoor word nie. ʼn Saak van strafbare manslag is by die Parkweg-polisiestasie teen die persoon aanhangig gemaak.

Makhele sê alle moontlike leidrade word opgevolg.

Siyanda Mpambani, woordvoerder van die Mpambani-familie, sê Lithemba se dood het haar familie geruk. “Ons het nooit verwag om só ʼn oproep van die universiteit te ontvang nie,” sê Siyanda.

“Sy was in die fleur van haar lewe en het ʼn blink toekoms voor haar gehad. Sy het reeds talle projekte aangepak wat haar loopbaan begin vorm het.”

Die familie het ook aangedui dat hulle nie in dié stadium Lithemba se kunswerk gaan verkoop of skenk nie.

Hulle het ook ʼn beroep op mense gedoen om na vore te kom met enige inligting wat die polisie moontlik in die ondersoek kan help.

“Ons hoop die skuldige word gou vasgetrek sodat hy verantwoordelikheid vir sy dade kan neem. Ons is kwaad, maar ook verward.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Tiptol ·

Daar is nie meer respek vir mense se lewens in ons land nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.