KP-hoë sterf

Dr. Lem Theron was die destydse hoofsekretaris van die Konserwatiewe Party. Hy is Donderdag in die ouderdom van 83 aan vermoedelik ’n hartaanval in sy huis oorlede. (Foto: Verskaf)

Dr. Lem Theron, destydse hoofsekretaris van die Konserwatiewe Party (KP), is Donderdag in die ouderdom van 83 in sy huis oorlede. Die familie vermoed hy het ʼn hartaanval gehad.

Theron het saam met sy vrou, Hannetjie (75), op Brits in Noordwes gewoon. Hy was in 1990 burgemeester van dié dorp voordat hy as hoofsekretaris by die KP aangestel is. Theron, wat ’n doktorsgraad in sosiologie gehad het, het vier jaar in dié amp gedien.

Theron het ná sy politieke loopbaan die eiendomsbedryf betree en was ten tyde van sy dood afgetree.

Sy seun, Marinus Zwaan, sê sy pa se dood is baie skielik.

“Hy was gister nog in die dorp, maar het baie moeg geword nadat hy by die huis gekom het.”

Zwaan sê sy pa se afsterwe laat ’n groot leemte.

“Ons gaan sy algemene kennis en al die stories wat hy vertel het baie mis.”

Hy sê die gesin sal Theron altyd as ’n vasberade man onthou wat standvastig in sy standpunte was.

Volgens Zwaan was daar gereeld in die huis oor politiek gepraat – iets waaroor Theron uiters geesdriftig was.

Hy sê sy pa het egter ook breë kennis van alle sportsoorte gehad.

Theron laat sy vrou, vier kinders en nege kleinkinders agter.

Sy begrafnis sal op Brits plaasvind, maar reëlings in dié verband is nog nie getref nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Kokkie ·

Innige simpatie aan die familie. Sterkte in hierdie hartseertyd.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.