Kragonderbreking laat Pta-reservoirs weer leegloop

(Argieffoto: Unsplash)

Krane in dele van Tshwane, veral aan die ooste van Pretoria, kan dalk weer opdroog.

Die Mapleton-pompstasie – wat Pretoria-Oos en omliggende gebiede van water voorsien – het die naweek weer onder kragonderbrekings deurgeloop.

Maroela Media het vroeër berig dat duisende inwoners van die hoofstad verlede maand vir byna ʼn week sonder ʼn druppel water moes klaarkom weens kragprobleme by Rand Water.

Themba Fosi, Tshwane se burgemeesterskomiteelid vir nutsdienste, sê die stad is sedert die aanvang van die onderbrekings opnuut in gesprek met Rand Water.

“Die eerste onderbreking is relatief vinnig opgelos, maar ons het laat gisteraand die kennisgewing ontvang dat die krag weer afgegaan het. Dit het beteken dat geen water gepomp kon word nie.”

Volgens Fosi is die elektrisiteitstoevoer glo Maandagoggend om 02:24 na die Mapleton-pompstasie herstel en dit werk sedertdien volstoom.

Die onderbrekings het egter tot baie lae vlakke van die Rand Water-reservoirs, spesifiek die Bronberg- asook Vlakfontein 1- en 2-reservoir, gelei.

“Sommige gebiede in Tshwane sal waarskynlik lae tot geen waterdruk ervaar terwyl die reservoirs hervul word,” sê Fosi.

“Ons vra om verskoning vir hierdie ongerief en sal aanhou werk om die deurlopende wateruitdagings in Pretoria-Oos en omgewing op te los.”

Cilliers Brink, uitvoerende burgemeester van Pretoria, het intussen meer inligting oor Rand Water se beoogde waterdigtheidstoets gevra. Die toetse word vir vyf dae, van 12 tot 17 Mei, beplan.

Tshwane het gevra om die reservoirs op te vul om enige nadelige uitwerking wat die toetse op die stad se watervoorsiening kan hê te beperk. Die kragonderbrekings pootjie egter hierdie voorbereidingspogings.

Die stad sê hy sal mettertyd meer besonderhede omtrent die onderbrekings gee. Inwoners word intussen weer gevra om water spaarsaam te gebruik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Bite Me ·

“Ons vra om verskoning vir hierdie ongerief…..” Blah blah blah! Selfde storie oor en oor. Tsk tsk tsk!

Papsak ·

Ek se weer hou op verskonings maak of vra doen julle werk liewers dan sal daar nie probleme wees nie

JvR ·

Nog iets wat geen sonpanele voor sal werk nie. Jammer aan al die Marie-Antoinettes

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.