Kragonderbrekings, skade ná swaar reën in Kaapstad

Stormskade in Blue Downs. (Foto: Brendan Magaar/ANA)

Amptenare van Kaapstad se rampbestuursentrum (DRMC) het hulle assessering van ʼn gebou in Bellville wat glo gedreig het om ineen te stort, afgehandel.

“Dit is ʼn sakegebou wat onstabiel gelyk het. Die stad se bouinspekteur is uitgestuur en sal volledige terugvoer aan die eienaar gee. Dit was nie nodig om die gebou te ontruim nie,” het die sentrum Saterdag in ʼn verklaring gesê.

Verskeie voorvalle van paaie wat oorstroom het en bome wat ontwortel is, is aangemeld ná die swaar reën en sterk wind wat Vrydag en oornag in Kaapstad gewoed het.

Kragonderbrekings is in Milnerton, Plumstead en Sybrandpark aangemeld en verskeie huise in Belhar, Strand, Khayelitsha, Woodstock en Claremont se dakke het afgewaai.

Die stad se elektrisiteitsdepartement werk daaraan om die kragtoevoer te herstel, terwyl ander departemente reeds met skoonmaakoperasies begin het.

“Op dié stadium het ons nog nie enige berigte van oorstromings in informele nedersettings gekry nie, maar dit sal na verwagting verander soos die dag vorder.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.