Kragonderbrekings vir dié Noord-Kaapse dorpe

(Argieffoto: Mazhar Zandsalimi/Unsplash)

Die grootmaat-elektrisiteitstoevoer vir vier Noord-Kaapse munisipaliteite gaan van Woensdag af beperk word nadat nog geen oplossing in verband met dié munisipaliteite se agterstallige kragrekening van gesamentlik meer as 2,8 miljoen bereik is nie.

Hierdie munisipaliteite het reeds einde September kennisgewings van Eskom ontvang dat hul grootmaat-elektrisiteitstoevoer beperk gaan word weens wanbetaling.

Luidens ʼn verklaring uitgereik deur Eskom skuld die Tsantsabane-, Emthanjeni-, Kamiesberg- en Richtersveld-munisipaliteit Eskom miljoene rande. Weens die oortreding van die elektrisiteitsvoorsieningsooreenkoms met dié kragvoorsiener sal die elektrisiteitsvoorsiening dan volgens ʼn gereguleerde patroon beperk word.

Die Tsantsabane-munisipaliteit se kragrekening was teen einde Augustus met R154 909 143 agterstallig terwyl die Emthanjeni-munisipaliteit Eskom meer as R90 miljoen skuld.

Die Kamiesberg- en Richtersveld-munisipaliteit het Eskom teen einde verlede maand onderskeidelik meer as R21 miljoen en R12 miljoen geskuld.

Inwoners van Postmasburg, De Aar, Britstown, Hanover, Garies, Kamieskroon, Kroonsig, Klipfontein, Kheis, Nourivier, Spoegrivier, Paulshoek en Port Nolloth gaan van Woensdag daagliks tussen 06:00 en 20:00 kragonderbrekings beleef.

Hierdie onderbrekings sal voortduur totdat die munisipaliteite met Eskom ʼn ooreenkoms bereik.

“Die beperking van elektrisiteitsvoorsiening is altyd die laaste uitweg en word slegs ingestel sodra alle ander maatreëls uitgeput is om uitstaande skuld aan Eskom regmatig te vereffen. Eskom is versigtig vir die uitwerking van hierdie onderbrekings op die betrokke gemeenskappe en neem nie die besluit ligtelik nie,” lui die verklaring.

Die kragvoorsiener sê die opwekking, versending en verspreiding van elektrisiteit word teen ʼn koste gedoen, en Eskom kan nie elektrisiteit op ʼn volhoubare manier voorsien as hy nie vir sy produk en diens betaal word nie.

“As ʼn verantwoordelike entiteit en in nasionale belang is Eskom verplig om sy eie finansiële verliese te beperk. Net soos verbruikers ʼn verpligting het om munisipaliteite vir gelewerde dienste te betaal, is munisipaliteite ook verplig om Eskom te betaal.”

Eskom moedig kragverbruikers aan om alle nodige voorsorgmaatreëls tydens kragonderbrekings te tref, asook alle elektriese toerusting te hanteer asof dit gelaai en sodoende gevaarlik is ten einde beserings en skade aan hul toerusting, bedrywighede en ondernemings te voorkom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Johann ·

And there were the “fellow south AFRICANS ” stay and dont pay?????????? Wonder ek ma net?

Gert Johannes ·

Wat van Soweto, hoeveel skuld hulle?? Die ANC het hierdie manier van geen betaling vir dienste al jare gelede, onder die NP regering al begin, wat verwag hulle vandag??@@ En dis nie net Soweto nie, gaan kyk maar vele van hulle met duur motors wat in blanke areas bly betaal ook nie en hulle dienste word nie gestaak nie, maar laat jy net 1 maand nie betaal nie, word jou krag simuur af gesny.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.