Kragperk ’n ‘positiewe stap’; meer duidelikheid geëis 

Gwede Mantashe, minister van minerale hulpbronne en energiesake. (Foto: Twitter)

Die minister van minerale hulpbronne en energie, Gwede Mantashe, het eindelik Donderdag die nuwe verhoogde drempel vir selfopwekking van elektrisiteit sonder ʼn lisensie in die Staatskoerant gepubliseer.

Die drempel vir selfopwekking – sonder ʼn lisensie – is van 1 MW tot 100 MW verhoog. Die gewysigde regulasies sal opwekkingsprojekte tot 100 MW in grootte vrystel van die Nersa-lisensiëringsbepaling – of dit nou aan die netwerk gekoppel is of nie.

Die nuwe drempel moes eintlik al teen Maandag in die Staatskoerant gepubliseer gewees het. “Hoewel dit laat is en daar geen verskoning aangebied is vir die sloerdery nie, is ons uiteraard verheug hieroor. Dit wys dat die burgerlike samelewing se druk doeltreffend is en dat die regering wel daarop reageer,” het dr. Eugene Brink, strategiese raadgewer vir gemeenskapsake by AfriForum, gesê.

Volgens Brink kan en moet gemeenskappe, ondernemings en munisipaliteite die nuwe geleentheid aangryp om energie-onafhanklikheid te bewerkstellig. “Daar hang ’n permanente swaard oor die land se kop as gevolg van ’n kragvoorsiener wat net nie behoorlik op dreef kom nie. Ons beklemtoon al vir jare dat selfopwekking die enigste manier is om elektrisiteitsvoorsiening tot voordeel van die ekonomie en die land te verseker.”

David Maynier, Wes-Kaapse LUR vir finansies en ekonomiese geleenthede, het ook die wetswysigings verwelkom. “Dit is ’n positiewe stap in die rigting van ’n meer oop, diverse en mededingende energiesektor en sal beleggers broodnodige sekerheid gee en vinniger opname en toegang tot bekostigbare, hernubare energie moontlik maak om die huidige tekort aan energie in Suid-Afrika die hoof te bied.”

Die wysiging is volgens Maynier egter nie genoeg om die energiekrisis in die land op te los nie.

“Daarom versoek ons die minister om meer duidelikheid te gee oor die potensiële rol van munisipaliteite as herverkoper, aangesien dit tans onduidelik is of munisipaliteite energie van ’n onafhanklike kragprodusent sal kan koop en dit dan aan hul kliënte kan verkoop, en of dit beperk is tot die aankoop van energie slegs vir eie verbruik.”

Mantashe is ook versoek om te verseker dat die registrasieproses vaartbelyn word, aangesien die risiko van rompslomp bestaan, wat die implementering van projekte vir hernubare energie kan ondermyn en sodoende die geleentheid verlore kan laat gaan.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Johan ·

Regulasies wat alles vernietig kan oornag, sommer op n Sondag afgekondig word, maar as dit iets is wat ons almal tot voordeel is dan word daar gesloer. Daar is n aktiewe veldtog teen ons ekonomie en ons moet dit aanhou beveg met alles tot ons beskikking.

VaalDonkie ·

Ek wens hulle wou verstaan dat as die ekonomie goed doen, dan is daar meer belasting om te plunder. So kan almal wen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.