Kriminele klagtes kom oor gebarste slikdam

(Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

ActionSA het Woensdagoggend kriminele klagtes by die polisiestasie in Jagersfontein, Vrystaat, ingedien oor die slikdam wat op 11 September gebreek en groot verwoesting in dié myndorp veroorsaak het.

Die klagtes is gelê teen die departement van minerale hulpbronne en energie, die Kopanong-munisipaliteit (wat Jagersfontein bedien), Jagersfontein Development (wat die diamantverwerkingsaanleg besit) en die Vrystaatse departement van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta).

“Die slikdamramp is ’n blatante skending van menseregte waarvoor hierdie entiteite aanspreeklik gehou moet word,” sê Nomawethu Sbukwana, woordvoerder van ActionSA.

“Sedert die ramp het die Vrystaatse regering nog nie veel gedoen om die slagoffers te help nie.”

Volgens die party volg die klagtes op gerugte dat ’n tweede myndam se wal Dinsdag gebars het. Maroela Media het egter Woensdagoggend berig dat hierdie gerugte vals is, en dat ’n skoonwaterdam by die myn oorgeloop het.

Die dam, wat as Dam 10 bekendstaan, is geleë aan die agterkant van die slikdam wat gebars het en die oorloop van die dam het geen skade aangerig nie. Die dam is teen Dinsdagaand reeds herstel.

ActionSA sê nietemin dit is in belang van geregtigheid vir diegene wat deur die ramp geraak is dat hierdie klagtes gelê word.

Hul klagtes berus op die oortreding van die Grondwet, die Nasionale Omgewingsbestuurswet, die Nasionale Waterwet, artikel 29 van 2007 van die Wet op Minerale en Petroleum, artikel 108 van 1997 van die Wet op Waterdienste, asook artikel 28 van 1996 van die Wet op Myngesondheid en ‑veiligheid.

Honderde gesinne van die Charlesville- en Itumeleng-nedersetting het op 11 September met slegs die klere aan die lyf gevlug toe slik teen ʼn spoed van die myn se kant aangestroom gekom het nadat die damwal gebars het.

Altesaam 186 mense is dakloos gelaat nadat hul huise vernietig is en besittings weggespoel het. Ralehana Aaron Mosoeu (78) het tydens die ramp omgekom en twee persone, Mantele Mokhali (50) en Shadrack Williams (70), word nog vermis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

JohanR ·

Wat kan jy verwag? Dis ‘n ANC provinsie. ‘n ANC staan nie eers uit ‘n stoel op tensy dit is om ‘n Checkers sakkie met R80000 in te ontvang vir daai onwettige tender.

Wondermaarnet ·

ee aa oo iii eeee die een verskoning na die ander eee aaa gaan nou weer uitgedink word.

annie ·

Baie toevallig dié twee damwalle so ná mekaar breek net na ‘n nuwe groep oorvat. Hoeveel versekering is ter sprake? So ietsie van die skade herstel en die res in die nuwe sitkamerbankkussing prop of soiets? Die versekeringsgroep moet bietjie voete in die aswater steek en gaan kyk…

Piet ·

Volgens die party volg die klagtes op gerugte dat ’n tweede myndam se wal Dinsdag gebars het. Maroela Media het egter Woensdagoggend berig dat hierdie gerugte vals is, en dat ’n skoonwaterdam by die myn oorgeloop het.

Johann ·

En wat van al.die ander myne en nalatenskappe. Veral die wat deur onbevoegde BEE kandidate bedryf word?

Danie ·

N Mens kan maar net n klip in die bos gooi en sien wat spring uit?Hierdie hele aangeleentheid laat baie vrae gaan dit oor geld?In die era glo ek daar is n plan agter n plan.Jammer vir die boere en hul vee.

Nie Verbaas ·

Hoekom is die dam dan herstel as dit net oorgeloop het?

Francois ·

ANC sal altyd stemme kry, en die ander partye se potensiele stemmers kla net heeltyd, maar daag nooit by die stembus op nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.