Paniek toe dam in Jagersfontein oorloop

(Foto: Anja van der Merwe)

Inwoners van Jagersfontein in die Vrystaat slaak ʼn sug van verligting nadat ʼn skoonwaterdam wat Dinsdag deur die dag oorgeloop het, reeds teen die aand herstel is.

Toe die Vrystaatse regering boonop Dinsdagaand ʼn verklaring uitgereik het dat ʼn “tweede damwal gebars het”, het die nuus oor “nog ʼn ramp” vinnig versprei. Jagersfontein Developments – wat die diamantverwerkingsaanleg besit – het egter Woensdagoggend aan Maroela Media bevestig dat hierdie inligting vals is.

Volgens Johan Combrink, mynbestuurder, het die dam wat as Dam 10 bekendstaan, oorgeloop. Die dam is aan die agterkant van die slikdam wat op 11 September gebars het, geleë.

“Toe die inwoners Dinsdag weer water by die dam sien oorloop, het die ergste deur hul koppe gegaan: Hier is ʼn tweede ramp op pad,” sê Albertus van Schalkwyk, voorsitter van die boerevereniging op Jagersfontein.

“Dit was egter net ʼn gewone wateroorloop.”

Die water het oorgeloop en ʼn gedeelte van die Charlesville-nedersetting geraak, maar geen erge skade aangerig nie. Die Itumeleng-nedersetting is glad nie geraak nie, sê Estelle Noordman, ʼn DA-raadslid op Jagersfontein.

“Die water is skoner as die slikdam sʼn wat gebars het, omdat die slik onder in die dam lê. Die dam is ook kleiner as die ander dam,” sê Noordman.

Altesaam 164 huise in Charlesville en Itumeleng is vernietig toe die slikdam vroeër die maand gebars het.

Inwoners bespiegel dat Dam 10 oorgeloop het nadat sowat 10 mm lentereën vroeër die week op die dorp uitgesak het.

(Foto: Verskaf)

Van Schalkwyk sê egter die oorloop het plaasgevind omdat die slik – wat op 11 September die dorp verspoel het – die waterpype wat onder die pad deur loop verstop het en die water dus nie behoorlik dreineer het nie.

“Die myn het teen Dinsdagaand die pype oopgemaak en die water vloei nou weer normaal,” sê Van Schalkwyk.

Van Schalkwyk het boonop inwoners se vrese dat die hoër slikdam ook kan bars, in die kiem gesmoor. “Die myn is besig om dié dam leeg te pomp in ʼn ou myngat in, so daar is geen verdere gevaar nie.”

Volgens Noordman vorder opruimingswerk goed in die nedersettings, waar slik voor die huise en in die strate weggeskraap word.

Van Schalkwyk sê die dik slik moet so gou as moontlik opgeruim word, omdat dit ʼn verdere gevaar vir inwoners kan inhou.

“ʼn 2 cm-kors vorm bo-op die slik, maar slik onder die kors is nog sag. Kinders gaan speel op die kors, en kan inval,” sê hy.

Toesighouers het vroeër aan Maroela Media gesê die opruimingswerk kan dalk nog die res van die jaar duur. Opruimingspanne werk nou 12 uur per dag.

(Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

Altesaam 186 mense wie se huise onbewoonbaar is, word tans nog in Bloemfontein gehuisves, terwyl die ander tydelik by familie op Jagersfontein ingetrek het.

Volgens Van Schalkwyk skarrel boere wie se plase deur die ramp geraak is, nog om die stukke op te tel.

“Die grootste prioriteit nou is om vars water vir boere se vee – waar kampe deur die slik geraak is – te kry.”

Intussen is ʼn roudiens Saterdag vir Ralehana Aaron Mosoeu (78) – wat tydens die ramp op 11 September omgekom het – gehou. Sisi Ntombela, premier van die Vrystaat, het saam met talle regeringslui die roudiens bygewoon.

Twee persone, Mantele Mokhali (50) en Shadrack Williams (70), word nog vermis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jack ·

Enige iets is moontlik en kan verkeerd gaan as die kaders dit bestuur of beheer.Kyk maar na die klein dorpies in die land.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.