Krisis by polisie se 10111-sentrums

Miljoene inbellers beëindig oproepe na die polisie se 10111-sentrums voor dit beantwoord word. (Argieffoto: SA Polisie)

Minder as die helfte van die personeel wat nodig is om die polisie se 10111-noodoproepsentrums doeltreffend te beman, is by dié sentrums ontplooi en miljoene oproepe na die sentrums word jaarliks afgesny.

Bheki Cele, minister van polisie, het in antwoord op ʼn parlementêre vraag van die DA gesê altesame 4 061 van die ideale 10 032 personeellede is by die polisie se noodoproepsentrums in al nege provinsies ontplooi.

Dit is 40,48% van die personeel wat werklik benodig word.

“Dit is skokkende statistieke, gegrond op terugvoer vir die boekjare 2020-’21 en 2021-’22, asook sedert 1 April verlede jaar tot nou,” sê Andrew Whitfield, die DA se woordvoerder oor polisie.

In 2020-’21 was net 41,63% van beskikbare poste by die sentrums gevul. In die 2021-’22-boekjaar het die syfer op 41,5% gestaan en sedert 1 April verlede jaar was 39,33% van poste by die polisie se noodoproepsentrums gevul.

Die minister se antwoord wys dat 3 344 die ideale getal mense is wat by noodoproepsentrums ontplooi moet word (vir die 2020-’21-boekjaar). In werklikheid het dié syfer op 1 392 gestaan. Vir die 2021-’22-boekjaar het selfs minder mense – 1 354 – by die oproepsentrums gewerk. Vanaf 1 April verlede jaar het die syfer selfs verder teruggesak: tot 1 315 werkers terwyl die werklike behoefte steeds op 3 344 gestaan het.

Wanneer daar na afgesnyde oproepe verwys word, behels dit oproepe wat laat vaar is; dus, inbellers wat self die oproep beëindig het voor dit na ʼn agent deurgeskakel is. In ander gevalle word oproepe binne 10 sekondes deur die inbeller beëindig, voor die oproep na ʼn agent deurgeskakel is. Sommige oproepe word ná 10 sekondes deur die inbeller beëindig indien dit nog nie na ʼn agent deurgeskakel is nie en sommige oproepe word deur inbellers beëindig nadat ʼn agent dit reeds beantwoord het.

Die 10111-diens is vir enige noodgeval wat ʼn reaksie van die polisie vereis, maar meer as sewe miljoen van dié oproepe word beëindig. Whitfield sê die syfers wys dat die onderbemande sentrums nie die aantal oproepe – van Suid-Afrikaners wat deur misdadigers bedreig word – behoorlik kan hanteer nie.

Whitfield sal nou aan die voorsitter van die portefeuljekomitee oor polisie skryf om te vra dat die nasionale polisiehoof binne 30 dae ʼn omvattende omkeerplan vir 10111-sentrums landwyd voorlê sodat dit in die parlement bespreek kan word.

“Die 10111-nommer is vir sommige van ons mense die enigste hulpmiddel ter verdediging terwyl hulle steier weens die meedoënlose vlaag misdaad wat deur Suid-Afrika strek.

“Ons kan nie toelaat dat Suid-Afrikaners aan die genade oorgelaat word en selfs meer weerloos is weens die onvermoë van die polisie om op noodgevalle te reageer nie,” sê Whitfield.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

…met hordes generaals, brigadiers en kolonelle. Duisende konstabels en sersante wat bevorder word sonder om eksamens te slaag. Dit word glo gedoen om die moraal te verhoog. Vergeet van bevoegdheid.

kaplyn ·

Nee wat, ek bel eerder my plaaslike Afriform tak. Die 1011 nommer lui nie eers as jy bel nie.

Lillian ·

Die lot wat daar werk is onbevoeg net soos, meeste van hul kollegas in uniform

Danie ·

Al vul hulle al die poste dit spreek nie onbekwaamheid aan nie.Daar bestaan nie meer n verantwoordelikheid gevoel teenoor die gemeenskap nie.Totale verval van wet en orde.

Alexander ·

Als is in krisis… eens mooi dorpies lyk nou so 3de wêrelds ????

Robert ·

Die krisis in die polisie strek baie vêrder as net 10111!!!

Deon ·

Verminder generaals en dan behoort begroting te klop om sentrum te kan beman.

Nommer 7 ·

In die 80’s was daar net sewe generaals, my skoonpa was een van die sewe. Nou is daar 250.

Nie Verbaas ·

Julle bekommer julle verniet. Die “hoogs bevoegde en begaafde” Cele het alles onder beheer. Die ANC doen soos gewoonlik “fantasties” en Ramaphosa slaap voort.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.