Kroonstad is Dorp van die Jaar

v.l.n.r. Hannes van Wyk, Marciel Hopkins, Pieter van Rensburg en Christo Valentyn. (Foto: verskaf)

Die Vrystaatse dorpie, Kroonstad, pronk nou met ’n spoggerige titel.

In Sondagaand se episode van kykNET se gewilde joernaalprogram, Kwêla, is Kroonstad as die 12de wenner van die KIA Dorp van die Jaar-kompetisie gekroon.

Dié dorp se naam word nou by ’n gesogte lysie van wenners ingesluit: verlede jaar het Greyton in die Wes-Kaap met die louere weggestap, terwyl Kareedouw, Swakopmund, Jeffreysbaai, Mosselbaai, Mariental, Graaff-Reinet, De Rust, Sabie, Fouriesburg en Middelburg ook al die Dorp van die Jaar-kroon gedra het.

“Die terugvoer wat ons deur die jare oor die Kwêla Dorp van die Jaar-kompetisie gekry het, is ongelooflik. Van die dorpe het ’n metamorfose ondergaan,” het Hannes van Wyk, Kwêla se aanbieder, aan Maroela Media gesê.

Kroonstad het ’n splinternuwe, knap baadjie aangetrek en hoop om ’n inspirasie vir ander dorpe in Suid-Afrika te wees.

“Die oorwinning se uitwerking sal astronomies vir Kroonstad en sy inwoners wees. Eerstens skep dit hoop dat ons op die regte pad is en ’n voorbeeld daarstel vir die res van die land dat die herlewing van jou dorp haalbaar en moontlik deur samewerking tussen gemeenskap, ondernemings en stadsrade is,” het Pieter van Rensburg, ’n verteenwoordiger van die dorp, gesê.

“Dit het nie net oor die Kwêla Dorp van die Jaar-kompetisie gegaan nie, maar oor ’n groep mense wat ernstig is om hul dorp reg te ruk en so ook die hele land te help om dieselfde te doen.”

Die kompetisie lê Van Wyk na aan die hart, aangesien hy self in ’n klein dorpie grootgeword het.

“Ek voel baie keer dat ons in die stede soveel kanse en geleenthede kry, wat nie altyd dieselfde geval vir die plattelandse dorpies is nie. Dis hoekom die inspuiting wat ’n plattelandse dorp kan kry met dié kompetisie so belangrik is,” het Van Wyk gesê.

Die KIA Dorp van die Jaar-titel word toegeken aan die dorp wat die meeste SMS-stemme in die laaste stemweek van die kompetisie gekry het.

Vanjaar se naaswenner is Graaff-Reinet, wat in 2010 as die wendorp aangewys is, gevolg deur Keetmanshoop in Namibië, terwyl die ander finaliste in vanjaar se kompetisie Montagu (Wes-Kaap) Haenertsburg (Limpopo), Calvinia (Noord-Kaap), Cullinan (Gauteng), Pelgrimsrus (Mpumalanga) en Glencoe (KwaZulu-Natal) was.

Nie net kan Kroonstad nou met ’n gesogte titel spog nie, maar Kwêla se produksiespan skiet ’n toerisme-advertensie van 45 sekondes vir dié dorp. Dit sal boonop ook gebruik word in die R1 000 000- lugtyd wat Kroonstad kry om die dorp te bemark.

Kroonstad wen ook die KIA-makietie wat later vanjaar in die dorp aangebied sal word.

  • Kwêla word Sondae 18:00 op kykNET (kanaal 144 op DStv) uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

SjN ·

Geluk, wys net, dit Kan gedoen word, op n stadium het dorp sleg gelyk.

Harley Davidson ·

Dink net as elke dorp en stad in sa die positiewe rigting wil inslaan

Trotse Boervrou ·

Ek is stomgeslaan. Indien julle Kroonstad ‘n paar jaar gelede gesien het sou julle nie kon glo dat hierdie eer hul tebeurt sal val nie. Well done Kroonstad, of sal ek eerder sê well done aan hierdie span wat skouer aan die wiel gesit het. Ek sal nou moeite doen om weer in Kroonstad te kom net om te sien wat jul vermag het. Sjoe, julle kan ongelooflik trots wees! BAIE GELUK! Mag al die dorpe in jul voetspore volg.

Trotse Boervrou ·

Nou antwoord ek myself. Maw daar het niks daadwerkliks verander nie? Weereens stomgeslaan. Nou hoe dan? Lyk dit nog steeds soos altyd?

Johann ·

HUH? Praat ons van dieselfde KroonSTAT? Het twee weke terug ‘n kans gevat en by die groot slaghuis gestop…paaie n gemors en vuil. Hoe dan nou?

Republikein in die Wes Kaap ·

Stem saam Johann. Meeste van die dorpe wat genoem word is onder ANC beheer. Skuld Eskom en Waterrade miljarde. Korrupsie vier hoogty. Maar nou ja, standaarde is laag. 40% is seker ‘n wenner.

Ronél ·

‘n Kollega wie se ouers in Kroonstad woon het daar gaan kuier die naweek, noem net die hoofstraat is mooi en skoon die res is :STAT”

Walda ·

Fouriesburg lyk beslis baie slegter as toe hulle die toekenning gekry het:(

Danie ·

Baie geluk Kroonstad. Ek ry vroeg oggend deur Kempton Park oppad werk toe en sien die rommel in die strate toe kom dit ook by my op. Daar is so baie werkloosheid in die land en as elke winkel eienaar die karwagte wat daar voor sy winkel staan en karre oppas n besem en n skoppie gee om so deur die dag so bietjie skoon te maak en dan einde van die dag daai ou n paar rand te gee, dan kan dit mos werk om die dorp skoon te hou.

philippus ·

Kyk as Kroonstad wen, dan moet jy weet wat se klug is dit. In teendeel, dit spreek van ons vervalle waardes. Dink hulle moet eerder die dorp kies elke jaar wat die ANC die meeste deur hulle agter ente getrek het.

Karina ·

Baie geluk Kroonstadters, fantasties om jou ou geboortedorp in haar nuwe baaidjie te sien pronk.

Swerwer ·

Genade, Kroonstad van alle plekke. Geluk aan die Kroonstad inwoners, vir my bly dit ‘n vuil deurmekaar dorp.Was Saterdag weer daar vir ‘n besoek.

Genis ·

In Pretoria Noord het die gemeenskap begin buurt skoonmaak, toe wou Metro hulle vervolg… Kanie die werk doen nie (DA) nou teiken hulle publiek… Geluk Kroonstad…

Perdeby ·

Was baie verstom gewees, was so 3 weke terug daar deur, maar nee sal nie weer daardie kans waag nie dis vuil en die strate lyk soos ‘n rommelhoop.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.