Krugersdorp-koshuis gesluit oor virusgeval

Die seunskoshuis is gesluit nadat ‘n leerder positief vir Covid-19 getoets het. (Foto: Facebook)

Die seunskoshuis van die Krugersdorp High School is gesluit nadat ʼn matriekleerder positief vir Covid-19 getoets het.

Ivan Bailey, skoolhoof, sê in ʼn omsendbrief aan ouers die matriekleerder wat positief getoets het, is sedert Woensdag nie by die skool nie.

“Daar woon tans 60 seuns in die koshuis. Almal wat in klaskamers en in die koshuis in nabye aanraking [met die kind] was, is nagespoor en ouers sal dienooreenkomstig op hoogte gehou word.

“Indien enige simptome ontwikkel, moet kinders self-isoleer en vir Covid-19 getoets word.”

Bailey sê omdat die seuns naby aan mekaar in die koshuis woon en leefruimtes deel, het hy in oorleg met die departement van gesondheid besluit om die koshuis van Vrydag af te sluit.

Die koshuis is gister reeds ontsmet en diep gereinig.

Die koshuisseuns is Donderdag uit hul klasse gaan haal en gevra om aanvanklik in die koshuis te isoleer. Diegene wat moes toets skryf, sou dit afhandel voor hul ouers hulle kom haal.

Enige ander assessering wat nog gedoen word, sal deur individuele onderwysers hanteer word.

Bailey sê die seunskoshuis sal vir die komende week gesluit bly, waarna die skole op 23 April vir die vakansie sluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.