Krugersdorp-moorde: ‘Cecilia was poppemeester’

Cecilia Steyn op 23 Mei 2019 in die hof. (Foto: Christel Cornelissen)

Regter Ellem Jacob Francis het Maandag bevind Cecilia Steyn was die meesterbrein agter die sogenaamde Krugersdorp-moorde, ʼn “patologiese leuenaar” en die “poppemeester” wat die groep se toutjies getrek het.

Cecilia (38), Zak Valentine (34) en Marcel Steyn (21), die laaste oorblywende lede van die organisasie Electus per Deus (Gekies deur God), wie se verhoor nog afgehandel moes word, het tereggestaan op 11 moorde, asook dat hulle ʼn sogenaamde rampokkeronderneming tussen 2012 en 2016 bedryf het. Hulle het onskuldig gepleit.

Die moorde het groot opspraak gewek.

Geliefdes van diegene wat in die sogenaamde Krugersdorp-moorde dood is, het vanmiddag aandagtig geluister terwyl die regter sy ure lange opsomming van getuienis in dié opspraakwekkende saak gegee het.

Die meeste mense in die openbare galery het spontaan vorentoe geleun toe die drie beskuldigdes beveel is om te staan, waarna regter Francis sy bevindings op elkeen van die aanklagte teen hulle uitgelees het.

Cecilia is skuldig bevind op ál die aanklagte teen haar. Dit sluit in die 11 moorde, aanklagte van bedrog, diefstal en regsverydeling, die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie, rampokkery én die bestuur van ʼn rampokkeronderneming.

Die regter het bevind Cecilia se beheer oor en manipulasie van die groep was só oortuigend dat hulle enigiets vir haar sou doen. “Sy is die meesterbrein van al die misdrywe. As sy uit die verhouding gehaal word, het die misdrywe moontlik nooit plaasgevind nie,” het die regter bevind.

Die regter het gesê selfs Valentine het “uit haar hand geëet”.

Zak Valentine, Cecilia Steyn en Marcel Steyn in die hooggeregshof in Johannesburg [3 Junie 2019]. (Foto: Maroela Media)

Valentine is onder meer skuldig bevind aan rampokkery, oortredings wat verband hou met die gebruik van plofstof, die moorde op Natasha Burger en Joy Boonzaaier, die moord op pastoor Reg Benedixen, die moord op Valentine se vrou, Mikeila, die moorde op Peter en Joan Meyer en die poging tot moord op Joshua Groenewald.

Hy is onskuldig bevind aan die sogenaamde afspraakmoorde. Dit is gepleeg nadat hy sy dood versin het.

Valentine is ook skuldig bevind aan die bedrog, diefstal en regsverydeling wat verband hou met die plan wat die groep bewimpel het om geld van Valentine se lewensversekeringspolis te eis.

Wat betref Marcel Steyn, die jongste lid van die groep, het die regter bevind die Kinderwet is nié van toepassing op haar nie, al was sy 14 toe daar met die misdrywe begin is. Hy het haar skuldig bevind aan die afspraakmoorde [die moorde op Glen McGregror (57), Anthony Scholefield (67), Kevin McAlpine (29) en Hanle Lategan (52)], asook aan die moorde op Mikeila Valentine en Reg Benedixen. Marcel het haarself vroeër met dié moorde verbind.

Marcel Steyn in die hooggeregshof in Johannesburg [3 Junie 2019]. (Foto: Maroela Media)

Sy is ook skuldig bevind aan die aanklagte wat met die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie verband hou.

Die regter het gesê Marcel is hoogs intelligent en het die geleentheid om van die groep weg te kom, van die hand gewys. In sy opsomming het hy gesê sy het ook tot die einde van die verhoor gewag om met haar weergawe van gebeure vorendag te kom.

“Sy was dalk jonk, maar die moord op onskuldige mense kan nie verskoon word nie,” het die regter bevind.

Die regter het tydens sy opsomming voorts gesê daar moet holisties na die bewyse voor die hof gekyk word. Wanneer dit in geheel beskou word, skets dit ʼn duidelike prentjie van gebeure. Hy het ook gesê heelwat tyd het verloop sedert die misdade aanvanklik gepleeg is. Die getuienis verwys boonop nie net na ʼn enkele voorval nie, maar na verskeie.

Regter Francis het gesê die staat se saak berus op omstandigheidsgetuienis, maar dat dit nie ʼn swakker soort getuienis is nie, net ʼn ander soort.

Hy het bevind die groep was ʼn sogenaamde godsdienskultus en ʼn bedrogspul.

Die saak sal môre hervat word.

Lees alle vorige berigte oor die Krugersdorp-moorde op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Petro ·

Hoop hulle sit almal lewenslank.. Kyk die mooi mense wat vermoor is. Dis so hartseer ????

M Brett ·

Boervolk keer terug n Yahweh. Hoe gouer julle besef wie julle werklik is hoe gouer gasn Yahweh Ins uit hierdie Strafgerig Red.. Begin by die Tien Gebooie Exodus 20..Levitikus 19,en Matthew 6 :7-13.. Jesaija 56, 58.. ????????????????

Admin ·

Dit gaan nie oor ‘n “volk” of oor wat ek doen of nie doen nie ek kan nils doen om God se genade te verdien nog minder kan ek Sy arm draai …. Hy het deur Sy Genade Sy verlossing aan alle mense gegee Titus 2:11. Sy liefde reinig ons van alle ongeregtigheid. ALMAL wat Jesus aanneem gee Hy die mag om Kind van God te wees.
Elkeen een van ons moet Hom as ons persoonlike Verlosser en Saligmaker aanneem.
Daar is nie so iets soos ‘n uitverkore volk op grond van etniteit nie.

Lokkies ·

Wanneer geld jou baas geword het, sal niks jou keer nie. Erger as die ergste verdowingsmiddel. Al die mense hierbo is vermoor vir hul geld.

Valentine?? ·

Jammer julle, maar hy het ‘n KEUSE gehad; ek het geen simpatie met een van hulle nie. en hy lyk so ‘smug’. ek sal daarvan hou om daai ‘smile’ van sy gesig af te klap.

Emma ·

Om so wreedaardig te wees, hoop jy gaan opkyk na die Here in die tronk. Mag jy lank sit vir wat jy aan onskuldige mense gedoen het

Party Girl ·

My bloed kook behoorlik oor die moordenaars wat so sit met hulle vroom gesigte. Ek persoonlik wens die doodstraf kon in sulke gevalle weer ingestel word,net vir sulke gevalle

Anoniem ·

Hoe kyk ‘n mens ‘n onskuldige mens in die gesig en dan vermoor hom/haar. Hoe hoe doen mens dit net – en Valetine en Cecili sit rerig daaar met ‘n vroom gesigte asof hulle se ag whatever. Hierdie mense se lewens is net onskuldig gevat en Valentine jou vrou s’n ook – nee man ek sou ook hou daarvan om julle elkeen ‘n ruk te gee, maar gaan maar tronk toe met julle vroom gesigte – ons sal sien hoe lank dit hou…………………

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.