Kwanalu wil van Mooirivier-tolplaza ontslae raak

Vragmotors is tydens onluste in Kwa Zulu-Natal aan die brand gesteek (Julie 2021) (Foto: Rob Beezy, Twitter)

Die KwaZulu-Natalse landbou-unie Kwanalu versoek dat die Mooirivier-tolplaza op die N3 tussen Durban en Johannesburg verwyder word weens die risiko wat die ligging daarvan plaas op die volgehoue ekonomie van die provinsie.

Kwanalu het die versoek gerig aan Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling tydens ʼn vergadering op 16 Julie met belanghebbendes in die provinsie. Die versoek is gerig in die lig van verwoestende ekonomiese gevolge wat die sluiting van die tolplaza gehad het op die landbou-waardeketting en die gevolglike risiko van voedseltekorte in die provinsie.

Die organisasie, wat boere, landelike lede, kommoditeitsgroepe en landbou-ondernemings in KwaZulu-Natal verteenwoordig, het aanbeveel dat die regering ʼn ekonomiese sekerheidsrisiko-ontleding oor die ligging van die tolplaza doen.

“Ons glo dat die bevindings sal regverdig dat die tolplaza geskuif of in sy geheel verwyder moet word,” het Sandy la Marque, uitvoerende hoof van Kwanalu, gesê. “Ons doen ʼn beroep op die regering om die risiko te herken wat die ligging van die tolplaza inhou.”

Die versoek word ondersteun deur die landbousakekamer Agbiz.

“Buiten die verskuiwing [van die tolplaza] moet ʼn hoë veiligheidsheining ook opgerig word om die roete deur die hele Mooirivier- munisipale gebied te beveilig,” sê dr. John Purchase, uitvoerende hoof van Agbiz. “Agbiz het begrip vir die probleme van werkloosheid en armoede in die provinsie, maar ander oplossings vir dié probleem kan gevind en ontwikkel word – onafhanklik van die beveiliging van die N3.”

La Marque sê dit is ʼn voortslepende probleem. “Die sluiting van die tolplaza tydens oproer is iets wat ons al vantevore ervaar het. Die ligging van die tolplaza is ʼn gevaar en ʼn katalisator vir onrus. Dit is ʼn sagte teiken – ʼn geïdentifiseerde risiko vir enigiemand wat goedere of dienste wil vervoer.”

La Marque het ook gewys op die drastiese ekonomiese gevolge wat die sluiting van die tolplaza inhou vir die landbouwaardeketting in die provinsie.

“Dit is hoekom boere melk moes stort – nie omdat hulle dit wou doen nie, maar omdat hulle nie hul goedere veilig deur die tolplaza na die res van die land kon vervoer nie. Ons weet nou dat 25% van melk wat in KwaZulu-Natal vervaardig word, bestem is vir die res van die land. Hoe vervoer jy eiers, melk en ander bederfbare goedere wat mense daagliks verbruik wanneer dit nie veilig is om dit te doen nie?”

La Marque sê Kwanalu se lede het die reg om met hul dag-tot-dag ekonomiese aktiwiteite voort te gaan om kos te verskaf sonder dat hulle lewens in gevaar gestel word en sonder die finansiële implikasies wat die gebruik van die Mooirivier-tolplaza vir hulle en hul werknemers inhou.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

miavos ·

Raak ontslae van alle tolpunte. Betaal onderhoud van en die bou van paaie op ‘n ander manier. Sluit bv belasting by petrol in.

Robert ·

Maak net die belasting vas, sodat dit nie op nog Inkandla’s spandeer word nie. En aai toggie die afduimpie moet maar wakker skrik. :-)

Gatvol... ·

Ons betaal dit alreeds saam met die brandstof prys. Hoekom dink jy ons betaal so baie vir brandstof? SA voer brandstof uit na bv. Swaziland en Botswana en hulle verbruikers betaal aansienlik minder vir brandstof as ons in SA.

Robert ·

Alle tol hekke is gevaarpunte vir alle voertuie. Steun die voorstel 100%

Tanniepetoors ·

Tolpaaie is onding van die begin af. Waarvoor betaal ons brandstofheffings?

casper ·

Stem ten volle saam. Dit het ‘n nasionale moordepunt geword !!!

twaalfboor ·

In die goeie ou dae was Mooirivier ñ baken om te stop vir brandstof en ñ lekker onbyt. Nou is dit ñ brandpunt en een groot risiko om sommer net daar deur te ry. Red ñ nasie……

christo ·

Die ANC regering weet en is gewaarsku dat die Mooirivier tolplaza ‘n brandpunt is. Nogtans laat die ANC doelbewus dat vragmotors wat deel is van die belangrikste ketting in die ekonomie is, aangeval en uitgebrand word. Die ANC het te doen met ‘n hulle sogenaamde ‘derde mag’ en hulle hoef net introspeksie te doen om die skuldiges te vind. Die onderlinge geskille in die ANC is besig om SA te vernietig. Ons is op ons eie aangewese vir ons veiligheid en kan vergeet om te verwag dat die staat ons sal beveilig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.