Kwarantyngeriewe steeds ‘haglik’ ná inspeksie

Die rondawels is vervalle (Foto: Verskaf)

Die groep Suid-Afrikaners wat in die Zithabiseni-kwarantynkamp gedwing is, is steeds bekommerd oor hul gesondheid al het die departement van gesondheid die perseel verlede week besoek. Die groep van 107 Suid-Afrikaners moes die afgelope agt dae noodgedwonge hier tuisgaan nadat hulle van Mosambiek en Swaziland gerepatrieer is. Die Suid-Afrikaners moet hier bly totdat hulle vir Covid-19 getoets is. Dit het skynbaar nog nie gebeur nie.

Die departement van gesondheid het na talle klagtes oor onbehoorlike, ongesonde en vuil geriewe hier gaan ondersoek instel.

Leon Nel, ’n veearts van Midrand wat saam met sy gesin in die kamp moet vertoef nadat hulle verlede week van Mosambiek teruggekeer het, sê beamptes van die departement het die afgelope naweek deur die rondawels gestap en inspeksie gehou. Die departement het op versoek van die groep inwoners ook met hulle vergader om al die klagtes bespreek.

Nel sê met die inspeksie het die departement op kleiner probleme gefokus – soos om die toiletsitplekke asook stukkende storte en geisers te vervang.

“Die werklike groot lewensgevaarlike probleme – soos die stortplek vir vullis en mediese afval langs die kamp en die feit dat die personeel ons kos sonder handskoene, gesigsmaskers of enige voorsorgmaatreëls voorberei en bedien – is nie aangespreek nie,” sê Nel.

Van die kos is nie eers gaar nie (Foto: Verskaf)

Nel sê bobbejane het die naweek die rondawel waarin hulle moet bly, betree. “Dié wilde diere hou ernstige gevare vir ons en ons kinders in en kan siektes aan ons oordra,” sê hy.

Craig Hardie, nog ʼn lid van die groep wat van Mosambiek gerepatrieer is, is ’n diabeet en kry nie die regte kos soos sy dieet vereis nie. Hy word nou gedwing om die regte kos op sy eie koste aan te koop.

Nel het vroeër gesê die inwoners loop nou ’n groter risiko om onder daardie haglike omstandighede Covid-19 op te doen en hy vrees vir sy gesin se gesondheid.

Die regering het glo vir inwoners gesê hulle kan nie in hierdie stadium deur die staat getoets word nie en gaan steeds in die kwarantynkamp aangehou word ten spyte daarvan dat hulle nie weet of hulle die virus het of nie.

Nel sê hy het die afgelope naweek ’n span mediese diensverskaffers in sy private hoedanigheid probeer reël om die mense in die kamp te toets. Nel sou self die koste vir die toetse dra. “Die departement van gesondheid wou nie toestemming vir hierdie toetse gee nie,” bevestig Nel.

Daar is glo ook ’n stortplek vir vullis op die perseel (Foto: Verskaf)

Intussen is ’n span private mediese diensverskaffers wat deur AfriForum gereël is om mense by die kamp te toets, Saterdag toegang tot die perseel geweier. Dié toetse sou ook op inwoners se eie koste wees.

Maroela Media het vroeër berig AfriForum het ’n dringende skrywe aan die ministers van gesondheid en Dirco gestuur oor die haglike omstandighede waarin inwoners van dié kamp moet bly. Die burgerregte-organisasie het ook geëis dat die SAPD gehoor gee aan die gesin se wens om vir die virus getoets te word sodat hulle vrygelaat kan word en hulleself kan isoleer indien nodig.

“Dit is ’n skreiende skending van mense se basiese vryhede. Hierdie mense is vir alle praktiese doeleindes gevangenes. Nie net voldoen die fasiliteit nie aan die nodige standaarde soos deur die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) uiteengesit nie, maar word die mense teen hul wil daar gehou. Nou word boonop vir hulle gesê hulle mag glad nie getoets word nie. Dis ’n drakoniese menseregteskending wat AfriForum in die hof sal beveg,” het Ernst Roets, AfriForum se hoof van beleid en aksie, gesê.

AfriForum het reeds met sy regspan beraadslaag en die saak is op die hofrol van die hooggeregshof in Pretoria geplaas om Woensdag aangehoor te word.

Dumisani Malamule, woordvoerder van die departement van gesondheid in Mpumalanga, het Maandag aan Maroela Media gesê die departement kan op hierdie tydstip geen kommentaar oor die saak lewer nie weens die hangende hofsaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Wonder net ·

Wat ek nie kan verstaan nie is hoekom n klomp SA ners wat van die buiteland af terug gebring is en GEEN bydrae tot die SA ekonomie en TAX lewer nie, in 5 ster behandeling getrakteer word in afsondering, maar SA belastingbetalers en inwoners word soos gemors behandel. Waar is die regverdigheid daarin?

Fedup ·

I would have left the first day. And if they keep me against my will, uhm, never gonna happen. Talking is once again the focus point of this story. I wonder if talking will get them out.

Adam Adriaan ·

Waar is die MRK nou? Hulle het altyd ‘n keelvol as ‘n wit geskapene iets verkeerd doen teen oor ‘n swart geskapene. Wat sê julle nou ontrent hierdie situasie hê MRK. Kom ons kyk of julle enige kredietwaardigheid het, tov hierdie situasie. Blatante vertrapping van mense regte, wat daar aangaan!!!!

Michael 1 ·

Ek sal die minister van gesondheid dagvaar as hy my aanhou teen my sin oor covid 19 maat hy weier om my te laat toets asook vir die haglike toestant waarin hy my gevange hou.

Termiet ·

Al ons blankes se toekoms as ons nie nou gaan begin saam staan nie.

Karlahari ·

Daar is blykbaar 107 mense van alle rasse in die kamp.
En die klagte oor die toestande is algemeen.
So ten minste gaan AfriForum / Solidariteit almal verteenwoordig en kan daar nie weer vingers gewys word dat dit n rasse kwessie is nie.
Wonder net waar is die MislukteRasseKomissie se kommentaar op die kwessie.

OW ·

Hierdie situasie is ‘n skending van menseregte.Voor enige mense toegelaat kan word op so ‘n swak perseel,moet die perseel eers ge-oudit word deur ‘n Omgewingsgesondheidspraktisyn.Daar is nasionale regulasies onder die Wet op Voedingsmiddels,Skoonheidsmiddels en Ontsmettingsmiddels uitgevaardig waaraan ‘n veblyfsonderneming soos in hierdie geval moet voldoen.Die regulasies spreek die struktuur en higieniese vereistes aan.Net ‘n Ogp kan ‘n geskikheidsertifikaat vir voedsel hantering en voorbereiding uitreik.Die Ogp’s van die munisipaliteit waarin hierdie perseel val is die verantwoordelike persone.Hier is genoeg bewyse vir ‘n regsgeding.

Willem ·

Ek is net bly dis nie in die Wes Kaap nie. Kan julle daai lawaai indink

marius ·

Stuur dit en die plek by Ellisras asook die hospitaal in modimole , saam met The Ranch se media materiaal die hele wereld vol ! Ook die dat geskenkte kos by wittes afgeneem word !

Nie Verbaas ·

Lyk my net sekeres kwalifiseer vir R22700 per persoon per dag behandeling by die Ranch.

Ansie ·

En net nou die dag het die President ‘n lang gesang gesanik oor die belangrikheid van menseregte onder ons Konstitusie. Klem gelê daarop dat mense geregtig is op menswaardigheid en op die reg tot lewe. En toe wonder ek nou maar net oor ons boere se reg op lewe en waarom dit nie meer aandag geniet nie. Nou wonder ek ook oor bg mense se reg om menswaardig behandel te word. Geld dit hulle dan nie?

Agge nee ·

Ek dink die regering is nou net vermakerig. As ek ‘n kind was, sou ek sê, spitefull, omdat ,’n blanke tandarts en sy vrou namens almal gekla het, aaook omdat Solidariteit en Afriforum hulle wil help. Die saak kom môre in die hof. Hulle sal hierdie arme mense so ‘n uur voor, of gedurende die hofsaak, op parool laat gaan. Hulle het presies so gemaak met die jong dokters en die ander blanke dame se hofsaak. Hulle het hulle laat gaan, sommerso, nadat hulle menseregte aangetas, hulle tot in die grond verneder het. Die behandeling wat blanke landsburgers van ‘n vyandige regering kry, is walglik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.