Kyk: Betogers keer Lydenburg op sy kop

Skrywer: Narda Vermaak

Inwoners het Maandag in Lydenburg betoog weens swak dienslewering. (Foto: Narda Vermaak)

Chaos het Maandag in Lydenburg (Mashishing), Mpumalanga, geheers nadat inwoners van die informele nedersetting buite die dorp in groot getalle opgeruk het na die plaaslike munisipale kantoor. Betogers het buitebande gebrand, klippe na die polisie gegooi en selfs ʼn nabygeleë vulstasie geplunder. Inwoners, motoriste en selfs toeriste word op verskeie sosiale groepe gemaan om dié dorp vir eers te vermy.

Dit volg omdat betogers vies is oor swak dienslewering en die afsny van krag indien inwoners nie hul kragrekeninge betaal het nie.

Maroela Media het vroeër berig dat die Thaba Chweu- plaaslike munisipaliteit (TCLM), wat die dorpe Lydenburg, Sabie en Graskop insluit, Eskom nagenoeg ʼn miljard rand aan agterstallige elektrisiteitgeld skuld.

Die stadsraad het nou, in ʼn poging om die skuld in te vorder, begin om huishoudings met agterstallige rekenings se krag af te sny. DA raadslid Spiros Couvaras het bevestig dat TCLM nou teen wanbetalers optree in ’n poging om van sy skuld in te vorder.

“Ek stem saam met die afsny van krag in die geval van agterstallige rekeninge. Lydenburg kan onmoontlik aangaan om die gebied en uitbreidings se kragskuld te delg. Dieselfde gaan ook nou geld vir Sabie, Graskop en ander distrikte wat onder TCLM val.”

Inwoners het Maandag in Lydenburg betoog weens swak dienslewering. (Foto: Narda Vermaak)

Volgens betogers waarmee Maroela Media op die toneel gesels het, is hulle moeg vir die stadsraad se swak dienslewering en was die afsny van die kragtoevoer die laaste strooi.

ʼn Groot skare het saamgedrom by die munisipale kantoor in die midde-dorp en daarop aangedring om met die burgemeester en munisipale bestuurders te praat. Dié was egter nêrens te vinde nie en die hele gebou is agter slot en grendel nadat werknemers die oggend oor die optog ingelig is.

“Ons is moeg vir TCLM. Ons paaie is vol gate, ons dreine is verstop, ons kry nie water nie en nou sny hulle nog ons krag ook af. Ons gaan die plek afbreek, ons gaan [die munisipale gebou] brand as hulle nie luister nie,” het een betoger laat hoor.

Verskeie paaie in en om die dorp is met brandende bande versper, klippe is na polisielede geslinger en ʼn petrolstasie se yskaste is geplunder.

Inwoners is gewaarsku om weg te bly van die onderdorp nadat betogers en die SAPD slaags geraak het. Betogers het polisielede en dié se Njala met klippe bestook. In reaksie hierop het polisielede verskeie skote in die skare afgevuur.

Volgens lede van die polisie op die toneel is die hulp van Hazyview se veiligheidspolisie ingeroep. “Ons is tans nog in beheer van die situasie en kon daarin slaag om hulle [die betogers] terug te forseer na Mashishing. Die situasie kan egter enige tyd verander en daarom hou ons dit fyn dop.”

Niemand van die munisipaliteit kon vir kommentaar bereik word nie en die gebou word steeds deur polisie dopgehou.

Na bewering het die betogers aangedui dat die optogte vir drie dae sal aanhou en dat die ergste moontlik nog voorlê, sou hulle nie antwoorde uit stadsraad kry nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Werner ·

Die anargie wat na burgeroorlog lei is sterk besig om te eskaleer

Elize ·

Hoe sing Jan de Wet? Hier is ‘n chaos wat ons nie meer kan keer nie. Dit is hoe die toekoms van hierdie land lyk. Hulle wil nie betaal vir enigiets nie. Hulle wil net meer en meer bekom sonder om iets daarvoor te doen.

Misky ·

Dis al wat hulle kan doen is afbrand en vernietig. Op hierdie oomblik is dit chaos in Durban CBD en word ook geplunder en sommige winkels het brand skade opgedoen. Vermoede is xenofobies, maar almal wonder eintlik. Vat nie baie van hulle om so hand uit te ruk nie

Dup ·

Stem vir die geel,groen en swart party en alles sal weer regkom.
Dit is net skade en vernietiging waar jy kyk.
Ek en my famiie het nog nooit grond,huisvesting of munisipale dienste VERNIET gekry nie.Ons moes alle vaste eiendom koop en betaal en alle munisipale dienste ook voor betaal.
Wanneer het dinge dan verander?

Nie Verbaas ·

Hulle is regtig onder die indruk dat afbreek, plunder en verbrand is effektief. Duidelike onvermoe tot intilligente redenasie. Nou sit hulle met nog minder as vantevore. Nie baie slim nie.

Persheks Adri ·

Kan net mooi NIKS bou nie net breek magtag man! Bou sweet blow 0 in die land pffft of die ekenomie moet maar staan agv van hulle maggies man

quartus ·

maar met die komende munisipale verkiesing sal die mense maar net weer ANC stem

Hennie J ·

Ja, want hulle word in besonder in die landelike gebiede eenvoudig geintimideer want hulle word vertel hulle stem is nie geheim nie EN HULLE GLO DIT!!!

henndrik ·

Wat swak diens betref is hulle nie verkeerd nie. Ek dink hulle moet die skuldiges in die stadsraad verantwoordelik hou. Die wat nie krag betaal nie moet maar daarsonder klaarkom

Mariana ·

As ek nie my krag betaal nie word daar onmiddelik opgetree, die spul is agterstallig ook nog, wat beteken dat hulle kans gehad het om te betaal. Wat goed is vir een is goed vir ander. Maar hulle kry als verniet en in als hul sin. Als moet vernietig word…..

henndrik ·

Ek het bietjie verder hieroor gedink, hierdie mense wat so protesteer, kry hulle nie maar waarvoor hulle gestem het nie? Iemand moet dit vir hulle verduidelik

Fritz ·

Gaan betoog by die burgemeester se huis. Of by sy kinders se huise. Help niks om by die munisipale kantore te betoog nie.

Casper ·

Hierdie is alles te dankie aan plundering van fondseHet hulle by VBS gebank.Die inwoners betaal nie en dan kan die munisipaliteit ook nie betaal nie.Daar is nie geld vir dienste nie.Stel bekwame en eerlike mense aan.

Boon ·

Hoe is dit moontlik dat korrupte en lui en onbevoegde amptenare nie verwyder word uit hul poste nie? Dis dan die wortel van die probleem. Die wet beskerm die wat het, maar nie wat benadeel word nie. Wette is daar om reg e en regverdigheid en geregtigheid te dien, en nie andersom nie.

Jakes ·

Dienslewering in SA het sedert 1994 feitlik verdwyn. Die meerderheid mense wat nou so betoog kry wat hulle toekom want hulle stem mos vir die ANC. Plundery, klipgooi en brandstigting het die nommer een stokperdjie in SA geword.

Casper ·

‘n Eenvoudige vraag.April verhoog escom tariewe met 15%.As niemand nou betaal nie hoe gaan hulle dan betaal.Hoeveel geweld gaan daar dan gepleeg word as munisipaliteite krag afsny.Daar sal ferm teen wanbetalende inwoners opgetreë moet word en geweld sal met geweld onderdruk moet word.As ek nie water het nie betaal ek vir geen dienste nie.Belaglik verby maar mense is moeg vir swak dienste.Nog ‘n vraag,hoekom gaan dit nie in DA geleide munisipaliteite so nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.