Kyk: Goud én rekord vir Lara

Suid-Afrika se Lara van Niekerk word deur Kaylene Corbett en Tatjana Schoenmaker geluk gewens ná haar skitterende prestasie by die Statebondspele in Birmingham. Foto: Oli Scarff/AFP.

Suid-Afrika het nóg ’n goue swemmeisie en haar naam is Lara van Niekerk.

Die 19-jarige swemmer het so pas vir die derde agtereenvolgende keer die Statebond-rekord in die 50 m-borsslagitem verbeter.  Maar vanaand se poging van 29.73 sekondes smaak ongetwyfeld soveel soeter omdat dit in die eindronde was.

Sy het terselfdertyd ook gewys dat sy nie bang is vir druk op die groot verhoog nie.

Engeland se Imogen Clarke het soos ’n blits weggetrek en Van Niekerk moes spook om by te bly. Maar dit is nie noodwendig hoe jy ’n resies begin wat saak maak nie, maar eerder hoe jou eindpoging lyk; en die Suid-Afrikaner het omtrent uitgehaal en gewys.

Sy het met ’n kragtige eindpoging vorendag gekom om welverdiend die goue medalje vir Suid-Afrika te wen.

Tatjana Schoenmaker, die Olimpiese 200 m-borsslagkampioen was vierde met haar tyd van 30.41 sekondes terwyl die talentvolle Kaylene Corbett (31.10 sekondes) sesde geëindig het.

Uitslae:

  1. Lara van Niekerk 29.73 sekondes
  2. Imogen Clarke 30.02 sekondes
  3. Chelsea Hodges 30.05 sekondes
  4. Tatjana Schoenmaker 30.41 sekondes
  5. Jenna Strauch 30.85 sekondes
  6. Kaylene Corbett 31.10 sekondes
  7. Abbey Harkin 31.20 sekondes
  8. Kara Hanlon 31.39 sekondes.
  • Van Niekerk se 50 m-borsslagtye in Birmingham:

29.82 sekondes (uitdunronde)

29.80 sekondes (halfeindronde)

29.73 sekondes (eindronde).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.