Kyk: Ntando wen nog ’n goue medalje

Ntando Mahlangu (heel regs) op volle vaart. Foto: Twitter.

Ntando Mahlangu het so pas die 200 m (T61) by die Paralimpiese Spele gewen. Dit is die jong Suid-Afrikaner se tweede goue medalje in Tokio nadat hy ook vroeër sy verspring-kategorie gewen het.

Die Affies-man moes aanvanklik ’n kwaai aanslag van Groot-Brittanje se Richard Whitehead afweer, maar hy het oorgenoeg petrol in die tenk oorgehad om die item in ’n tyd van 23.59 sekondes te wen.

Whitehead was tweede met sy tyd van 23.99 sekondes, terwyl Duitsland se Ali Lacin die brons medalje met sy tyd van 24.64 sekondes ingeoes het.

Die 19-jarige ster het vóór sy wedloop ’n spesiale boodskap vir die Afrikaanse Hoër Seunskool gehad.

“Manne, laat daar lig wees. Hierdie een is vir julle!” het hy op Facebook geskryf.

Mahlangu se bene het nie volledig ontwikkel nie en hy was vir die eerste tien jaar van sy lewe aan ’n rolstoel gekluister. Sy lewe is egter in 2012 onherroeplik verander toe Jumping Kids (’n liefdadigheidsorganisasie) hom van hulp met die verkryging van prostetiese bene was.

Sedertdien gaan hy van krag tot krag in die atletiekwêreld en hy het as ’n 14-jarige die silwer medalje in die 200 m by die Spele in Rio de Janeiro losgehardloop. Vandag se gouemedaljepoging is ongetwyfeld die kersie op die koek.

“Wanneer ek hardloop, hoor ek nie juis die mense wat my aanmoedig nie. Op daardie oomblik maak niks anders saak nie en dit is asof ek skielik op my eie is. Dit is ’n wonderlike gevoel,” het Mahlangu gesê.

Dit is Suid-Afrika se sesde medalje van die 2020-Spele en die span is tans 28ste op die medaljepunteleer.

  • Uitslae van die 200 m- (T61-)eindronde:
  1. Ntando Mahlangu (Suid-Afrika) 23.59 sekondes
  2. Richard Whitehead (Groot-Brittanje) 23.99 sekondes
  3. Ali Lacin (Duitsland) 24.64 sekondes
  4. Luis Puertas (VSA) 25.40 sekondes
  5. Regas Woods (VSA) 26.74 sekondes

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

SomeOne ·

hulle lyk so gemaklik met hul prostese, mooi gedoen, almal wat daar teen mekaar meeding

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.