Kyk: Pikkies trek hul sokkies op

’n Video van ses pikkewyne met pienk en blou sokkies aan wat in ’n gang by die Twee Oseane-akwarium op die V&A Waterfront in Kaapstad waggel, het sosialemediagebruikers aan die gons (Foto: Devon Bowen via Two Oceans Aquarium)

’n Video van ses pikkewyne met pienk en blou sokkies aan wat in ’n gang by die Twee Oseane-akwarium op die V&A Waterfront in Kaapstad waggel, het sosialemediagebruikers aan die gons. Volgens die akwarium dra hierdie pikkies dit egter nie om mooi te lyk nie, maar om hulle teen dodelike infeksies te beskerm.

Die akwarium sê in ’n verklaring wanneer die pikkewynoppasser ’n klein voetbesering, ’n verdagte rooi kol of uitslag op die pikkewyn se poot opmerk, word die poot dadelik gesteriliseer. Die oppasser sal dan verbande om die poot draai om die wond toe te hou en die moontlikheid van infeksie te voorkom. Veterinêre rekverbande, wat soos gekleurde sokkies lyk, word dan oor die verbande getrek.

Die akwarium het ook waterstewels wat die pikkewyne se pote beskerm terwyl hulle swem.

Die akwarium het ook waterstewels wat die pikkewyne se pote beskerm terwyl hulle swem (Foto: Shanet Rutgers via Two Oceans Aquarium)

Volgens die akwarium is pikkewyne baie vatbaar vir die infeksie, genaamd hommelvoet, en moet die nodige voorsorgmaatreëls in plek wees om te verhoed dat die pikkewyne dit opdoen.

Volgens die akwarium is pikkewyne in die akwarium geneig om vinniger infeksies of beserings aan hul pote op te doen.

“Die pikkewyne in die akwarium bring meer tyd op land deur as hul wilde eweknieë. Hulle word op land gevoer en hoef nie soos wilde pikkewyne kos in die water te soek nie,” sê die akwarium.

“Die pikkewyne in die akwarium leef ook langer weens die afwesigheid van roofdiere en die hoë voedingswaarde van hul kos. Hierdie ouer pikkewyne is dan meer geneig om beserings en infeksies op te doen en genees nie so vinnig nie omdat hul immuunstelsels al redelik afgetakel is.”

Die akwarium sê ten spyte van goeie voorkomingsmaatreëls, soos om die habitat skoon te hou, kan ouer pikkewyne steeds hommelvoet opdoen en is bykomende versorging dus nodig.

Een van die ouer pikkewyne in die akwarium wat ekstra versorging nodig het se naam is Teddy. Hy is al amper 30 jaar oud.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Tanniepetoors ·

Die video is pragtig! Daai waggel stappies laat my sommer see toe verlang.

Veronika ·

Aaag dis te dierbaar vir woorde! Pikkewyne is so oulik!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.