Kyk: Vlok gesels oor Wêreldbeker, Dupont en liefdadigheidswerk

Vlok Cilliers. Foto: Verskaf.

Vlok Cilliers en skopwerk loop so hand aan hand soos koffie en beskuit, of Kaapstad en Tafelberg.

Die oud-Springbok is deesdae Frankryk se skopafrigter tot ná die 2023-Wêreldbekertoernooi en hy werk gereeld met talentvolle spelers soos Melvyn Jaminet, Antoine Dupont en Romain Ntamack.

Tog is liefdadigheidswerk vir hom ewe belangrik en hy het die VlokSkop-stigting van stapel gestuur; ’n puik inisiatief wat studente finansieel bystaan.

Volgens Cilliers lê jong mense hom na aan die hart. Saam met Helpende Hand identifiseer hy hulpbehoewende studente sodat hy hulle kan bystaan om hul studieskuld te vereffen.

Vir die gewilde skopafrigter is finansiële hulp egter nie genoeg nie. Van die studente het ’n ouer aan die dood afgestaan en hy poog om ook op ’n geestelike vlak waarde tot hul lewe te voeg.

“Ek wil graag ’n mentor vir die studente wees. Ons stuur gereeld WhatsApp-boodskappe vir mekaar, terwyl my vrou onlangs saam met hulle koffie gaan drink het. Ons wil nie die rol van hul pa of ma oorneem nie, maar ons wil daar wees vir hulle,” het hy gesê.

Die voormalige WP-speler hou daarvan om besig te bly en fietsry is een van sy gunstelingstokperdjies. Hy vertel dat hy juis van sy beste idees kry terwyl hy die speke laat sing.

Foto: Verskaf.

Hy is op 20 Maart weer op pad terug na Suid-Afrika en sy Tour de Tankwa-geldinsamelingsprojek is een van die belangrikste inskrywings in sy dagboek.

Cilliers sal dan ’n groep sakemanne vir drie dae op ’n fietsry-ekspedisie deur die Karoo neem. Benewens die trapavontuur sal daar ook lekker om die vuur gesels word.

“Die hoofdoel is om soveel moontlik geld vir die stigting in te samel. Ek hou daarvan om ’n verskil in ander se lewe te maak, om mense en veral kinders te help.”

Frankryk speel vanaand teen Engeland en Sesnasie-glorie wink ongetwyfeld vir die Hane. Nie net kan ’n oorwinning die All Blacks uit die tweedeplekstoel op Wêreldrugby se ranglys skop nie, maar volgens beroepswedders is hulle ook die gunstelingspan om volgende jaar die Webb Ellis-trofee omhoog te hou.

Hulle speel immers ook gasheer vir die internasionale rugbyskouspel.

“Frankryk het ’n goeie kans in die Wêreldbeker; ons is besig om ’n spesiale span te skep. Natuurlik is daar ander spanne wat ook aanspraakmakers is, maar die Franse het ’n talentvolle groep spelers en hulle is op die regte pad.”

Volgens Cilliers kan skopwerk ’n deurslaggewende rol in Frankryk speel.

“Op toetsvlak is die spelers se verdediging al so goed dat ’n span van skoppe gebruik moet maak om geleenthede in punte te omskep.”

Antoine Dupont is ongetwyfeld een van die Hane se groot gevaarmanne. Hy is in 2021 as Wêreldrugby se speler van die jaar aangewys en die Suid-Afrikaanse skopmeester is beïndruk met die jong skrumskakel se vaardighede.

Antoine Dupont. Foto: Anne-Christine Poujoulat/AFP.

“Antoine is werklik goed, hy is ’n speler van wêreldgehalte met ongelooflike werksetiek. Terselfdertyd is hy ook nederig en ’n baie goeie leier. Ek het al baie talentvolle spelers in my lewe afgerig, maar nog niemand soos hy nie. Soos die Engelsman sou sê: Hy is die complete package.”

Maar is hy beter as Faf de Klerk?

“’n Mens moet nooit vergelyk nie, want elke speler het sy eie sterk punte. Faf doen ongelooflike werk vir die Bokke, net soos wat Dupont vir Frankryk doen.”

Wat sy afrigtersplanne betref, probeer hy om nie te ver die toekoms in te kyk nie.

“As afrigter fokus ek bloot tot en met die Wêreldbeker en wat daarna gebeur, sal vir homself sorg.”

Vlok Cilliers maak beslis ’n verskil – nie net op die rugbyveld nie, maar ook in studentelewens.

Die Frankryk teen Engeland-wedstryd begin vanaand om 22:00 en die aksie sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

Frankryk: Melvyn Jaminet (heelagter), Damian Penaud (regtervleuel), Gael Fickou (binnesenter), Jonathan Danty (binnesenter), Gabin Villiere (linkervleuel), Romain Ntamack (losskakel), Antoine Dupont (skrumskakel en kaptein), Gregory Alldritt (agtsteman), Anthony Jelonch (flank), Francois Cros (flank), Paul Willemse (slot), Cameron Woki (slot), Uini Atonio (stut), Julien Marchand (haker) en Cyril Baille (stut). Plaasvervangers: Peato Mauvaka, Jean-Baptiste Gros, Mohamed Haouas, Romain Taofifenua, Thibaud Flament, Dylan Cretin, Maxime Lucu en Thomas Ramos.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.