KZN nou land se ‘moordhoofstad’

Nomusa Dube-Ncube, premier van KwaZulu-Natal (2014) (Foto: GCIS)

Die DA eis antwoorde van die KwaZulu-Natalse (KZN) premier, Nomusa Dube-Ncube, en haar LUR vir gemeenskapsveiligheid, Sipho Hlomuka, aangesien die misdaadstatistieke vir die vierde kwartaal – wat vroeër vandag bekendgemaak is – toon dat dié provinsie nou Suid-Afrika se moord- en verkragtingshoofstad is.

Sharon Hoosen, die DA se provinsiale woordvoerder oor gemeenskapsveiligheid, sê die syfers vir die tydperk Januarie tot Maart 2023 toon dat ʼn verbysterende 25,3% van alle moorde landwyd in KZN gepleeg is, met ʼn gemiddeld van 17 mense wat daagliks vermoor word. Intussen is Umlazi en Inanda-SAPD as die provinsie se moordbrandpunte geïdentifiseer.

KwaZulu-Natal het ook die hoogste getal vuurwapenverwante moorde aangemeld (842), wat dui op die verspreiding van gevaarlike wapens in die provinsie. Die provinsie bly ook die land se verkragtingshoofstad, met ʼn gemiddeld van 23 mense wat daagliks verkrag word. Intussen het gewelddadige kontakmisdaad ook met 5,1% gestyg.

“Die DA het deurgaans gewaarsku dat KZN op pad is om die gevaarlikste provinsie in die land te word – en nou is dit só. Die vraag is: Hoe sleg moet dit word voordat hierdie ANC-regering optree?”

Hoosen sê die DA verwag antwoorde van die premier en haar LUR. “Belangriker nog is dat hulle aan die mense van KZN moet verduidelik hoe hierdie ANC-bestuurde regering toegelaat het dat ons provinsie ʼn toevlugsoord vir misdadigers word – een waar vroue en kinders daagliks verkrag en vermoor word.”

KZN se departement van gemeenskapsveiligheid het ʼn jaarlikse begroting van R250 miljoen. “Die vraag is: Waarheen gaan hierdie geld?”

Die DA verwag die volgende van die LUR:

  • ʼn gedetailleerde plan oor die R160 miljoen wat vroeër vanjaar vir die bestryding van misdaad toegewys is;
  • ʼn uiteensetting van die R65 miljoen wat toegewys is vir Veiligheidsbevordering, wat die Vrywillige Sosiale Misdaadvoorkomingsprojek (VSCPP) insluit – ʼn sleutelprestasie-aanwyser vir gemeenskapsgerigte ingrypings en gemeenskapsopleidingsprogramme;
  • vordering oor die R17 miljoen vir monitering van die doeltreffendheid van gemeenskapsveiligheidstrukture; en
  • besonderhede oor die R3 miljoen wat toegewys is aan gemeenskapspolisieverhoudinge.

“Vandag se statistieke gee ook ʼn somber prentjie van huisrooftogte, ontvoerings, aanrandings, diefstal van motorvoertuie, inbrake, seksuele misdrywe, winkeldiefstal, diefstal en kommersiële en ander misdade. KwaZulu-Natallers leef in ʼn donker en ongelukkige plek. Hulle is nie veilig nie, maak nie saak waar hulle in ons provinsie gaan nie.”

Hoosen sê hierdie ANC-regering moet ʼn bladsy uit die DA-geleide Wes-Kaap se boek neem, wat ʼn afname van 14,1% in moorde sedert die vierde kwartaal van verlede jaar getoon het – die grootste afname in die land.

“Die DA in KZN het deurgaans oplossings aangebied om ons gemeenskappe veiliger te maak. Dit het op dowe ore geval. Dit is duidelik dat hierdie ANC nie omgee nie en geen plan het om KZN se mense te beskerm nie. Dit moet by die stembusse in 2024 gestraf word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

annie ·

Kyk DA, kyk DA en DA… En hoe het ons daar beland DA-DA. Zille kan dit mooi verduidelik. Sy kom mos uit die Progressiewe Party voorheen die Verenigde Party… En nou is ons verenig in ons ellende en skreeu net kyk DA, DA.

Chris ·

Word tog qakker. Dit is die moorde wat aangemeld word. Die res in “natural causes”.

Papsak ·

Die DA wil darem nog iets doen so kan maar luister as hulle praat ek staan vir DA

Charl ·

KZN kan nie die “moordhoofstad” van Suid Afrika wees, KZN is ‘n provinsie mét sy eie hoofstad Durban en ánder stede en dorpe ??

skurweberg ·

Erfgoed is swerfgoed. Alles op ‘n skinkbord gekry en alles is weg gegee, asof ons nie hard gewerk het daarvoor nie. Wat kan ‘n mens anders verwag. Alles steeds volgens “PLAN”

Dinge word oor-oor gesê. Mense raak afgestomp. “Niks wat gister gebeur het is beter as wat vandag gebeur nie” en so gaan die kondisionering en stryd vir die psige van die mens aan en aan. Alles volgens “PLAN.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.