Misdaadsyfers: ‘Oorlog in SA en misdadigers wen’

isdaad-polisie-crime-scene-kent-williamson-3

(Argieffoto: Kent Williamson)

Hoewel die misdaadsyfers vir Januarie tot Maart vanjaar in geheel “beter lyk” as ander kwartale, is dit steeds kommerwekkend dat daar nie ʼn algehele daling in die syfers vir moord en poging tot moord in die land is nie.

Dié syfers is egter die mees akkurate bepaling van die algehele misdaadprentjie in die land, het dr. Chris de Kock, onafhanklike misdaadontleder en voormalige hoof van misdaadinligtingsbestuur by die polisie, in reaksie op die kwartaallikse misdaadstatistieke vir Januarie tot Maart 2023 gesê.

Dié statistieke is Dinsdag deur polisieminister Bheki Cele bekendgemaak, en het ʼn algehele toename in moord (3,4%) en die meeste ander kontakmisdade (4%) getoon, vergeleke met dieselfde tydperk verlede jaar.

Dit beteken dat daar ondanks enige afplattings elke dag 70 mense in die land vermoor word, terwyl kontakmisdaad elke 50 sekondes van die dag gepleeg word.

“Die vierde kwartaal is tradisioneel ʼn moeilike kwartaal wat nie so goed lyk nie. Die syfers lyk beslis beter. Daar is nog steeds ʼn styging in moord en poging tot moord, maar dis gelukkig nie ʼn dubbele syfer nie – waar dit omtrent elke keer die geval by die ander kwartale was,” het De Kock gesê.

“Die styging in moord en poging tot moord is egter nog steeds hopeloos te hoog. Suid-Afrika is nou al byna boaan die ranglys wat moord betref. Ons móét ʼn daling begin sien.”

Die jongste moordsyfer dui aan dat 6 289 mense tussen Januarie en Maart vanjaar in die land vermoor is, van wie 1 214 vroue en kinders.

Maroela Media het vroeër berig dat afnames in moord in die Wes-Kaap, Noord-Kaap en die Vrystaat aangeteken is. Moord op kinders het ook met byna 20% gedaal. Cele het tydens sy toespraak gesê hoewel hy dié afnames verwelkom, moet dit nooit as ʼn oorwinning beskou word nie.

“Elke moord is een te veel,” het Cele gesê.

Luidens die statistieke was daar ook afnames in ander misdaad soos seksuele oortredings en trio-misdade, spesifiek met betrekking tot sakeroof en kapings, wat onderskeidelik met 5,3% en 5,2% gedaal het.

Alle ander kontakmisdade, waaronder aanranding met die doel om ernstig te beseer en roof met verswarende omstandighede, het in die eerste drie maande van die jaar gestyg.

‘Statistieke weerspieël gevolge van werkloosheid’

Volgens die Vryheidsfront Plus is die jongste syfers ʼn weerspieëling van “misdadigheid wat die gevolg is van ʼn krimpende ekonomie en die desperaatheid van werklose Suid-Afrikaners wat hulle toenemend tot misdaad wend om te oorleef”.

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, sê die statistieke skets ook ʼn onrusbarende beeld van ʼn gewelddadige gemeenskap waar moord en ernstige aanranding aan die orde van die dag is.

Hy sê die wortels van gewelddadigheid in Suid-Afrika is “kompleks” en strek tot “diep in die samelewing”.

“Toestande soos armoede, werkloosheid en hopeloosheid speel ʼn groot rol hierin.”

Groenewald benadruk verder dat die jongste moordsyfers ʼn onheilspellende prentjie van die misdaadsituasie in die land skets.

“In die eerste drie maande vanjaar is 6 289 moorde aangeteken teenoor 6 083 ʼn jaar gelede. In die vierde kwartaal (Januarie tot Maart) van die 2018-’19-boekjaar was daar 4 896 moorde, ʼn toename van 1 393 vir dieselfde tydperk binne net vier jaar,” het Groenewald gesê.

“Verlede jaar is 27 066 mense vermoor. Dit is 2 256 per maand of 76 elke dag. Daar is meer as drie moorde elke uur van die dag en nag in Suid-Afrika.”

Volgens die polisie is boendoegeregtigheid naas rusies die grootste motief vir moord, wat volgens Groenewald ʼn aanduiding is dat lede van die publiek die polisie al hoe minder vertrou en geregtigheid in eie hande neem.

“Dit is ook duidelik dat die regering se pogings om geweld teen vroue en kinders hok te slaan, klaarblyklik nie suksesvol is nie.

“Moord op vroue (969 teenoor 898 ʼn jaar gelede), poging tot moord (1 485 teenoor 1 222) en ernstige aanranding (15 141 teenoor 15 034) het toegeneem.”

‘Misdadigers wen die oorlog’

Die DA sê die syfers toon duidelik dat misdadigers ʼn oorlog in Suid-Afrika voer, terwyl die polisie veels te min doen om dit te beveg.

“Die minister van polisie lei ʼn impotente polisiediens en dit het daartoe gelei dat 6 289 mense tussen Januarie en Maart 2023 gewelddadig vermoor is, terwyl 164 206 mense slagoffers van kontakmisdaad was,” het Andrew Whitfield, die DA se woordvoerder oor polisie, gesê.

“In hierdie 90 dae is ʼn skokkende getal van 146 mense elke dag seksueel aangerand, wat op ses mense elke uur neerkom, oftewel een mens wat elke tien minute van die dag aan die trauma van seksuele aanranding blootgestel word.”

Die DA is ook bekommerd oor die 51,12%-styging in ontvoerings in die laaste kwartaal, wat daarop dui dat misdadigers geensins gevolge vir hul dade vrees nie. Volgens Whitfield dui dit ook op ʼn reusegebrek aan misdaadintelligensie.

“Misdadigers het oorlog in Suid-Afrika verklaar. Misdaad is buite beheer terwyl Cele en die polisie geen vermoë toon om geweldsmisdaad en die opwaartse misdaadneiging in die land te beveg nie.

“Misdadigers vermoor ook polisiebeamptes onbeskaamd en val polisiestasies aan terwyl Cele op sy hande sit. Die misdaadsyfers ontmasker die regering as sag teenoor misdaad en nog sagter teenoor die oorsake van misdaad, terwyl misdadigers die oorlog wen.”

‘Burgers vir eie veiligheid verantwoordelik’

Bennie van Zyl, hoofbestuurder by TLU SA, sê die statistieke beklemtoon weereens dat Suid-Afrikaners vir hul eie veiligheid verantwoordelik is, aangesien die polisie en regering geheel en al faal om landsburgers te beskerm.

“Dit kan toegeskryf word aan die verkeerde beleidsrigting, kaderontplooiing en swak bestuur van die land. Die statistieke beklemtoon verder dat gemeenskappe, veral boeregemeenskappe, op hulleself aangewese is om gesinne, eiendom en ondernemings te beveilig.”

Van Zyl sê voorts dat die polisie se statistieke ook ʼn verwronge beeld van die werklikheid skep, aangesien baie misdaad doodeenvoudig nie meer aangemeld word nie. Dit wys ook geensins die verreikende gevolge wat misdaad op die ekonomie het nie.

“Watter regdenkende maatskappy wil in ʼn land belê waar hulle produkte sal verloor deur vragmotorkapings en diefstal en waar hul onderneming blootgestel word aan 13 gevalle van handelsmisdaad per uur, terwyl hul personeel daagliks blootgestel word aan moord, verkragting en ernstige aanvalle?

“Dit blyk dat Cele se plan om halfopgeleide voetsoldate met luukse voertuie toe te rus, nie die uitwerking het waarop hy gehoop het nie, waarskynlik omdat hy nie opgewasse is om sy taak te vervul nie. Dit sal tot die land se voordeel wees as hy vervang word met iemand wat waarlik praktiese geïntegreerde planne het vir misdaadbekamping, en toegelaat word om dit toe te pas, sonder inmenging van die regering.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Tikkel Tokkel Jimpels Gogga ·

“Same story, different day.!”Solank as wat die ANC in beheer is, solank sal misdaad gedy en buite beheer bly. Hulle kan maar net doodeenvoudig nie “govern” nie. Punt!

Frances ·

Skokkende syfers! Na 16 maande se oorlog tussen Ukraine en Rusland is daar nie eens soveel mense dood soos vanaf Januarie tot Maart die jaar in SA vermoor is nie, hoe wen mens n oorlog teen n onsigbare vyand??

Truth2bfree ·

MOSCOW, April 12 (Reuters) – As many as 354,000 Russian and Ukrainian soldiers have been killed or injured in the Ukraine war which is grinding towards a protracted conflict that may last well beyond 2023, according to a trove of purported U.S. intelligence documents posted online.

Republikein in die Wes Kaap ·

Wentel polisie in die WK af na die provinsie en dit SAL beter gaan.

Minnie ·

Vervang Cele met iemand wat regtig omgee vir burgers van ons land.
Hy het nie n idee wat hy doen nie.
Ons moord syfers is meer as Amerika se moorde. Dit vat nie n genie om te sien iets is nie pluis nie.

SomeOne ·

“Elke moord is een te veel,” het Cele gesê”
want jy is useless cele, jyt gee ruggraad nie, jy word daar gehou omdat rammaparra niks beter aan die saak wil doen nie

Papsak ·

Mense dit is skokkend solank die ANC aan bewind is sal hierdie dinge voort gaan hulle kan nie regeer nie kyk orals om julle rond tyd geword hulle moet uit

Amelia ·

Is net jammer die statisieke wys ook nie wie is die aanvallers en en wie word vermoor en aangerand nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.