KZN ontken voorbehoedmiddel is verpligtend vir beursstudente

Argieffoto

Argieffoto

Die KwaZulu-Natalse departement van gesondheid het ontken dat Suid-Afrikaanse studente wat medies-verwante kursusse in Indië gaan studeer, gedwing is om ‘n voorbehoedmiddel, wat onder die vel ingeplant word, te gebruik.

Desmond Motha, woordvoerder van die departement, sê al die studente wat die voorbehoedmiddel Implanon gebruik, het hul toestemmig gegee. Implanon word onder die vel op die boarm ingeplant en is vir sowat drie jaar effektief.

Die groep van 30 studente het almal beurse gekry van die regering, Rand Merchant Bank en die farmaseutiese maatskappy Cipla. Die studente vertrek vandag na die Universiteit van Manipal in Jaipur, Indië.

Die Daily News het Dinsdag berig dat Sibongiseni Dhlomo, LUR vir gesondheid in KwaZulu-Natal, gesê het: “Ons gaan hulle met Implanon inspuit sodat hulle nie swanger raak nie.”

Dhlomo het by ‘n afskeidsdinee gepraat waar Senzo Mchunu, die provinsie se premier, ook teenwoordig was.

Motha sê al die vroue en hul ouers het berading ontvang rakende die gebruik van Implanon. Hy sê die beurse is nie toegeken op voorwaarde dat hulle Implanon gebruik nie.

Motha sê indien ‘n student swanger raak tydens haar studies, sy moet terugkeer huis toe aangesien daar nie die nodige mediese fasiliteite is nie. Die studente kan nie hul studies uitstel nie aangesien die beurse vir ‘n vasgestelde tydperk is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Paul ·

Hulle gaan medies studeer, maar daar waar hulle studeer, is nie die nodige mediese fasiliteite om na swanger vroue om te sien nie? Klink nie asof dit dan die beste plek is om medies te studeer nie!

Dié petalje is maar net die ANC se sentralebeheer- en anti-vryheid-onderrok wat lekker uitgehang het.

Nick ·

(Suid-Afrikaanse studente wat medies-verwante kursusse in Indië gaan studeer) + (aangesien daar nie die nodige mediese fasiliteite is nie) = ?

Belinda ·

Ek dink dis n baie goeie idee dink net daar gaan so min aborsies wees en verwaarlose kinders en wat dalk later vermoor gaan word……………………

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.