KZN-oorstromings ‘een van duurste rampe’ in 2022

‘n Sinkgat langs ‘n huis in Umdloti. (Foto: Twitter/ eThekwini)

Die oorstromings wat KwaZulu-Natal in April verlede jaar getref het, word as een van die duurste natuurlike rampe wêreldwyd in 2022 beskou.

Dit volgens ʼn verslag deur Christian Aid, ʼn internasionale beweging bestaande uit verskeie kerke en ander organisasies wat die geloof bevorder. Die verslag, wat op 22 Desember bekendgestel is, lys die tien natuurrampe wêreldwyd wat finansieel die meeste skade aangerig het. Die oorstromings in KwaZulu-Natal, wat ongeveer R3 miljard se skade aan infrastruktuur tot gevolg gehad het, is agtste op die lys. Altesaam 459 mense is dood tydens die ramp, wat weens buitengewoon baie reën en swak infrastruktuur veroorsaak is.

Die duurste ramp, volgens Christian Aid, is die tropiese sikloon Orkaan Ian, wat in September meer as 130 lewens in Kuba geëis het. Dié ramp het meer as R100 miljard se skade aangerig. Tweede op die lys is die droogte in Europa, wat van Junie tot September voorgekom het. R20 miljard is bestee om dié krisis te hanteer. Die droogte het geen lewens geëis nie.

Orkaan Ian het mobiele huise verwoes in Holiday Trav-l Park in Emerald Isle, Noord-Carolina. (Foto: Julia Wall/The News & Observer via AP)

Ook op die lys is die oorstromings in China van Julie tot September (R12,5 miljard) en storm Eunice, wat Europa tussen 14 en 19 Februarie getref het (R4,3 miljard).

Al ses die bevolkte kontinente word op die lys verteenwoordig.

“Hierdie buitengewone weergebeure het ongelooflike menslike lyding, voedselskaarste, droogte, lewensverlies en ontworteling tot gevolg gehad,” lui die verslag. “Dan praat ons nog nie van die verwoestende droogte in Oos-Afrika, wat meer as 36 miljoen mense geraak het, waarvan baie nou op die rand van hongersnood leef nie. In Wes-Afrika is meer as 1,3 miljoen mense misplaas en 600 dood weens oorstromings in Nigerië, Kameroen, Mali en Niger.”

Die organisasie skryf die voorkoms van verlede jaar se natuurrampe grotendeels toe aan ʼn “klimaatkrisis”, wat deur eerstewêreldlande veroorsaak is. “Hierdie buitengewone weergebeure en die finansiële én menslike verlies wat dit veroorsaak, noodsaak dringende optrede om die huidige klimaatskrisis te takel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Kosie ·

Ja duurste ramp ooit want 25% van die geld word vir die ramp gebriuk en 75% in kaders se sakke.

Heinrich ·

Het hulle die ramp van die ANC wat in beheer van die land is in ag geneem? Geen natuurramp kom naby nie…

Susanna ·

Berekenings is verkeerd! Duurste ramp is die ANC aan die stuur van sake

Harley Davidson ·

Duurder as die anargie waar sekere van die voorheen benaadeeldes op strooptogte deur die stede gegaan het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.